Kaapstad Verander Area

Vandag


23°C / 15°C

Wind 18km/h


Reënval 0.2mm


Humiditeit 58%

Maandag


25°C / 14°C

Wind 20km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 61%

Dinsdag


25°C / 15°C

Wind 19km/h


Reënval 0.1mm


Humiditeit 65%

Woensdag


24°C / 16°C

Wind 17km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 59%

Donderdag


25°C / 17°C

Wind 22km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 62%

Vrydag


23°C / 16°C

Wind 35km/h


Reënval 0.2mm


Humiditeit 57%

Nuus

Pretorius-weduwee voorlopig gesekwestreer

Deur Marelize Barnard Dinsdag 17 September 2013 2:02 vm.

KAAPSTAD. – Susan-Ann Pretorius, weduwee van die piramide-beleggingsmous Herman Pretorius, is voorlopig gesekwestreer.

Regter André Blignaut het gister die bevel van voorlopige sekwestrasie uitgevaardig nadat Susan-Ann Pretorius ’n aansoek om sekwestrasie in die Wes-Kaapse hooggeregshof teengestaan het.

Blignaut het bevind Susan-Ann Pretorius was, ondanks ’n “magdom dokumentasie” wat haar met betalings in haar guns verbind, nie bereid “om selfs een” te erken nie. “Terselfdertyd ontken sy ook nie dat sy dit (die betalings) ontvang het nie.”

Die regter het gesê hy stem saam met die regspan van die kurators van wyle Herman Pretorius se Relative Value Arbitrage Fund (RVAF) en die Seca Trust dat Susan-Ann Pretorius “ontwykend” is.

’n Forensiese ondersoek het getoon dat R17,7 miljoen regstreeks aan of namens haar betaal is.

Sy was die geregistreerde eienaar van ’n eiendom, Van de Graaffstraat 26 in Welgemoed, waarvoor daar tussen 23 Februarie 2005 en 16 Januarie 2007 R13,3 miljoen betaal is aan bouers en binnehuisversierders.

Die eerste applikant teen haar, die likwidateur Lambertus von Wielligh Bester, het aangevoer ’n eis van R107 miljoen teen haar is geregverdig omdat sy haar plig as ’n trustee van die Seca Trust versuim het. Bester voer aan ongeveer R130 miljoen van beleggers se geld is deur Pretorius uit die RVAF-bankrekening na die Seca Trust oorgeplaas.

Verder is daar uit die RVAF Trust R4,18 miljoen ten gunste van Susan-Ann Pretorius betaal. Hiervan is R900 000 in haar verbandrekening betaal. Op 31 Mei 2011 is ’n bedrag van R350 000 in haar Nedbank-rekening gestort.

Blignaut het in sy beslissing uitgewys hoewel elke betaling ondersteun is deur dokumentasie wat Susan-Ann Pretorius met die RVAF en Seca Trusts verbind, haar verweer was dat die applikante nie bewyse daarvan gelewer het nie.

Volgens Blignaut is daar wel bewyse dat die betalings van die onderskeie trusts aan of namens Susan-Ann Pretorius gemaak is.

“Daar is ook rede om te glo dat haar sekwestrasie tot voordeel van haar krediteure sal wees,” het Blignaut in sy uitspraak gesê.

Die aansoek is tot 14 Oktober uitgestel as deel van die proses van ’n bevel vir finale sekwestrasie.