Kaapstad Verander Area

Vandag


21°C / 14°C

Wind 30km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 71%

Donderdag


23°C / 14°C

Wind 30km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 57%

Vrydag


24°C / 14°C

Wind 31km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 56%

Saterdag


26°C / 15°C

Wind 22km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 50%

Sondag


27°C / 17°C

Wind 22km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 46%

Maandag


24°C / 13°C

Wind 15km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 66%

Nuus

Stigterslid van Silwer Valke sterf

‘Lugmag salueer ’n pionier’

Hy het honderde vlieëniers opgelei, sê oudkollega

Deur Raymond Willemse Sondag 12 Januarie 2014 9:53 nm.

Kol. Chris Prins, stigter van die Silwer Valke, in 1992 op sy laaste vlug op uitnodiging van die Silwer Valke. Foto: VERSKAF

STELLENBOSCH. – ’n Stigterslid van die Silwer Valke is gister as ’n pionier, legendaries en ’n besonderse leier beskryf.

Chris Prins (80) het verlede Vrydag die stryd teen kanker in 2 Militêre-hospitaal in Wynberg verloor.

Prins se enigste kind, Chris, het gister gesê sy pa het diep spore in die Suid-Afrikaanse lugmag getrap.“Hy was ’n ongelooflik goeie vlieënier in die lugmag. As ’n pa was hy baie kalm en het nooit iets sleg van ander gesê nie.”

Chris het gesê sy pa het op 19 jaar as ’n vlieënier gekwalifiseer.

“Op 36 jaar het hy die jongste kolonel in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Weermag geword toe hy as bevelvoerder van die Langebaanweg-lugmagbasis aan die Weskus aangestel is.”

Prins was in 1967 die eerste leier van die Silwer Valke, die lugmag se kunsvliegspan.

Hy maak deel van die oorspronklike vier Silwer Valke saam met genl.maj. Fred du Toit, kol. Theuns Prinsloo en kol. Chris Hattingh uit. Hattingh het ook dié groep ontval.

Prinsloo, ’n medestigterlid van die Silwer Valke, het in ’n persoonlike huldeblyk gesê die lugmag het ’n kranige en beminde vlieënier verloor.

“Prins het verseker dat die gehalte-opleiding van vlieëniers op die Impala-vliegtuie met die beste in die wêreld vergelyk kon word.

“Honderde vlieëniers van die lugmag kan vandag terugkyk en hierdie man bedank vir die deeglike opleiding wat hulle kon geniet.

“Oor die jare het die Silwer Valke genot aan honderdduisende toeskouers verleen met hul presisie vlieg en formasie-kunsvlugte. Die lugmag salueer hierdie merkwaardige vlieënier wat almal se vriend was.”

Prinsloo het ook genoem hoe die Silwer Valke destyds as die “Bumbling Bees” bekend gestaan het.

“Dit was egter ’n moeilik vertaalbare naam in Afrikaans. Onder sy leiding is die naam amptelik verander na Die Silwer Valke, ’n naam wat nog in die volksmond voortleef.”

Chris het gesê hy onthou as kind hoe hy vir sy pa op die aanloopbaan gewag het.

“Ek het in die kajuit geklim en my pa het my sy valhelm gegee. Ek onthou die reuk van sweet en lemoenskille binne die kajuit.”

Volgens Chris het sy pa op 40 jaar weens mediese redes afgetree en sy laaste amptelike vlug was in 1992 op uitnodiging van die Silwer Valke.

Maj. Beau Skarda, spanleier van die Silwer Valke, het gesê hulle is vandag alles aan Prins te danke vir wat destyds vermag is.

“Hy het ’n visie gehad en hard gewerk dat dit ’n werklikheid word. Hy is ’n pionier in die lugmag en ons het baie aan hom te danke.”

Prins word oorleef deur sy seun en twee kleinkinders, Larissa en Joshua. Sy vrou, Monica, is in 2011 oorlede.

Prins word Donderdag om 14:00 uit die Metodistekerk in Kerkstraat in die Strand begrawe.