Kaapstad Verander Area

Vandag


23°C / 14°C

Wind 21km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 53%

Saterdag


23°C / 14°C

Wind 20km/h


Reënval 0.1mm


Humiditeit 51%

Sondag


22°C / 17°C

Wind 22km/h


Reënval 0.4mm


Humiditeit 62%

Maandag


25°C / 16°C

Wind 31km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 51%

Dinsdag


24°C / 15°C

Wind 32km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 60%

Woensdag


24°C / 17°C

Wind 17km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 55%

Nuus

Mandla se ‘Nkandla’

Niemand mag glo by toeriste-oord ingaan nie

Deur Verslagspan Woensdag 03 Julie 2013 3:21 vm.

JOHANNESBURG. – Mandla Mandela, oudpres. Nelson Mandela se kleinseun en stamhoof van Mvezo in die Transkei, word daarvan beskuldig dat hy ’n gemeenskapstrust kaap en persoonlik munt slaan uit die uitgebreide infrastruktuur-ontwikkeling in dié nedersetting.

In die laaste drie jaar het die departemente van toerisme, landelike ontwikkeling en gesondheid saam reeds minstens R200 miljoen bestee om die infrastruktuur in en om Mvezo dramaties te verbeter.

Die Mvezo-ontwikkelingstrust, waarvan Mandela jr. ’n trustee is, sal die kultuursentrum van R43,2 miljoen einde vanjaar by die departement van toerisme oorneem. Die opbrengs is veronderstel om die arm inwoners van die omgewing te bevoordeel.

Dit het uitgebreide huisvesting, ’n museum, ’n konferensiesentrum en ’n restaurant.

Mtshutshisi Tyalakhulu, ’n voormalige trustee, het gesê Mandela jr. het die plaaslike gemeenskap geboelie en sonder behoorlike konsultasie besluite namens die trust geneem.

Hy het Mandela jr. daarvan beskuldig dat hy die trust vir eie gewin gebruik, iets wat die stamhoof ontken.

“Toe sommige van ons sy besluite en die feit dat hy banktransaksies sonder die teenwoordigheid van ander trustees aangaan bevraagteken het, is ons uitgeskop,” het Tyalakhulu gesê.

“Sy bestuurders het vir my en David Nokayi (’n ander trustee) gesê ons is vervang. Dit is duidelik dat hy die gemeenskap gebruik om geld na die trust te trek en dit dan self beheer.”

Tyalakhulu en twee ander trustees het Mandela jr. in 2011 voor die hof gedaag om die ontwikkeling te keer, maar het op ’n tegniese punt verloor.

Freddy Pilusa, Mandela jr. se woordvoerder, het gesê die gemeenskap is tevrede met die Mvezo-ontwikkelingstrust omdat dit werk. “Dis ontevrede mense wat media-aandag soek wat kla. Die rede waarom die ontwikkeling gesluit is, is omdat daar nog gebou word.”

Die oord herinner aan Nkandla met meer as tien rondawels, ’n reuse-herehuis met ’n grasdak en nog twee groot grasdakgeboue. Die departement van toerisme het ontken dat die regering Mandela jr. se private woning finansier.

Bouwerk aan nóg geboue word gedoen en ’n veiligheidsheining en hek is onlangs opgerig. ’n Splinternuwe plaveisteenpad kronkel sowat 12 km ver van die N2 tot by die reuse-oord waar Mandela jr. bly. Verder is dit ’n slegte grondpad.

In opdrag van Mandela jr. het nie eens Mvezo-inwoners toegang tot die kultuursentrum nie. Twee aggressiewe gesante in ’n bussie waarop Mvezo Cultural Experience staan, het joernaliste gister die plek belet.

“Julle kan net ingaan as julle hier werk,” het ’n informele hekwag gesê en bygevoeg hy weet dit is ’n regeringsprojek, maar Mandela jr. het opdrag gegee dat niemand daar mag ingaan nie. Die departement van toerisme was nie bewus van die toegangbeheer nie en het gesê die saak sal opgevolg word.

“Die omheining is deel van ons projek, maar toegang tot die hek is deur die stamhoof ingestel en omdat die grond nie aan die departement van toerisme behoort nie, het ons nie ’n sê oor wie toegang daartoe het nie,” het ’n departementele woordvoerder gesê.

Inwoners van die nedersetting wou gister nie met

Die Burger praat nie. “Mandla het almal op Mvezo verbied om met enigiemand te praat,” het ’n vrou met ’n vrag hout op haar kop gesê. Verslagspan: Thanduxolo Jika, Pieter Steyn en Pauli van Wyk.