Kaapstad Verander Area

Vandag


25°C / 16°C

Wind 12km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 68%

Donderdag


23°C / 15°C

Wind 32km/h


Reënval 0.1mm


Humiditeit 68%

Vrydag


25°C / 16°C

Wind 33km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 55%

Saterdag


26°C / 16°C

Wind 36km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 57%

Sondag


26°C / 17°C

Wind 26km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 60%

Maandag


23°C / 15°C

Wind 40km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 64%

Nuus

‘Kla drywer aan van manslag’

Polisie kyk nou na erge botsing

Deur Jody Nel Dinsdag 18 Junie 2013 11:41 nm.

Barry Combrink Foto: Cornél van Heerden

Die Johannesburgse metropolisie (JMPD) meen die bestuurder van ’n wegholvragmotor wat Vrydag in Roodepoort vier mense se dood veroorsaak het toe hy in 15 motors vasgery het, moet van strafbare manslag aangekla word.

Hy het glo nie gerem nie, beheer oor die steenkoolvragmotor verloor, in motors voor hom geploeg, oor ’n rooi verkeerslig gery en stilstaande motors in die baan vir aankomende verkeer getref.

Insp. Edna Mamonyane, JMPD-woordvoerder, het gister gesê hul ondersoekbeampte meen die bestuurder moet gearresteer word. “Sy voorlopige ondersoek dui daarop dat die bestuurder nie gerem het nie en dus roekeloos was.”

Twee mense is Vrydag op die toneel dood en nog twee het later in die hospitaal gesterf.

Nog 18 mense is in die ongeluk in William Nicol-rylaan, langs die Flora-kliniek in Floracliffe, beseer.

Konst. Vincent Mashiteng, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie het pas die ondersoek by die JMPD oorgeneem.

Hul ondersoek is nog nie afgehandel nie weens die groot getal motors en beseerdes wat betrokke was. “Ons ondersoekbeampte moet nog die vragmotorbestuurder in die Helen Joseph-hospitaal besoek om sy verklaring te kry.”

Volgens Mashiteng moet hulle ook nog verklarings van die beseerdes en ooggetuies kry.

Marinda Combrink se nek en bekken is in die ongeluk gebreek en ’n rib het haar long deurboor.

Barry Combrink, haar man, het gister gesê hy het geen kwade gevoelens teenoor die bestuurder nie.

“Wat kan ’n ou doen? Dit het gebeur. Ons wil eerder positiewe dinge najaag.”

Hy het gesê sy vrou herstel vinniger as verwag. Sy sal tot ná die naweek in die waakeenheid van die Milpark-hospitaal gehou word. Dokters sal dan ’n besluit neem oor verdere behandeling.

Al is Combrink se nek gebreek, is sy nie verlam nie. Sy sal minstens drie maande ’n nekstuk moet dra en vir rehabilitasie gaan om weer te leer loop.

Volgens hoofsupt. Wayne Minnaar, JMPD-woordvoerder, moet ’n oorledene nog uitgeken word.

Mashiteng het gesê sodra die polisie hul eie ondersoek afgehandel het, sal die dossier na die senior staatsaanklaer gaan wat sal besluit of die bestuurder vervolg gaan word.