Kaapstad Verander Area

Vandag


23°C / 16°C

Wind 27km/h


Reënval 0.4mm


Humiditeit 75%

Maandag


25°C / 16°C

Wind 32km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 58%

Dinsdag


29°C / 17°C

Wind 24km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 46%

Woensdag


22°C / 16°C

Wind 41km/h


Reënval 12.9mm


Humiditeit 72%

Donderdag


22°C / 15°C

Wind 19km/h


Reënval 5.5mm


Humiditeit 66%

Vrydag


22°C / 15°C

Wind 24km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 63%

Nuus

Nek af, maar nie verlam ná lorrie tref

Deur Leané Meiring Dinsdag 18 Junie 2013 12:25 vm.

Marinda Combrink saam met haar man, Barry, en dogter, Jaimy-Leigh.

“Ek belowe dit was nie my skuld nie.”

Dit was Marinda Combrink se eerste woorde aan haar man nadat haar motor Vrydag deur ’n wegholvragmotor in Floracliffe, Roodepoort, getref is.

Combrink moes met lewenskake uit haar Hyundai i10 gesny word nadat ’n vragmotorbestuurder op die afdraand in William Nicol-rylaan beheer oor die vragmotor verloor en in talle motors vasgeploeg het.

Vier mense is in die ongeluk dood en 18 beseer.

Combrink is in ’n ernstige toestand in die Milpark-hospitaal se waakeenheid in Johannesburg.

Haar nek en bekken is gebreek en ’n rib het deur haar een long gesteek.

Haar man en twee van haar drie kinders het gister buite die hospitaal gesê dit is ’n wonderwerk dat sy leef.

“Sy onthou die ongeluk. Sy het sukkel-sukkel aan my gesê dat sy gesien het hoe die lorrie oor motors stoomroller.

“Sy het geweet hy gaan haar tref, maar daar was niks wat sy kon doen nie,” het Barry, haar man, gesê.

Combrink was op pad na die gesin se huis in Witpoortjie, Roodepoort, om haar dogter, Jaimy-Leigh, te gaan oplaai.

“Sy het vir my ’n SMS gestuur wat sê sy is amper by die huis. Toe sy ’n uur later steeds nie by die huis was nie, het ek geweet iets aakligs het gebeur,” het Jaimy-Leigh gesê.

Barry het die oproep oor sy vrou se ongeluk as een van die “aakligste oomblikke van my lewe” beskryf.

“Niemand kan jou vir só iets voorberei nie. Ons het dadelik begin bid en die hele gemeenskap, almal wat haar ken, het saam met ons gebid. Ons dien ’n lewende God. Dit kon baie erger gewees het.”

Die gesin was gister opgewonde omdat Combrink se dokters optimisties is oor haar toestand.

Prof. Kenneth Boffard het gesê sy is baie gelukkig.

“Haar nek is op ’n kritieke plek gebreek. Dit dompel die meeste mense in ’n permanente staat van verlamming. Sy is egter nié verlam nie en daar is ’n kans dat sy sonder enige operasie sal herstel.”

Boffard het gesê Combrink sal minstens vir twee weke nog in die hospitaal wees waarna sy intensiewe rehabilitasie sal ondergaan om weer te leer loop.

“Ons was so bang, maar vandag is ons vol moed dat sy ten volle gaan herstel. Ons kan nie wag om haar te bederf nie,” het Barry gesê.

Edna Mamonyane, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie (JMPD), het gesê ’n saak van strafbare manslag is geopen en word ondersoek.

Niemand is nog aangekla nie.

Twee vroue wat in die ongeluk dood is, is uitgeken as Sandra Southgate (36), en T. Ferreira (59).

Die ander oorledenes se naasbestaandes is nog nie gevind nie en hul name is gevolglik nog nie bekend gemaak nie.