24 Junie 07:25
Kaapstad Verander Area

Saterdag

15°C / 9°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 63%

Sondag

16°C / 11°C

Wind 20km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Maandag

18°C / 10°C

Wind 9km/h

Reënval 0

Humiditeit 60%

Dinsdag

17°C / 13°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 69%

Woensdag

15°C / 13°C

Wind 40km/h

Reënval 10mm

Humiditeit 79%

Donderdag

14°C / 9°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Nuus
Wyk uit na die platteland

YOU drive yourself too hard,” betig ’n doktersvriendin se Engelse man haar op ’n keer. “You really must learn to take time to stop and smell the profit.”

“Hy het reg,’’ erken sy later teenoor my. “My praktyk is net te besig . . . G’n wonder dit voel ná alles asof iets steeds kortkom nie.”

Menige spook só om die tientalle uiteenlopende aspekte van ’n Westerse lewe te integreer dat dit vrek moeilik word om dít wat regtig vir jou belangrik is, vanselfsprekend na te streef en uit te leef.

Dit is dan ook g’n wonder nie dat al hoe meer stedelinge vir hulle huise aanskaf, van Parys en Prins Albert tot Smithfield en Clarens.

’n Plattelandse lewe beteken allermins ’n sorgvrye bestaan van niksdoen, maar die moontlikheid is groter om te leef volgens wat jou lewenstyl behoort te wees.

Minder is eenvoudig net soveel meer. En as die minder net soms om meer vra, is afstand geensins ’n probleem nie. Gelukkig is daar deesdae iets soos satellietskottels, die internet en blitsige rygoed.

Ná kuiers in Rosendal, wat ’n spanperd van bogenoemde dorpies is, kan ek maar net aan die meerderwaardiges sê: “Salig is ons dan maar wat ‘arm’ van gees is, want daar word gesê dat aan hulle die koninkryk behoort.”

Dit was eens in middel-September dat ek die eerste keer in Rosendal gekuier het.

Dit is bibberend koud. Ongeag die varsgroen wilgers lê die sneeu wit op die blougrys berge. Die radionuus sê paaie in die Oos-Vrystaat word gesluit.

“Die teerpad tussen Senekal en Ficksburg loop verby Rosendal,” verduidelik my vriende wat van Johannesburg kom.

“Maar kyk mooi, die aanwysingsbord daarheen is klein.” Dit was dan ook wel die geval. As jy nie mooi kyk nie, sal jy wraggies verby dié pad net anderkant Senekal ry.

Ons spreek af om mekaar by die kerk, “die imposantste gebou in die dorp”, te ontmoet.

Vir my lyk die sandsteen-Godswoning met sy toring al te veel na ’n Middeleeuse kasteel.

Op ’n standbeeld daarbuite is gegraveer: “Uit Afrikaner-rou is gebore Afrikaner-trou.”

Ook anders as in Europa is die kerk nie omring deur huise nie. Nee, in Rosendal is die wonings ver van mekaar. Erwe lê oop. Die verwagte ontwikkeling het nooit gekom nie.

Die strate het elk ’n naam en een is selfs in die vorm van ’n boulevard met ’n middelmannetjie en bome, die lot.

“Dit is soet,” sou my doktersvriend se Engelse man later sê, én dit goed bedoel.

Soos baie ander plekke langs die trekroete het Rosendal sy naam te danke aan die Voortrekkers.

Die dorp is in 1911 aangelê, maar reeds op 18 Oktober 1837 het die Voortrekker-prediker Erasmus Smit dit aangedui as Roderozendal of Bloemendal.

Hy skryf in sy dagboek dat van die trekkers wild gaan skiet het en pragtige blomme uit ’n “bloemrijk oord” saamgebring het.

Vele door onze ogen nog nooit geziene bloeme . . . zodat ik proponeerde de plaats, waar we nu met’s Gouverneurskamp gekampeerd liggen, Bloemendal of Roderozendal te noemen; overwegende de uitnemend grote rozenrode bloemen de hier in grote menigte gevonden worden: Men behoeft nie eens naar’t veld uit te gaan, om de bloemen te zoeken; maar de aangename geur der bloemen wandelt of komt ons hier in ‘t leger als vanzelf te gemoet.”

Die huis waar ons die naweek bly, het nie elektrisiteit nie. Die aande voel lank.

Daar is g’n televisie nie. Die battery van die skootrekenaar is ná ’n ruk pap.

Tog is dit nie ondraaglik nie.

Ons berei almal saam ’n maal by kers- en lamplig voor.

Die Aga hou die koue buite terwyl daar aangesit word vir witte-aspersiesop met broccoli en croutons. Wilde seebaars (aangery uit Johannesburg) gebak in olyfolie vorm die hoofgereg.

Ons kuier tot laatnag.

Die volgende môre vertel my vriendin: “Terwyl die wind die huis laat kraak het, was ek lanklaas so bewus van my eie bestaan as deur die nag onder die snoesige duvet.”

Sy wil nog verder vertel, maar haar selfoon lui. Ja, Rosendal het wel (ongelukkig?) selfoonontvangs.

’n Maand en ’n half later is ons terug.

Dit voel snaaks om ’n kortbroek te dra, terwyl ysblokkies aanloklik klingel ná die bibberweer die vorige keer.

Die laatmiddag se hitte is onweerstaanbaar.

Die landerye staan geil en die irisse blom in die tuin. Ons eet waatlemoen. Die kinders bou dammetjies en dorpies langs die huis.

Ons lê op die gras, sluit ons oë en luister: die geruis van blare in die wind, voëls in die bome, die stille gezoem om ons heen . . .

Kinders verdwaal in ’n spel, ’n aansteeklike gelag, spattende water, die vrolike geblaf van ’n hond . . .

May you live as long as you want, and never want as long as you live,” merk my doktersvriendin se wederhelf op.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Klik Hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.