Kaapstad Verander Area

Vandag


25°C / 15°C

Wind 20km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 61%

Dinsdag


24°C / 16°C

Wind 19km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 64%

Woensdag


24°C / 17°C

Wind 21km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 62%

Donderdag


24°C / 16°C

Wind 23km/h


Reënval 0.6mm


Humiditeit 65%

Vrydag


24°C / 17°C

Wind 36km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 51%

Saterdag


27°C / 18°C

Wind 34km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 53%

Sake

PROBLEEMOPLOSSING

Leerlinge moet deurdruk met wiskunde

Dinsdag 02 April 2013 9:55 nm.

Net meer as die helfte van alle Suid-Afrikaanse matriekleerlinge wat verlede jaar wiskunde geskryf het, het geslaag.

Volgens Mike McDougall, uitvoerende hoof van die Aktuariële Genootskap van Suid-Afrika, beteken dit dat ’n groot persentasie van verlede jaar se skoolverlaters waarskynlik nie goed toegerus is om alledaagse probleme op ’n logiese wyse op te los nie.

Dit sluit dié in wat nie wiskunde as vak geneem het nie, asook dié wat gedruip het.

“Wiskunde is ’n universele taal vir probleemoplossing wat op talle gebiede in die alledaagse lewe toegepas kan word. Wiskunde-onderrig is dus van kritieke belang om logiese denke en geletterdheid te bevorder.”

Hy sê die lae slaagkoers, die dalende persentasie leerlinge wat wiskunde neem en die swak gehalte van Suid-Afrika se wiskunde-onderrig is sorgwekkend. Die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) het verlede jaar in ’n opname van 62 lande Suid-Afrika laaste geplaas wat betref die gehalte van wiskunde en wetenskap. McDougall sê baie leerlinge dink verkeerdelik wiskunde moet as vak geneem word slegs as hulle loopbane soos aktuariële wetenskap, rekeningkunde, geneeskunde of ingenieurswese wil volg.

“Die werklikheid is dat ons samelewing al hoe meer van tegnologie afhanklik word en die meeste beroepe gevolglik ontledende denkers en probleemoplossingsvermoëns vereis. Wiskunde oefen die brein in logiese redenering en aanpasbare denke; vaardighede wat toenemend gesog raak op verskeie gebiede.”

Hy sê veral meetkunde en verskeie van die komponente van skoolwiskunde in die vak se vraestel 3, ontwikkel ongestruktureerde probleemoplossingsvaardighede, wat van die belangrikste vaardighede is wat in ingenieurswese, aktuariële wetenskap en die natuurwetenskappe vereis word. Vraestel 3 is ’n opsionele vraestel wat waarskynlikheid, datahantering en meetkunde dek.

“Ek meen die verwaarlosing van hierdie deel van wiskunde in ons skoolstelsel is ’n kritieke probleem wat reggestel moet word as Suid-Afrika matrikulante wil oplewer wat met sukses op hierdie gebiede kan studeer. Vraestel 3 moenie opsioneel wees vir matrikulante wat wiskunde neem nie, en skole moenie toegelaat word om hierdie kritieke deel van die wiskundeleerplan te ignoreer nie.”

McDougall reken leerlinge wat nie wiskunde as vak neem nie, beperk hul loopbaankeuse in groot mate. “En ouers wat nie hul kinders van kleins af aanmoedig om by wiskunde betrokke te raak nie, beperk hul kinders se potensiaal.”

Wiskundevaardighede is egter nie net loopbaangewys noodsaaklik nie; bloot om in die moderne ekonomie as ’n burger te kan funksioneer en om baie van die beskikbare produkte en dienste te kan verstaan en benut, vereis vaardigheid in wiskunde. Sonder wiskunde neem baie mense die verkeerde besluite oor hul eie persoonlike finansies; veral wat lenings, versekeringspolisse, spaargeld en die begroting van uitgawes betref, sê McDougall.

“Ons onwilligheid as ’n nasie om wiskunde met ope arms aan te neem, is waarskynlik ook ’n beduidende bydraer tot die hoë skuldvlakke in Suid-Afrika asook die swak spaarkoers. As ons die somme doen voor ons aansoek doen om finansiering vir huishoudelike items waarsonder ons waarskynlik kan klaarkom, sal baie meer mense twee keer dink voor hulle dit doen. Ek dink ook baie meer Suid-Afrikaners sal spaar as hulle die mag van saamgestelde rente verstaan.”

McDougall wys daarop dat lande met die hoogste spaarkoerse ter wêreld, soos China, ook die sterkste ter wêreld vaar met wiskunde.

“Namate die wêreld na ’n kennisekonomie beweeg, neem die persentasie loopbane en werkgeleenthede toe waarvoor wiskundevaardighede vereis word, en Suid-Afrika se vermoë om in hierdie wêreld mee te ding, vereis dat meer skoolverlaters vaardig in wiskunde moet wees.”

McDougall sê Suid-Afrika gaan gebuk onder ’n ernstige tekort aan onderrigvaardighede, veral in wiskunde en wetenskap. “Die Aktuariële Genootskap besef die geweldige omvang van die probleem en ondersoek moontlike maniere waarop die aktuariële professie die regering kan help om die onderrigvaardighede uit te bou wat nodig is om ’n samelewing te ontwikkel waarin wiskunde as ’n integrerende deel van die daaglikse lewe beskou word.”

Die Aktuariële Genootskap is daadwerklik betrokke by die volgende projekte wat daarop gemik is om ’n passie vir wiskunde onder leerlinge te kweek:

* Actuaries on the Move. Dit is ’n skoolgebaseerde program om meer swart studente na die aktuariële professie te lok. Leerlinge word bygestaan deur bykomende onderrig in wiskunde en wetenskap.

* Bona Lesedi. Dít is ’n gesamentlike projek met Pretoria Boys High School en die Catholic Women’s League. Die Aktuariële Genootskap verskaf die finansiering wat nodig is om leerlinge weekliks van Mamelodi na Pretoria Boys High School te vervoer vir wiskunde-onderrig. Leerlinge gee die onderrig. Die program het onlangs ’n brons Stevie-toekenning ontvang van die International Business Awards.

* Interprovinsiale wiskunde-olimpiade. Dié kompetisie word deur die Aktuariële Genootskap geborg en is sedert 1990 ’n gereelde instelling.

* Sakrekenaar-uitdaging. Ter viering van Internasionale Wiskundedag vra die Aktuariële Genootskap lede om sakrekenaars te skenk wat dan deur die Actuaries on the Move-projek versprei word.