Kaapstad Verander Area

Vandag


25°C / 16°C

Wind 27km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 63%

Dinsdag


30°C / 17°C

Wind 27km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 44%

Woensdag


23°C / 17°C

Wind 43km/h


Reënval 3.0mm


Humiditeit 66%

Donderdag


23°C / 15°C

Wind 19km/h


Reënval 6.8mm


Humiditeit 67%

Vrydag


23°C / 15°C

Wind 33km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 56%

Saterdag


27°C / 16°C

Wind 24km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 47%

Nuus

voorval in kaap op r300

‘Kapers gooi man van brug’

Motor in Kimberley opgespoor

Deur Blanché de Vries Vrydag 14 Junie 2013 4:19 vm.

Die R300-brug by die N1-kruising.

KAAPSTAD. – Kapers het glo ’n man van die R300-brug afgestamp – hy het nie gespring nie.

Hy het sowat 15 m ver na sy dood geval.

Só het Luis de Faria (42) se vrou, Tania (41), gesê nadat sy gisteroggend deur die polisie in kennis gestel is dat haar man se lyk die een is wat Woensdag in ’n sloot langs die N1 gelê het.

Tania het haar man Woensdagoggend laas gesien toe hy in haar motor van hul huis in Welgemoed vertrek het. “Die polisie het gesê die motor is deur twee mans en ’n vrou gekaap. Hulle het daarna sy lyk by die R300-brug afgegooi,” het sy gesê.

Luis, wat sy eie onderneming uit sy huis bestuur het, was Woensdag op pad Kaapstad toe, het sy gesê.

Kapt. Frederick van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het gister gesê die lyk is Woensdag omstreeks 12:00 gevind. “Ooggetuies wat deur die polisie ondervra is, het bevestig dat hulle ’n man van die brug sien val het.”

’n Geregtelike doodsondersoek is geopen, maar die voorval word tans as ’n moontlike moord deur die polisie ondersoek. “Alle leidrade en inligting word opgevolg.”

Die vermiste voertuig, ’n silwer Opel Zafira, is gisteroggend in Kimberley gevind en drie mense is in hegtenis geneem in verband met die besit van moontlik gesteelde goedere.

“Geen verdere inligting kan in dié stadium bekend gemaak word nie. Die ondersoek is in ’n baie sensitiewe stadium,” het Van Wyk gesê.

Die De Farias het twee seuns en ’n dogter.

“Onder die omstandighede gaan dit goed, maar die kinders is baie emosioneel,” het Tania de Faria gesê. Sy wou daarna geen verdere kommentaar lewer oor haar man of die voorval nie.

Sy het wel gesê: “ ’n Regstelling oor sy dood moet geplaas word. Hy het nie afgespring nie. Dit wat gepubliseer is, is nie waar nie.”

Die Burger het gister berig die polisie ondersoek die dood van ’n man wie se lyk in ’n sloot onder die R300-brug langs die N1 gevind is nadat hy, volgens polisie-inligting, na bewering van die brug afgespring het. Ander media het berig die oorledene is ná ’n argument met ’n vriend afgestoot.

Enigiemand met inligting of wat kan help met die ondersoek, kan lt.kol. Hanlie Theron by 076 983 5425 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel.