Kaapstad Verander Area

Vandag


23°C / 14°C

Wind 21km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 53%

Saterdag


23°C / 14°C

Wind 20km/h


Reënval 0.1mm


Humiditeit 51%

Sondag


22°C / 17°C

Wind 22km/h


Reënval 0.4mm


Humiditeit 62%

Maandag


25°C / 16°C

Wind 31km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 51%

Dinsdag


24°C / 15°C

Wind 32km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 60%

Woensdag


24°C / 17°C

Wind 17km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 55%

Nuus

Sy verhoor Oscar

Masipa al in 1998 as regter aangestel

Deur Jeanne-Marié Versluis Vrydag 17 Januarie 2014 11:00 nm.

Oscar Pistorius Foto: ALET PRETORIUS

’n Senior regter van Johannesburg, Thokozile Matilda Masipa, gaan die voorsittende beampte in die opspraak­wekkende verhoor van die lemnaeler Oscar Pistorius wees. Masipa is nie spesiaal aangewys om die verhoor, wat van 3 tot 20 Maart in die hooggeregshof in Pretoria gehou word, te hanteer nie.

Dit is net een van die strafregtelike sake voor haar tot die strafreghofrol wat sy moet hanteer op 4 April eindig. Masipa (66) is op 1 Desember 1998 as regter van die Transvaalse provinsiale afdeling van die hooggeregshof aangestel. Die Algemene Balieraad van Suid-Afrika het toe gesê sy is die tweede swart vrou wat in die regbank aangestel is.

Indien die Pistorius-verhoor nie teen 20 Maart afgehandel is nie, sal die verrigtinge uitgestel word. Die verhoor gaan na verwagting nie teen dié datum afgehandel wees nie.

’n Regter kies uit ’n lys van assessore as hy of sy een of twee van dié kenners wil gebruik.

Die wêreld is op Valentynsdag verlede jaar geruk toe Pistorius sy vriendin doodgeskiet het.

Die model Reeva Steenkamp (29) was agter ’n badkamerdeur in ­Pistorius se huis in die Silverwood-landgoed in die ooste van Pretoria toe pistoolskote haar getref het.

Pistorius is later op borgtog van R1 miljoen vrygelaat.

Die staat beweer hy het moord met voorbedagte rade gepleeg, maar Pistorius se verweer is hy het Steenkamp vir ’n inbreker aangesien.

Euforie het geheers ná Pistorius se Olimpiese 400 m- wedloop op 15 September 2012.

Hy is die eerste atleet met ’n dubbele amputasie wat aan die Spele deelgeneem het. In November 2012 is hy en Steenkamp vir die eerste keer saam in die openbaar gesien.

Naas die moordaanklag, is daar dié drie aanklagte ingevolge die Vuurwapenbeheerwet teen hom:

. Hy het na bewering op 16 Februarie 2013 nie ’n permit of lisensie gehad om patrone vir ’n .38-Special-rewolwer in sy besit te hê nie.

. Hy het na bewering in Januarie 2013 in die restaurant Tashas in Melrose Arch, Johannesburg, onwettig ’n Glock 27-pistool sonder goeie rede afgevuur.

. Hy het na bewering op 30 September 2010 sy 9 mm-pistool onwettig deur ’n motor se oop sondak op ’n openbare pad afgevuur.

* * *

Haar biografie

Regter Thokozile Matilda Masipa was eers ’n maatskaplike werker en ’n joernalis voordat sy later in haar lewe in die regte studeer het.

Sy is op 16 Oktober 1947 in Orlando-Oos, Soweto, gebore.

Sy was in die John Berchman Primary School in Orlando-Oos en die St. Theresa School in Manzini, Swaziland, voordat sy in 1966 aan die Immaculata High School in Alexandra gematrikuleer het.

Masipa het die grade BA (maatskaplike werk) in 1974 en LLB in 1990 aan Unisa verwerf.

Sy is in 1991 as advokaat toegelaat en het tot 1998 by die Johannesburg-balie gepraktiseer.

Sy was ’n lid van die Black Lawyers Association en deeltyds ’n kommissaris van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA).

Masipa is op 1 Desember 1998 as regter van die Transvaalse provinsiale afdeling van die hooggeregshof aangestel. – Bron: Algemene Balieraad van Suid-Afrika

* * *

Van haar bekende sake

Desember 2010: Regter Thokozile Masipa weier Jacob Maroga se skadevergoedingseis van R85,7 miljoen. Hy het dit geëis nadat die Eskom-direksie hom as die kragreus se uitvoerende hoof afgedank het.

Desember 2006: Collin Spittal, wat daarvan beskuldig is dat hy drie mans gehuur het om sy vervreemde vrou Shirley 21 keer met ’n kombuismes dood te steek, word vir lewenslank tronk toe gestuur weens dié moord. Mev. Spittal is in 2001 in haar huis aan die Wes-Rand doodgesteek. Spittal en sy vrou was besig om te skei. Spittal is later deur die hooggeregshof vrygespreek nadat hy reeds vyf jaar uitgedien het.

November 2001: Ephraim Mokwena (27) en Michael Maathlamela (30) kry twee keer lewenslank weens die moord op John Cross en sy vrou, Balbina Kratky, op hul plaas tussen Gravelotte en Tzaneen.