Kaapstad Verander Area

Vandag


22°C / 14°C

Wind 12km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 74%

Donderdag


22°C / 15°C

Wind 32km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 69%

Vrydag


23°C / 15°C

Wind 37km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 61%

Saterdag


24°C / 14°C

Wind 37km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 52%

Sondag


27°C / 16°C

Wind 24km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 48%

Maandag


24°C / 16°C

Wind 35km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 62%

Nuusflitse
Mthembu steeds in intensiewe sorg – ANC Man tronk toe wat stiefdogter verkrag Nene: Staat se gordel sal styf ingetrek word Man sterf toe hy van afleweringsvoertuig val Senzo Mchunu se vrou moet uit pos bedank - IVP Snik, gemmerkoekies word geslagloos Indonesië onderskep Australiese vliegtuig Duitsland stuur tieners terug wat glo by IS wou aan sluit KZN-mans lank tronk toe vir verkragting Kerkramp: Suid-Afrikaners se lyke steeds nie terug nie Heyns-moordsaak: Broer gaan dalk teen broer getuig SOE: Wil nie Nkandla-eis instel teen Jacob Zuma Oscar Pistorius: Eerste dag in die tronk Bloemfonteiners is ongesond, Kapenaars gesond Joodse mans ontevrede oor vroue-advertensies 5 jaar vir Pistorius Wraak-porno: Facebook moet IP-adresse verskaf Neusselle laat verlamde man wéér loop Oscar se beproewing sal nóóit verby wees nie - Aimée Bejaarde egpaar al vier keer beroof Oscar de la Renta sterf Weduwee onthul hoe PW nee sê vir staatshulp Panda's gee bewaarder grys hare Vier mans vas ná suuraanvalle op vroue Seun kritiek ná partytjie-verkragting WGO verklaar Nigerië Ebola-vry Britse toeristemoord: Verdagtes glo fisiek mishandel Japan: Twee vroueministers bedank weens korrupsie Indiese marathon ontaard in klug China skenk voedsel vir Ebola-lande Somerset-Wes: Vroue-rower skiet wag JZ: Waarom kritiek oor Nkandla - wat van PW? Texas: Ebola-personeel hoor vandag
Nuus

‘Ek is trots op my soldate’

Kolonel vertel van dapperheid in Slag van Bangui

Deur Dana Snyman Vrydag 10 Mei 2013 10:38 nm.
Die Slag van Bangui in die Sentraal-Afrikaanse Republiek was een van die hewigstes waarby Suid-Afrikaanse soldate al betrokke was. Dana Snyman het gesels met kol. William Dixon, wat in bevel van die soldate was.

VIR kol. William Dixon is die Slag van Bangui in die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) nog nie heeltemal verby nie. Hy dink nog knaend daaraan.

“Ek is trots op my soldate,” sê hy. “Daar was nie een geval van die weiering van wettige opdragte of van lafhartigheid nie. Nie een van hulle het weggehardloop nie.” Anders as die SAR se presidensiële soldate, wat glo gevlug het toe die eerste skote klap.

“Ek weet nie hoekom is die publiek so negatief oor ons soldate nie. Mense sal verbaas wees as hulle sien hoe patrioties en toegewyd ons soldate is.”

Dixon het besluit om die eerste keer sy storie te vertel, want in die laaste ruk is allerhande, volgens hom, onwaar bewerings gemaak oor die Slag van Bangui, soos dit in die binnekringe genoem word.

“Party mense sê ons het teen kindersoldate geveg. Dis nonsens, man. As daar kinders op die slagveld was, het ek hulle beslis nie gesien nie.”

Dis ’n koel Saterdagoggend, presies drie weke ná die slag, en ons sit aan ’n tafeltjie in ’n restaurant in Centurion in Pretoria. Langs hom sit sy vrou, Brenda, met wie hy al meer as 20 jaar getroud is.

Ammunisie

“Ander sê weer ons het nie genoeg ammunisie gehad nie. Dis ook snert,” sê Dixon. Hy rits die name af van die wapens en hoeveel ammunisie gebruik is: Sowat 12 000 skote is met 12,7 mm-masjiengewere geskiet en meer as 200 mortierbomme is gelanseer. Dan was daar nog die sowat 60 vuurpyle en die derduisende skote wat met die kleiner masjiengewere geskiet is.

Die gesaghebbende militêre kenner Helmoed-Römer Heitman meen die Slag van Bangui is een van die hewigste veldslae waarby ons weermag al betrokke was.

Dixon (48) stem saam. Hy is al die afgelope 31 jaar ’n beroepsoldaat. Eers was hy in die infanterie; later by 1 Valskermbataljon in Bloemfontein. Hy het lank diens gedoen in die operasionele gebied in die ou Suidwes en Angola. Hy hét al voorheen oorlog gesien.

“Bangui was ’n skrikwekkende ervaring.” Hy laat sak sy kop en kyk na sy hande wat voor hom op die tafel rus.

Die slag het die Vrydagmiddag begin. Die Sondagoggend, toe ek ná ’n bietjie rus opstaan, het ek nie gedink ons gaan oorleef nie. Ek het in die donker gestaan en bid, en gesê: ‘Hemelse Vader, as U my vat, vat my gou.’ ”

Hulle was omsingel deur tussen drie- en seweduisend rebelle.

Dixon is in Januarie vanjaar na die SAR gestuur. Hy en sy sowat 200 soldate het opdrag gehad om die reeds ontplooide Suid-Afrikaanse Weermag-kontingent daar te gaan bystaan. Oor die politiek rondom die SANW se betrokkenheid in die SAR wil hy hom nie uitlaat nie. Hy is ’n soldaat, nie ’n politikus nie.

Aanvanklik het alles taamlik kalm en rustig verloop by hul basis in Bangui, die hoofstad van die SAR.

“Die bevolking het ons met ope arms ontvang. Drie plaaslike mense het ook as arbeiders vir ons in die basis gewerk. Een se naam was Lucienne. Hy was so ’n kortetjie, met yslike groot voete. Hy het altyd plakkies gedra.”

“Vertel van die predikant,” por Brenda hom aan.

“ ’n Plaaslike predikant het vir ons kerk kom hou. Ons het later vir hom twee blikke verf geskenk sodat hy sy kerk daarmee kon verf. Baie van my soldate is toegewyde Christene.”

Slag van Bangui

Maar mettertyd het die spanning in Bangui en die res van die land toegeneem. Die sogenaamde Seleka-rebelle was besig om die beheer van die land oor te neem, en Francois Bozizé, die land se president, het na Kameroen gevlug.

En toe, op Vrydag 22 Maart, breek die geveg tussen die Seleka-rebelle en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag-kontingent uit – die geveg waarin 13 Suid-Afrikaanse soldate dood en 27 gewond of beseer is. Die Slag van Bangui.

“Die soldate wat dood is . . . ” Dixon bly ’n rukkie stil en verander dan die gesprek se rigting. “Ek het vir drie dae byna niks geslaap nie. Jy gaan net aan en aan. By tye was ons en die rebelle teenaan mekaar.

“Al my soldate was swart. Daar was net een wit outjie. Smittie. Smittie en so ’n groot Portugees, Blackbox, was buddies. Blackbox was in 32 Bataljon. Hy en Smittie was verantwoordelik vir die veiligheid van die HK-voertuig waarop ek was. Hulle is onafskeidbaar, Smittie en Blackbox.

“Op ’n kol, toe dit ’n bietjie stiller gaan, sê Smittie vir my: ‘Kolonel, my mes is weg.’

“Ek dag toe: ‘Smittie, ná alles wat gebeur het, gee ek nie ’n donner om wat met jou mes gebeur het nie. Maar ek vra toe maar: ‘Nou wat het met jou mes gebeur, Smittie?’

“Toe antwoord Smittie: ‘Ek het dit in iemand se borskas in gedruk en toe vergeet ek dit daar, kolonel.’

“Smittie het nie ’n cowboy probeer wees nie. Dís hoe naby ons aan die vyand gekom het. Een van die rebelle wou Smittie met die geweer se kolf slaan.”

Y-kruising

Die 13 soldate is almal by die sogenaamde Y-kruising doodgeskiet. Dit is buite Bangui waar die pad na Damara uitdraai. “Die geveg by die Y-kruising was hewig. Een van my sersante het daar ses rebelle geskiet, terwyl hy self swaar in die been gewond is. Ons het hom aanbeveel vir ’n medalje.”

’n Finale besluit moet nog geneem word, maar daar word aanbeveel dat minstens 20 van die soldate wat aan die slag deelgeneem het, ’n hoë eerbewys vir dapperheid en leierskap ontvang.

“Ons kon nie dadelik al die lyke uit die gebied naby die Y-kruising kry nie. Ons het teruggeval na die basis toe, en toe is ons omsingel. Die rebelle was goed bewapen. Hulle het buitelandse hulp gehad.

“Die Sondagoggend, toe ek daar in die basis staan en bid, toe kom Lucienne by my. ‘How are you?’ vra ek hom. Toe bars hy in trane uit. Hy huil dat hy so snik, want hy het van ons soldate geken wat geskiet is.”

Later die Sondag het van die rebelleleiers na die basis gekom en met Dixon-hulle begin onderhandel vir ’n skietstilstand. Teen nege-uur die aand was die geveg verby.

“Ek het net een keer gehuil in die hele storie. Dis toe ek in die siekeboeg kom ná die tyd. Weet jy hoe lyk ’n slagplaas? Dis hoe ’n siekeboeg lyk na só ’n slag.

“Dit was ook ’n gesukkel om al die lyke te kry. Ek het my laaste 140 euro’s vir ’n burgerlike gegee wat kom sê het hy kan een van die lyke vir ons bring, mits ons hom betaal. Toe gee ek vir hom die geld en sê: ‘Dè, vat die geld. Bring net my man vir my.’ ”

Hoewel daar in die SAR selfoonontvangs was, was daar tydens die slag nie veel tyd vir Dixon en sy soldate om Suid-Afrika toe te bel nie.

“Ek het my bevelvoerder in Suid-Afrika gebel,” sê Dixon, “maar ek het vir hom gesê hy moet nie vir Brenda sê wat is besig om te gebeur nie.”

Hy en Brenda het die gewonde soldate wat na 1 Militêre Hospitaal in Pretoria gebring is, gereeld gaan besoek. Brenda het selfs vir hulle pannekoek gebring. Hy en Brenda het ook die begrafnisse van die gesneuwelde soldate bygewoon.

“Ek het persoonlik met hul gesinne gaan praat. Die ouers met wie ek gepraat het, was nie een vol haat of woede teenoor die regering nie.

“Ons het ’n taak gehad om te doen en ons het dit goed gedoen.”