Kaapstad Verander Area

Vandag


25°C / 16°C

Wind 27km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 65%

Vrydag


23°C / 14°C

Wind 20km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 53%

Saterdag


23°C / 14°C

Wind 22km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 53%

Sondag


23°C / 15°C

Wind 21km/h


Reënval 0.1mm


Humiditeit 57%

Maandag


25°C / 15°C

Wind 18km/h


Reënval 0.1mm


Humiditeit 61%

Dinsdag


23°C / 14°C

Wind 16km/h


Reënval 0.1mm


Humiditeit 54%

Sport

Austin lei SA weer, in reeks teen Maleisië

Deur Marizanne Kok Vrydag 31 Mei 2013 10:55 nm.

Austin Smith lei die SA manshokkiespan in die toetsreeks teen Maleisië. Foto: Duif du Toit | Gallo Images

JOHANNESBURG. – Die Kapenaar Austin Smith sal weer die kapteinsarmband dra wanneer die Suid-Afrikaanse manshokkiespan aanstaande week in Potchefstroom en Randburg vir ’n toetsreeks teen Maleisië saamtrek.

Die 22 spelers wat Maleisië moet tem, is ná ’n week lange oefenkamp gister by die Universiteit van Johannesburg aangekondig. Smith was nie die kaptein toe die Proteas vroeër vanjaar in Brasilië in die tweede ronde van die Wêreldliga gespeel het nie, omdat hy hom laat by die span aangesluit het.

Dié keer was hy van dag een by die voorbereiding vir die Maleisiese reeks betrokke.

“Austin is die nasionale kaptein – so eenvoudig soos dit,” het Charlie Pereira, wat die eerste keer as amptelike SA breier die leisels vashou, gesê.

“In Rio het ons Rhett (Halkett) ’n kans gegee, en die groot voordeel daarvan is dat ons leierskapkorps nou nog ’n lid bygekry het. Dis belangrik vir die toekoms.”

Pereira was die waarnemende afrigter toe die Proteas in Februarie in Rio was, maar is intussen vas aangestel. Hy het gister gesê hy was beïndruk met die 39 spelers wat by die oefenkamp in Melville was.

“Dis verblydend dat hulle almal so hard gewerk het. Ons het hulle regtig gas gegee dié week; ons het elke oggend van seweuur tot eenuur gewerk en in die aande volle wedstryde gespeel. Die spelers het nie daarvan weggeskram nie en mekaar hard gedruk vir plekke in die span.

“Ek dink regtig hierdie is een van die mees gebalanseerde nasionale spanne wat tot nog toe gekies is. Daar is hope ervaring in die groep en ’n paar spelers, maar ook ’n paar jongelinge wat dit nog ver kan bring.”

Suid-Afrika is 12de op die wêreldranglys en Maleisië 13de, sodat die munt op papier enige kant toe kan val. Waar die Proteas ’n amateurspan is, is hokkie in Maleisië ’n beroepsport.

Die Maleisiërs het boonop onlangs vyf internasionale toetse gespeel, terwyl die SA span laas in Rio de Janeiro gekombineer het.

“Maleisië het ontwikkel tot ’n baie goeie eenheid en die reeks sal beslis taai wees.”