Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Nuus
Groot planne om jong roeiers wyd te laat deelneem

Die Paarl Kano-klub hoop om 30 roeiers uit sy ontwikkelingspan saam te neem na die SA skole snelroeikampioenskap wat volgende jaar in Swellendam plaasvind.

Dié kampioenskap word volgende jaar vir die tweede keer in ongeveer 17 jaar weer in die Wes-Kaap gehou en vind plaas tussen 28 en 30 April op die Buffeljagsdam buite Swellendam.

’n Groep van sowat 20 junior K1-roeiers van die Paarl Kano-klub, waarvan 10 uit die ontwikkelingsprogram kom, het verlede week aan ’n oefenkamp deelgeneem ter voorbereiding vir die kampioenskap in 2017. Die klub beoog egter om uiteindelik 30 ontwikkelingsroeiers na die kampioenskap te stuur.

Roeiers moet egter eers vir die kampioenskap kwalifiseer, verduidelik afrigter Wayne August.

“Natuurlik is daar kwalifiseringsrondes. Ons het gewoonlik vier wedrenne as kwalifisering. Drie van hulle is pre-races wat gewoonlik oor snelroeiafstande gehou word. Ons het twee pre-races in Februarie, een in Maart en dan die Western Cape Canoe Union Sprint Championship wat as die laaste kwalifisering dien.”

Die ontwikkelingsprogram is in 1997 gestig deur Robin Graves wat die program met sy eie geld begin het en later finansiering vir toerusting gekry het by die Paarl Rotariërs-klub en Control Instruments.

Graves het later as gevolg van ’n tekort aan finansiële ondersteuning van die ontwikkelingsprogram onttrek waarna Herbert Conradie, destydse klubvoorsitter en August, as afrigter, die leisels oorgeneem het.

Die kinders wat aan die ontwikkelingsprogram deelneem is uit voorheen agtergeblewe gebiede in Paarl-Oos en die Klein Parys-plaasgebied. Hul ouderdomme strek vanaf o. 8 tot o. 23.

August sê die afrigting wat die kinders kry stel hulle in staat om groot sukses in die sport te behaal.

“Alles wat die kinders leer in die sport, is op so ’n wyse dat die kinders leer dat as jy hard werk in die roei sal jy sukses behaal vir dit waarvoor jy oefen. Dit word ook geleer dat as jy hard werk in die skool, kan jy sukses behaal in die lewe.”

Volgens August word die kinders al van dag een af in hul eie kano toegelaat. Twee assistentafrigters, Jermaine Pietersen en Marco Marsh, help met die nuwe roeiers om te verseker dat daar na die veiligheid van elke roeier omgesien word.

“Ons is baie besorgd oor veiligheid. Wanneer die kinders dag een kom, doen ons natuurlik ’n swemtoets. Voordat hulle ook op die water gaan gee ons elk van hulle ’n lifejacket en leer hulle wat om te doen as hulle uitval.”

Vir die kinders om hul volle potensiaal te bereik, het die klub ook ’n naskoolse program. Moses Afrika Kids Empowerment (MAKE) help die kinders met skoolwerk en ander vaardighede aanleer.

“Afrika was een van die eerste Paarl-ontwikkelingsroeiers wat die volle Bergrivier-kanomaraton voltooi het en was een van die eerste roei-rolmodelle wat die kinders in Paarl-Oos gehad het. Hy was my rolmodel en beste vriend,” vertel August.

Hy is in 2006 aan maagkanker oorlede. Die MAKE-program is toe deur Emma Heistein begin.

*Paarl Canoe Club hopes to send 30 canoeists from their development programme to the SA Schools Championships in 2017.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.