Kaapstad Verander Area

Vandag


25°C / 16°C

Wind 33km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 50%

Sondag


26°C / 16°C

Wind 28km/h


Reënval 0.1mm


Humiditeit 58%

Maandag


20°C / 16°C

Wind 30km/h


Reënval 40.8mm


Humiditeit 86%

Dinsdag


22°C / 15°C

Wind 18km/h


Reënval 0.4mm


Humiditeit 68%

Woensdag


23°C / 16°C

Wind 31km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 68%

Donderdag


25°C / 16°C

Wind 36km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 61%

Nuus

Hof: ‘Terug tronk toe’

Waterkloof-2 se korrektiewe toesig verby

Deur Jeanne-Marié Versluis Donderdag 13 Junie 2013 12:39 vm.

Twee lede van die sogenaamde Waterkloof-vier wat 18 maande gelede onder korrektiewe toesig uit die tronk vrygelaat is, is stomgeslaan nadat hulle gister beveel is om terug te gaan gevangenis toe.

Drie regters van die hooggeregshof in Pretoria het hulle beveel om op 10 Julie weer by die tronk aan te meld.

Die hof het Reinach Tiedt en Gert van Schalkwyk – wat elk net minder as drie en ’n half jaar tronkstraf uitgedien het – beveel om na die Zonderwater-tronk in Cullinan terug te keer om hul tronkstraf te hervat.

Dié twee, asook Christoff Becker en Frikkie du Preez, het elk 12 jaar tronkstraf gekry omdat hulle in 2001 as tieners ’n onbekende man in ’n Pretoriase park vermoor het.

Tiedt se pa, Christoff Tiedt, het gister oor die uitspraak gesê: “Ons is stomgeslaan. Ons verstaan dit nie.”

Jenny Brewis, die twee se prokureur, het gesê hulle lees die uitspraak nog en sal regsadvies inwin oor of hulle aansoek gaan doen om daarteen te appelleer.

Indien ’n aansoek om verlof tot appèl na die appèlhof gebring word, moet dit binne 15 werkdae by die hooggeregshof ingedien word.

Regter Hans Fabricius het gister in die uitspraak gesê dit sal erg onbillik en onmenslik wees om Tiedt en Van Schalkwyk te beveel om dadelik terug te gaan tronk toe. Albei het werk en verantwoordelikhede.

Hulle moet tyd kry om hul sake te reël sodat ander instellings en mense wat deur die bevel geraak word, so min as moontlik verontrief word.

Die volle bank het uitspraak gelewer in die minister en die kommissaris van die departement van korrektiewe dienste (DKD) se aansoek dat streeklanddros Peet Johnson van Pretoria se bevel op 15 Desember 2011 – waardeur die tronkstraf in korrektiewe toesig omgeskep is – tersyde gestel moet word.

Die kommissaris het aangevoer hy en die minister het nie geweet die Zonderwater-paroolraad het die omskeppingsaansoeke voor Johnson gebring en dat Johnson dit sou aanhoor nie. Fabricius het gesê die Strafproseswet lui duidelik so ’n omskeppingsaansoek kan nie gebring word as ’n gevangene se vrylatingsdatum meer as vyf jaar in die toekoms is nie. Die twee se tronkstraf was veronderstel om op 10 Februarie 2020 te verstryk, nege jaar die toekoms in.

Hy het gesê Johnson het nie die jurisdiksie gehad om die omskeppingsaansoeke aan te hoor nie en die regsmenings waarop hy en die paroolraad gesteun het, was verkeerd.

Fabricius het gesê dis nie sy plig om aan die DKD voor te skryf hoe om Tiedt en Van Schalkwyk te hanteer in die konteks van parool nie.

Hy het wel gesê die twee is geskikte kandidate vir die omskepping van hul tronkstraf in korrektiewe toesig op ’n datum wat nie langer as vyf jaar voor hul vrylatingsdatum is nie.

Wanneer hulle egter voor dan vir parool in aanmerking kom, behoort dit gunstig oorweeg te word.

Johnson het nié grof onreëlmatig opgetree in die konteks van wat voor hom geplaas is nie, het Fabricius gesê.