Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Nuus
Saamstap teen die groot indoena

Die selfoon lui Vrydagoggend. My Pretoria-skoonsuster wat vra: “Wat maak jy?” “Ek gaan nou ’n optog soek.” Ek het toe een gekry op die eiland in Birdstraat oorkant die poskantoor.

In 1967 het ek as Huis Divver ge-march vir warm water in die koshuis. So groot het die amptenare geskrik vir dié vroue dat hulle agter die glasdeure van die Administrasiegebou in Victoriastraat geskuil het. Maar ’n dag later het ons warm water gehad!

Die ANC het gemarsjeer voor 1994, ’n ketting is vir Vrede gevorm om die Braak en teen misdaad het ons almal in die 90’s Braak toe geloop.

Optogte in Stellenbosch is dus nie onbekend nie. Die deursnee van die anti-Zuma-betogers was egter “appies” wat betogings betref, maar aan entoesiasme het dit hulle nie ontbreek nie. Aanvanklik het wit vroue – middeljarig en jonger –- almal met tuisgemaakte plakkate, sommige pittig, ander bitter, aangedrentel gekom, maar gou het die hele reënboognasie ritme en sang aan #ZumaMustFall verleen.

Is dit hoe ’n betoging lyk? Met soveel glimlagte, vriendelike omhelsings en onritmiese toyi-toyi-pogings? ’n Vreemde manier van protesteer, maar die gemoedelike kameraderie met ander wat net so sterk voel oor hul land se toekoms, het soos ’n warm kombers ons omvou.

Dit verg egter nogal moed om met ’n gebalde vuis deur die strate te loop en onder aanvoering van eers Jacques Malan van Rainbow’s End, ’n kreet van“Zuma must fall, fall, fall, fall!” te uiter en veel later vir Hilton Mandela Andries in die sing van die Volkslied te volg.

Die byeenkoms was bedoel om rondom die Braak te bly, maar so iets kry mos ’n lewe van sy eie en ons is op in Pleinstraat en via Ryneveldstraat af in Kerkstraat, met mense wat uit geboue en restaurante peul, handeklap en saam jil. Selfs tot by Merrimanlaan en terug na die stadsaal het die betogers fotomateriaal vir elke kelner, kantoorwerker en klant verskaf.

Gou het die munisipaliteit se verkeersdepartement te hore gekom van die onwettige, maar tog vreedsame, betoging en ’n paar motors afgekeer sodat ons vryelik kon loop. Gelukkig was die meeste bestuurders met ons in die gees en het hulle ons met luide getoetery begroet en vergesel.

Al het die optog soms soos ’n uitgerafelde prettrap gelyk, was ’n president wat nie sy land en mense eer nie, voorop in ons gedagtes. Hoewel ons ná 1994 vryelik kan betoog en ons afkeer aan die Zuptas luidkeels kan lug, wou ’n gevoel van bedreiging van ons swaarverworwe vryheid en ’n vreed-same toekoms my net nie ontwyk nie.

Maar die solidariteit en gemoedelikheid van Stellenbossers by die stadsaal met die sing van die Volkslied het ons weer met ’n ligter tred uiteen laat gaan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.