26 April 13:46
Kaapstad Verander Area

Woensdag

20°C / 16°C

Wind 21km/h

Reënval 0

Humiditeit 78%

Donderdag

20°C / 15°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 76%

Vrydag

22°C / 15°C

Wind 13km/h

Reënval 0

Humiditeit 66%

Saterdag

27°C / 17°C

Wind 21km/h

Reënval 0

Humiditeit 41%

Sondag

20°C / 17°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 77%

Maandag

19°C / 15°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 83%

Nuus
En Rocky dra die geel trui in die Epic

Ek het verlede jaar na die eerste skof van die Absa Cape Epic-bergfietstoer in Tulbagh gaan kyk. Sport inspireer my, maar vir die Epic loop ek lig.

As ek Sesnasies-rugby op die TV kyk, sleur die volksliedere my mee. Wanneer Wallis se spelers daar staan en die skare “Land of My Fathers” sing, weet ek as ék vanaand vir Wallis sou uitdraf, sou ek vernietigend wees – vir die eerste drie minute terwyl die adrenalien hou, dan sal hulle my moet vervang.

Tuis word ek al gespot omdat ek glo tydens boksgevegte dinge sê soos: “Man, ek sal daai ou sommer op ’n Woensdagaand neersit.” Ná ’n Comrades-uitsending gaan draf ek dadelik. Op die TV lyk die Tour de France vir my na kinderspeletjies, asof ek op ’n dikwiel-poskantoorfiets deel van die peloton sou kon bly, terwyl dorpies, kastele en katedrale verbyskuif.

Op die TV is die Epic ook verleidelik: daardie landskapskote uit die helikopter, die kronkelende enkelspoorpaadjies, die trappers wat in die damme weerkaats word, die trane by die eindpunt.

Maar ek het al genoeg bergfietswedrenne (probeer) ry om nie sommer meegevoer te raak nie. Met die Karoo-tot-kus het ek vol vertroue die oggend in Uniondale weggespring en laatmiddag met fiets en al, verneder en emosioneel, agter op ’n lorrie in Knysna aangekom.

Met die To Hell and Back in die Swartberge het ek darem op dag twee die eindpunt gehaal, nadat ek my fiets letterlik die helfte van die roete gestoot het.

Ek het lank ná die prysuitdeling en die lucky draw by die wenpaal aangekom. Die werkspan was al besig om die groot opblaaspoort waardeur die wenners jaag, af te blaas. Ek moes buk om deur te kom, gehawend, soos iemand uit die slottonele van Saving Private Ryan. Die aankondiger was besig om oor iets anders te praat toe hy homself in die rede val met: “Wag, wag, lyk my hier kom nog iemand aan!”

By verlede jaar se Epic het ons hoog bo Tulbagh gestaan en kyk hoe die voorlopers in die verte aankom. Fyn stofstrepies, bult-op, bult-af, bult-op. Hulle seil die opdraandes uit en soos skiërs swiep hulle dan deur die afdraandes se kronkels.

Die twee voorlopers trap by ons verby. ’n Minuut later kom die tweede paar verby, dan nog ’n troppie ryers en dan. . . ’n hond?! ’n Bondel trappers word bult-op gelei deur ’n uitbundige vaalbruin hond. Van die organiseerders kyk effens verskrik na mekaar. Dan roep een van die plaasmense: “Rocky?! KOM HIER!”

Rocky, ’n langbeen-staffie, herken die stem en hardloop waaistert na die man. Die trappers swoesj verby in alle kleure van die reënboog, soos ’n swerm tropiese garnale. Dis een te veel vir Rocky. Hy draai om en sit hulle oop en toe agterna en verdwyn saam met die peloton om die draai. ’n Paar minute later sien ons vir Rocky doer onder steeds kort op die hakke van die voorlopers.

Ek sal die naweek hier in die Hemel-en-Aarde-vallei langs die pad wees om die Epic te kyk, want dit inspireer my selfs meer as “Land of My Fathers”.

(Aangepas uit ’n rubriek deur die skrywer in Die Burger)

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Klik Hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.