Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Nuus
Hy betaal deur sy nek!

’n Pensioenaris van Brackenfell betaal vir die afgelope jaar reeds dubbel sy gewone erfbelasting sedert sy eiedom verlede jaar verkeerdelik met 78% verhoog is.

Sy beswaar is ook later vir onverklaarbare redes deur die Stad afgekeur en eers ná ’n medianavraag laas week, het die Stad erken dat dié waardasie verkeerd was.

Arthur Mulder (80) se huis in Proteahoogte is verlede jaar vir R1,3 miljoen waardeer, terwyl al die ander huise in sy straat teen ongeveer R860 000 gewaardeer is – ’n verhoging van sowat 12%.

“Die snaakse ding is dat al 26 huise in die straat presies dieselfde lyk, met dieselfde grond- en erfplan,” sê Mulder. “Van my bure het swembaddens en lapas, wat ek nie eers het nie en tog is hul eiendomswaardes minder as myne geskat. Hoe is dit moontlik?”

Mulder sê hy het dadelik beswaar aangeteken soos die Stad verlede jaar in verskeie persverklarings adviseer het. “Ek het my beswaar in Maart ingedien en wag tot vandag toe nog vir uitsluitsel,” sê hy. Selfs ’n plaas- like huisagent kon Mulder se huis nie vir meer as R1 miljoen waardeer nie.

In Augustus 2016 het die Stad vir die eerste keer met Mulder in kontak gekom, sê hy, net om hom in te lig dat hy die verkeerde vorms ingevul het.

“In Oktober het hulle vir my nuwe vorms gestuur en dié het ek ook ingevul en weer teruggestuur en sedertdien wag ek steeds,” sê hy.

“Toe ek die amptenare bel, is daar net sonder enige verduideliking vir my gesê dat ek voor die een of ander raad moet verskyn.”

Mulder en sy vrou woon al 20 jaar by die adres en verlaat selde hul huis omdat hulle nie meer maklik beweeg nie. “Ons is in ons tagtigs en loop baie moeilik. Hoewel dit finansiëel baie moeilik is om die ekstra R300 elke maand by te bring, betaal ek dit maar omdat ek bang is my dienste word afgesny.”

Hoe kan hulle nie hul foute raaksien nie? Dis so ooglopend dat selfs ’n laerskoolkind dit sou agterkom
Arthur Mulder

Mulder sê dis bitter onregverdig.

“Hoe kan hulle nie hul foute raaksien nie? Dis so ooglopend dat selfs ’n laerskoolkind dit sou agterkom,” sê hy.

In reaksie op TygerBurger se medianavraag, het die Stad verlede week bevestig dat Mulder se eiendom te hoog waardeer is.

Die Stad bevestig ook dat Mulder se beswaar eers afgekeur is, en dat hy appèl moes aanteken teen die beslissing.

“Mulder se eiendom is volgens die Stad gewaardeer deur dit te vergelyk met die ‘beste vergelykbare verkope van eiendom in die gebied’, maar dié verkope was glo buite die betrokke woonbuurt,” sê Johan van der Merwe, burgemeesterskomiteelid vir finansies. Volgens hom kon die fout egter net reggestel word indien Mulder teen die beslissing van die besluit geappelleer het.

“Die beswaar is egter nou opgelos en ons kan bevestig dat die eiendom eintlik in die omgewing van R1 miljoen waardeer moet word,” sê hy.

Van der Merwe kon egter nie verduidelik hoekom die Stad nie hul fout agtergekom het toe Mulder die eerste keer beswaar aangeteken het nie.

“Maar omdat die kwessie egter nou onder ons aandag gebring is en ons dus die geleentheid het om dit te hersien, sal ons die eiendom herwaardeer. Sodanige herwaardasie sal eers vanaf 1 Julie 2017 van krag wees,” sê hy.

Hy voeg by dat die nuwe waardasiestelsel, wat verlede jaar in werking getree het, eiendomswaardes laat ooreenstem het met werklike markwaardes.

“Minder as 2,5% van al die Stad se huiseienaars het beswaar aangeteken en amper al die besware is reeds opgelos,” sê hy.

TygerBurger wag nog om te hoor of Mulder se verhoogde erfbelasting terugbetaal gaan word.

Nuwe waardasiestelselToe dié nuwe waardasiestelsel verlede jaar in werking getree het, het talle mismoedige huiseienaars hul ongelukkigheid hiermee uitgespreek.

Bonita Conradie van Vredekloofhoogte is van mening dat die Stad se huidige waardasies gebrekkig is en dat huiseienaars se besware geensins in ag geneem word nie.

Conradie van Vredekloof was soos Mulder geskok om te sien dat die waarde van hul eiendom tussen 2012 en nou met ’n enorme 37% gestyg het, terwyl die ander eiendomme in dieselfde straat met oorwegend tussen 10% en 20% verhoog het in dieselfde tydperk.

“Dis baie teenstrydig. Daar is huise wat groter en luukser is as ons s’n en laer waardeer is. Hoe is dit moontlik?” vra sy.

Soos deur die Stad Kaapstad aanbeveel, het sy ook die voorskrifte gevolg om beswaar aan te teken teen die waardasie, net om uit te vind dat hul beswaar summier afgekeur is – en dit sonder dat die Stad enige redes verskaf.

“Ons moet boonop R491 betaal om uit te vind wat die redes is! En dan kan ons eers appèl aanteken.”

Conradie sê dié nuwe stelsel is glad nie meetbaar nie en maak geen sin nie.

“Hoe doen hulle in elk geval hul berekening? Daar was niemand in die gebied om opmetings te doen om die waarde te bepaal nie.”

In antwoord op Conradie se vraag, het ’n munisipale waardeerder by die Stad tevore aan TygerBurger verduidelik dat “vergelykbare verkope” die beste bron van inligting bly om ’n beswaar te motiveer.

Hy het gesê die berekening van eiendomswaardes word as volg gedoen: “Die waardes van alle residensiële eiendomme word deur middel van statistiese rekenaarmodelle bereken.

“Hierdie modelle neem alle verkope rondom die waardasiedatum in ag, asook die waardevormende eienskappe van die verkoopseiendomme en die eienskappe van elke woonhuis wat waardeer word.

“Die waarde van elke eiendom wat op hierdie wyse bepaal word, word dan, indien nodig, deur ’n beroepswaardeerder nagegaan en aangepas.” Hy sê dat dit onmoontlik is vir die Stad om elke drie jaar alle eiendomme fisiek te inspekteer.

“Die indiening van ’n beswaar is ’n geleentheid vir ’n eienaar om die akkuraatheid van sy waardasie te laat ondersoek, en te wysig indien die waardasie verkeerd is.

“Indien ’n beswaarmaker steeds nie tevrede is nie, kan hy hom wend tot die waardasie-appèlraad.

“Die appèlraad is onafhanklik en maak ’n beslissing nadat die beswaarmaker en die waardeerder namens die munisipaliteit hul onderskeie kante van die saak gestel het.”

Hou voet by stuk

Conradie en van haar bure hou egter voet by stuk dat die stelsel net te raaiselagtig is.

“Ons wil presies weet hoe ons munisipale waardasies bepaal word om seker te maak dieselfde beginsels word toegepas,” sê sy.

Andrew Barnard, ’n ander huiseienaar in dieselfde straat, stem saam.

“Die Stad fokus eerder op die partye wat beswaar aanteken en is gou om die beswaarmaker daarop te wys dat jy nie mag verwys na waardasies van ander eiendomme nie.

“Hoe kan dit geregverdig word? As die Stad dan sê dat daardie eiendomme se waardes waarskynlik verkeerd is, hoekom dit dan nie behoorlik ondersoek en regstel nie?” vra hy.

“As dit die geval was, sou daar geen rede vir beswaar gewees het nie,”” meen hy.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.