Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Nuus
Sabina spil waarom alles by tehuis draai

Sabina (of Bientjie) Foster is die matrone by Huis Uitsig in Parow-Noord en die spil waarom alles in dié tehuis draai. Sy laat nie net dinge vlot verloop by die tehuis nie, maar sy is ook die Google-sonstraaltjie daar – as jy iets wil weet, vra net vir Sabina!

“Ek is oorspronklik van Graaff-Reinet, daar gebore en daar grootgeword. Huis Uitsig is vanjaar 40 jaar oud en ek werk die afgelope 32 jaar hier. Ek het Kaap toe gekom om kinders hier te kom oppas wanneer hulle uit die skool gekom het.

“Sy (haar werkgewer op daardie tydstip) het my net op ’n dag gesê dat ek vir my ander werk moet soek en my vriendin, wat toe by Huis Uitsig gewerk het, het my aangeraai om aansoek te doen. En soos die spreekwoord sê: die res is geskiedenis,” lag sy.

Sy het amptelik op 14 Maart 1985 begin en was nie een dag spyt dat sy met die “oudwordende jongmense” werk nie.

“Ek glo dat dit ’n bestiering was toe my vriendin my van die werk vertel het. Ek het hier as die skoonmaker begin en is later tot vloermatrone bevorder,” vertel sy.

Foster weet nie net alles nie, maar as jy iets gedoen wil hê, is sy net ’n oproep ver.

“Ek hou daarvan om met almal te gesels en van die inwoners te leer. Hulle is mos ons leerskool en hulle het al baie lesse uit die lewe geleer, waaruit ek weer op my beurt kan leer,” sê Foster.

Sy is almal se regterhand en die inwoners glo dat hulle sonder haar verlore is.

“My stokperdjies is bak en skoonmaak en my brood is legendaries wanneer ons jaarliks basaar hou. Die brood word sommer ‘Sabina-brood’ genoem en verkoop soos soetkoek,” lag sy. Almal is spesiaal vir haar en alles wat sy by die tehuis doen, doen sy uit haar hart uit en nie omdat dit van haar verwag word nie. “Kyk, destyds op die platteland was daar mos nie eintlik geld waarmee jou ouers jou verder kon laat studeer het nie. Ek het direk ná skool Kaap toe gekom om kinders te kom oppas en het dus geen formele opleiding in verpleging of enige ander werk gehad nie.

“Ek het die skoonmakery gedoen omdat dit deel van my taak as dogter in die huis was en nou is dit vir my soos om elke dag na my inwoners om te sien,” sê Foster.

Huis Uitsig word bestuur deur André Pretorius, wat al 17 jaar by die tehuis is.

Die hoofgebou bestaan uit 9 verdiepings en die versorgingsoord uit 5 verdiepings. Daar is ook 34 woonstelle en die tehuis is deel van die Badisa-groep. Altesame 85 personeellede werk by die tehuis saam met Foster.

“Ons het ’n maatskaplike werker en arbeidsterapeut wat na die ander behoeftes van die inwoners omsien. Ons vier ons 40ste bestaansjaar met ’n opskop op Saterdag 11 Junie, want dis die dag in 1977 toe die tehuis ingewy is,” vertel sy.

Sabina het twee kinders en is ouma van vyf.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.