Kaapstad Verander Area

Vandag


25°C / 16°C

Wind 25km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 65%

Vrydag


22°C / 13°C

Wind 20km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 53%

Saterdag


23°C / 14°C

Wind 20km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 53%

Sondag


22°C / 16°C

Wind 22km/h


Reënval 1.1mm


Humiditeit 59%

Maandag


24°C / 16°C

Wind 30km/h


Reënval 0.2mm


Humiditeit 51%

Dinsdag


24°C / 16°C

Wind 40km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 54%

Nuus

Slot 4 keer gesteek

GW se Adendorf ‘gelukkig hy leef’

Deur Gerdie Karstens en Lecrecia Prins Maandag 26 Augustus 2013 11:04 nm.

Hennie van der Merwe (links), president van die Griekwaland-Wesse Rugbyunie, en Arni van Rooyen, Griekwas se uitvoerende hoof, loop gister uit die Mediclinic Kimberley nadat hulle die slot, Jonathan Adendorf, besoek het. Adendorf is Saterdag buite ’n kuierplek in Kimberley met ’n mes gesteek. Foto: emile hendricks

KIMBERLEY. – “Hy is gelukkig hy leef.”

Só het Griekwas se uitvoerende hoof, Arni van Rooyen, gereageer nadat hy oor die welstand van die slot Jonathan Adendorf uitgevra is.

Adendorf sterk tans in die Mediclinic Kimberley aan nadat hy Saterdagaand na afloop van die Poubloues se Curriebeker-wedstryd teen Westelike Provinsie buite ’n plaaslike kuierplek eers beroof en daarna vier keer met ’n mes gesteek is.

Adendorf en Griekwas se fisioterapeut, Lance Lemmetjies, het Kim by Night saam met hul metgeselle verlaat, waarna Adendorf op pad na sy motor bygedam is.

“Van wat ons verstaan, het Lance iemand buite die kuierplek raakgeloop en ’n geselsie aangeknoop terwyl Jonathan solank vooruit na sy motor gestap het.

“Op pad soontoe het iemand hom glo met ’n harde voorwerp oor die kop geslaan en sy sakke is deurgevoel terwyl hy half bewusteloos op die grond gelê het.

“Daarna is hy vier keer met ’n mes gesteek. Met een van die steekslae is sy long geperforeer.

“Vir ons is dit ’n geweldige skok. Mens verwag nie dat só iets in Kimberley gebeur nie,” het Van Rooyen gister gesê.

Adendorf is glo kort na afloop van die aanval deur ’n verbyganger na die hospitaal geneem, waar hy sedertdien aansterk.

Van Rooyen en die president van die Griekwaland-Wes-rugbyunie (GWRU), Hennie van der Merwe, het Adendorf gister besoek. Griekwas se afrigter, Pote Human, het hom reeds Sondag besoek.

“Uit ’n rugby-oogpunt is dit ’n geweldige slag vir ons wat die Curriebeker-reeks betref. Daar bestaan ’n moontlikheid dat Jaco Nepgen die volgende paar wedstryde kan misloop en nou is Jonathan ook nog vir minstens ses weke buite aksie.

“Ons sit dus met ’n slot-krisis voordat ons die Vrystaat- Cheetahs Saterdag in Bloemfontein die stryd moet aansê,” het Van Rooyen gesê.

Omdat Adendorf ná die aanval reguit hospitaal toe is, is daar nog geen klag by die polisie aanhangig gemaak nie.

Hy behoort egter vandag die polisie oor die voorval in kennis te stel.