Kaapstad Verander Area

Vandag


24°C / 15°C

Wind 19km/h


Reënval 0.2mm


Humiditeit 54%

Sondag


23°C / 16°C

Wind 19km/h


Reënval 0.2mm


Humiditeit 56%

Maandag


24°C / 16°C

Wind 19km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 60%

Dinsdag


23°C / 15°C

Wind 16km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 53%

Woensdag


24°C / 17°C

Wind 20km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 65%

Donderdag


23°C / 16°C

Wind 28km/h


Reënval 2.5mm


Humiditeit 68%

Sake

Sibanye wil dividend betaal, aandele lóóp

Deur sake24 Dinsdag 13 Augustus 2013 9:28 vm.
Sibanye Gold oorweeg om spesiale dividende uit te betaal nadat sy wins en produksie in die eerste helfte van die boekjaar skerp gestyg het.
Sy bedryfswins het met 63% geklim tot R3,3 miljard in die ses maande tot Junie, vergeleke met die vorige ses maande.
Die groep se goudproduksie het met 23% geklim tot 656 399 fynonse en beskikbare kontant het agt keer toegeneem tot R2,1 miljard.
“Die verbeterde bedryfsvertoning en die herstrukturering van sy skuld het verseker dat die groep sy eerste dividend kan verklaar sodra daar genoegsame finansiële- en bedryfstabiliteit is,” het die maatskappy in ’n verklaring gesê.
Sibanye sê hy sal besluit oor die dividend wanneer daar duidelikheid is oor die uiteinde van loononderhandelinge.
“Ons is voorbereid op uitgebreide stakings en het planne beraam om verliese te beperk indien produksie ontwrig word.” 
Die groep se wesensverdienste het amper verdubbel tot R881 miljoen vergeleke met die vorige ses maande. Dit was egter 65% laer as die R2,52 miljard wat in die eerste helfte van 2012 verklaar is.
Teen 10:45 was die groep se aandeelprys amper 7% sterker by 872c. Die goudindeks het Dinsdagoggend steeds versterk ná gister se reusagtige lopie. Die goudmyn-indeks het Maandag met 12,84% opgeskiet en die hulpbronindeks met 4,98%.
Harmony Gold se aandeelprys het met ’n volle 20,6% tot R39,56 gestyg en Gold Fields s’n met 13,4% tot R59,82. Impala Platinum se aandeelprys was 9,2% sterker op R108,65.
Wayne McCurrie, hoofportefeuljebestuurder van Momentum Wealth, sê beter ekonomiese data uit China het hulpbronpryse al verlede week opgestoot. “Sy nywerheidsproduksiesyfers was beter as wat verwag is en daar is ook gerugte dat die sentrale bank provinsiale regerings stilletjies met hul kontantvloei help.”
Hoewel die goeie ekonomiese nuus die lopie in die platinumprys verduidelik, is dit nie werklik ’n grondige rede vir die verbetering in die goudprys nie, sê McCurrie.
Die goudprys het gister vir die vierde opeenvolgende dag veld gewen en tot selfs $1 344 per fynons verstewig.
Hy sê die goudprys het nie werklik genoeg gestyg om die lot van goudmynmaatskappye veel te verbeter nie en hul aandeelpryse het waarskynlik bloot geklim omdat hulle tot dusver vanjaar so ver teruggesak het.
“Die swak vooruitsigte vir die goudprys beteken egter nie dat goudmynaandele nie nog kan klim nie, want hulle het nou al geruime tyd veel swakker as die goudprys gevaar.”
Drikus Combrinck, portefeuljebestuurder van PSG Konsult, sê ’n styging in die goudprys kan ’n baie groot uitwerking hê op die winsgewendheid van goudmyne wat net-net gelykbreek.
Hy sê goudmynaandele het vanjaar besonder sleg gevaar en beleggers wil nie ’n moontlike ommeswaai misloop nie. “Wanneer dit lyk of die momentum begin draai, wil almal vinnig inspring voordat dit te laat is.”
Hy sê die goudprys kan op kort termyn saam met die platinumprys op beweeg, selfs al dryf verskillende faktore die pryse op lang termyn aan.