Kaapstad Verander Area

Vandag


29°C / 17°C

Wind 24km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 46%

Maandag


27°C / 17°C

Wind 29km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 65%

Dinsdag


26°C / 17°C

Wind 27km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 63%

Woensdag


24°C / 16°C

Wind 19km/h


Reënval 0.1mm


Humiditeit 67%

Donderdag


25°C / 16°C

Wind 17km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 66%

Vrydag


21°C / 14°C

Wind 19km/h


Reënval 2.8mm


Humiditeit 64%

Nuus

Nkandla se ‘lugtaxi’

Maar lugmag het g’n geld vir reddings

Deur Erika Gibson Dinsdag 30 Julie 2013 1:47 vm.

PRETORIA. – Die lugmag se twee helikopter-eskaders aan die kus het vanjaar géén geld gekry vir see- en bergreddings nie en word nou hoofsaaklik as ’n BBP-taxidiens gebruik.

15 Eskader in Durban het hoofsaaklik geld gekry om pres. Jacob Zuma Nkandla toe en terug te vervoer. Dit beteken dat indien daar ’n skeepsramp aan die Suid-Afrikaanse kus plaasvind, daar géén begrote geld is vir die helikopters om te gaan help nie.

15 Eskader het maar ’n handjie vol vliegure vir opleiding gekry, maar ’n stewige 300 ure vir BBP-vlugte. Dié vlugte is vir wanneer Zuma naweke huis toe gaan. Hy vlieg met Inkwazi, sy BBP-straler, tot op die Koning Shaka-lughawe buite Durban en van daar met twee Oryx-helikopters Nkandla toe.

Een van die helikopters is vir hom en sy geselskap en die tweede vir sy veiligheidswagte en die bagasie.

Die tweede een is ’n bystandhelikopter indien iets fout sou gaan met die eerste een.

Ná die naweek word Zuma op dieselfde wyse weer opgepik vir sy terugvlug. ’n Naweek se helikopterritte alleen kos dus sowat R36 000. Inkwazi se vliegkoste is nie in berekening gebring nie.

22 Eskader in Kaapstad bevind hom in dieselfde penarie met min opleidingsvliegure en die res van sy begroting vir BBP-vlugte.

Só moes twee van dié eskader se Oryx’e in April vanjaar van Kaapstad af Oos-Londen toe vlieg om Zuma en sy geselskap Mthatha toe te vlieg vir ’n besoek.

Dit duur vir ’n Oryx ses uur om dié afstand af te lê en die vliegtyd tussen Oos-Londen en Mthatha is 40 minute. Die twee helikopters moes vervolgens weer die ses uur terug Kaapstad toe aflê.

Lugmagvlieëniers het die afgelope week oor die verknorsing waarin die lugmag se helikopter-eskaders hul bevind, gesê hulle moet nou vrede maak daarmee dat hulle nie meer vir veel langer hul soek-en-reddingsvaardighede in stand sal kan hou nie.

Die Burger het verlede week berig die lugmag het vanjaar geen operasionele begroting vir sy 30 Agusta-helikopters nie. Die helikopters word net nou en dan op die grond aangeskakel.

Die vloot BK-117-helikopters van die lugmag het sedert verlede jaar geen ondersteuningskontrak meer nie, wat beteken geen onderdele kan daarvoor gekoop of groot versienings aan die helikopters gedoen word nie. Tesame met die Gripen-vegvliegtuigvloot, wat net 200 vliegure vir die huidige boekjaar gekry het, bevind die lugmag hom in ’n gemors. Dit het kenners genoop om te sê die lugmag moet van sy vliegtuie begin verkoop om te probeer oorleef.

Die Durban-lugmagbasis was ironies genoeg een van dié wat in ’n onlangse verslag deur die portefeuljekomitee oor verdediging uitgelig is vir sy vervalle toestand. Die eskader wag al agt jaar om te hoor wanneer hy van die ou lughawe na Koning Shaka trek, wat beteken dat al die instandhoudingskontrakte met die oog op die verskuiwing gekanselleer is.

Die weermag het die afgelope week gesê hy bespreek nie operasionele aangeleenthede in die openbaar nie.

Mac Maharaj, woordvoerder van die presidensie, het gesê die lugmag is verantwoordelik vir alle lugvervoerreëlings vir Zuma en hy het geen sê daarin nie.