Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Nuus
Rowers word ‘take-aways’ danksy flinke sekerheidsbeampte

Danksy die vinnige reaksie van ’n sekerheidsbeampte en die hulp van ’n buurtwaglid is twee rowers aangekeer ná ’n rooftog by ’n Steers-wegneemrestaurant in Voortrekkerweg verlede Woensdag.

Colin Siems van Byers Security het aan TygerBurger vertel hy was in Voortrekkerweg op patrollie toe hy die noodalarm om 22:42 ontvang het. Hy was twee minute later op die toneel en het opgemerk dat daar heelwat klante op die sypaadjie voor Steers was.

Hy sê hy het net uit sy bakkie geklim toe hy gesien het hoe mense van die eetplek af begin weghardloop. Hy beweer daar was vyf verdagtes – drie van hulle het in Goodwoodstraat af gehardloop (in die rigting van die spoorlyn) en die ander twee is verder af in Voortrekkerweg. Siems sê hy het in sy bakkie gespring en die mans in Goodwoodstraat agterna gesit. Hy vertel die verdagtes het deur die hek van ’n parkeerterrein geglip waarna hy om die hoek, regs in Goulburnstraat, opgedraai het. Die volgende oomblik het hy die ander twee verdagtes in sy rigting aangehardloop sien kom.

Siems sê hy het sy vuurwapen op die verdagtes gerig en hulle beveel om stil te staan.

Hy het sy wapen gerig gehou op die verdagte wat die naaste aan hom was en op hom geskree: “grond toe, grond toe”. Toe dit lyk of die man sy eie wapen gaan uithaal, het Siems sy vuurwapen oorgehaal waarna die man sy hande in die lug gesteek en op sy knieë afgesak het. Hy sê hy het reeds die man plat op sy maag met sy arms uitgesprei gehad, en het met sy een voet op die man se arm gestaan toe Kevin Palms, ’n lid van die Goodwood-buurtwag, daar opgedaag het.

Palms kon toe die eerste verdagte beveilig deur sy hande met kabelbinders vas te bind terwyl Siems die ander verdagte kon boei. Die polisie was ongeveer vyf minute later daar om die twee weg te neem, sê Siems.

Kapt. Waynne Theunis, woordvoerder van die Goodwood-polisie, het bevestig daar is op ’n vuurwapen beslag gelê en ’n onbekende bedrag kontant is teruggevind.

Die twee mans, onderskeidelik 27 en 28 jaar oud, het reeds in die Goodwood-landdroshof verskyn op ’n aanklag van roof.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.