Kaapstad Verander Area

Vandag


20°C / 14°C

Wind 26km/h


Reënval 2.0mm


Humiditeit 67%

Woensdag


21°C / 15°C

Wind 31km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 71%

Donderdag


23°C / 14°C

Wind 27km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 56%

Vrydag


23°C / 14°C

Wind 35km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 62%

Saterdag


26°C / 17°C

Wind 26km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 52%

Sondag


28°C / 15°C

Wind 17km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 41%

Nuus

Hummer: Hy kry 6 j. ná 2 sterf

Landdros: ‘Jy moes beter gekyk het’

Deur Hanti Otto Saterdag 01 Junie 2013 12:16 vm.

’n Motorvoertuig is ’n gevaarlike instrument. Tronkstraf mag dalk die enigste manier wees om bestuurders te herinner om ’n voertuig versigtig te hanteer.

So het landdros Ben van Schalkwyk gesê toe hy gister die Hummer-bestuurder wat in twee motorfietsryers vasgejaag het tot effektief ses jaar tronkstraf gevonnis het.

Indi Himalindi Chiyabu (32) het met saamgeperste lippe en sweetdruppels wat op sy bolip gepêrel het, na die vonnis in die Pretoria-Noord-streekhof geluister.

Die hof het ná die vonnis sy aansoek om verlof om teen die skuldigbevinding en vonnis te appelleer toegestaan, maar borgtog geweier.

Chiyabu is in aanhouding vandat hy in Februarie skuldig bevind is op twee aanklagte van strafbare manslag.

Dié Zambiese boekhouerklerk is ook skuldig bevind op aanklagte dat hy versuim het om op die ongelukstoneel vas te stel of iemand beseer is, die skade te bepaal en dat hy die toneel verlaat het sonder om die ongeluk aan te meld.

Die motorfietsryers, Pieter Coetzee en JP Kruger, is op 16 Oktober 2010 op die toneel in Pretoria-Noord dood. Coetzee se seun, Pieter jr., het oorleef, maar sy been verloor.

Hulle was lede van die Christelike Motorfietsryersvereniging en op pad na ’n gebeds- byeenkoms.

Die Hummer-voertuig het reg van voor in die drie vasgejaag en aan die brand geraak.

Chiyabu het vroeër gesê hy het in Rachel de Beerstraat gery en iets agter hom gehoor.

Hy het omgekyk. Toe hy terugkyk, was hy in die baan van die aankomende verkeer en die motorfietse reg voor hom.

Coetzee jr. het gister in sy rolstoel in die hof gesit met ’n geboë hoof. Hy het net sy kop instemmend geknik toe die landdros sê kringtelevisie-beeldmateriaal van die ongeluk het duidelik gewys die motorfietsryers het stadig en in die regte baan gery.

“Die beskuldigde se roekeloosheid het die ongeluk veroorsaak. Dit het tot die dood van twee mense en ernstige beserings van ’n derde gelei.

“Die motorfietsryers het nie sommer net uit ’n vliegtuig geval nie. As die beskuldigde waaksaam was en nie teruggekyk het nie, sou hy die Hummer in sy regte baan kon hou,” het Van Schalkwyk gesê.

Hy het verwys na getuienis van ao. Werner van den Bergh, ondersoekbeampte, dat daar in die jaar van dié ongeluk 86 sake van strafbare manslag net in die Pretoria-Noord-omgewing was.

“Landwyd sterf mense omdat ander nie hul voertuie met die nodige versigtigheid bestuur nie. Die heiligheid van menselewens moet beskerm word,” het die landdros gesê.