Kaapstad Verander Area

Vandag


23°C / 17°C

Wind 25km/h


Reënval 0.3mm


Humiditeit 76%

Maandag


26°C / 16°C

Wind 30km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 60%

Dinsdag


29°C / 17°C

Wind 24km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 44%

Woensdag


22°C / 17°C

Wind 39km/h


Reënval 7.5mm


Humiditeit 76%

Donderdag


22°C / 15°C

Wind 24km/h


Reënval 4.6mm


Humiditeit 65%

Vrydag


24°C / 15°C

Wind 37km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 54%

Sport

Toernooi om die Kampioene-trofee

Suid-Afrika skraap deur

Pollard, reën kos Windies halfeind-plek

Deur Johann de Jager Vrydag 14 Junie 2013 10:18 nm.

Colin Ingram jaag die bal bykant-grens toe in die Proteas se Kampioenetrofee-stryd teen die Wes-Indiese Eilande gister in Cardiff. Dié Oos-Kapenaar het ’n flink beurt van 73 lopies (van 63 balle) gespeel en die grondslag vir Suid-Afrika se totaal van 230/6 in 31 beurte gelê. Foto: Kirsty Wigglesworth | AP

BLOEMFONTEIN. – Die Duckworth-Lewis-stelsel wat die Proteas al lang trane laat huil het, het hulle uiteindelik vir ’n slag groot blydskap gebring.

Dié omstrede stelsel het Suid-Afrika se reënverkorte groepwedstryd teen die Wes-Indiese Eilande gister in Cardiff gelykop laat eindig.

Dit het meegebring dat Suid-Afrika, vanweë sy beter netto lopietempo vooraf, op dramatiese wyse tot die halfeindstryd van die toernooi om die Kampioene-trofee deurgedring het.

Die wedstryd is weens reënbuie vooraf aanvanklik tot 36 boulbeurte en toe eindelik na 31 beurte aan ’n kant verkort.

Suid-Afrika het ’n heel skaflike 230/6 aangeteken.

Die Windies het deurentyd ná terugslae teruggeveg om die wedstryd in die weegskaal te hou.

Hulle het 190/6 ná 26.1 beurte gehad toe reën uitgesak het.

Kieron Pollard (28) se paaltjie op 190/5 – toe hulle 40 van 30 balle benodig het, was aan die einde die bepalende wending. Dít het sake volgens die Duckworth-Lewis-stelsel presies gelykop laat eindig.

Pollard sal die onbesonne hou nie gou vergeet nie. Hy is met die eerste aflewering van die 27ste beurt wat deur Ryan McLaren afgestuur is op derdeman deur Dale Steyn uitgevang.

Dié paaltjie het die Windies uitgeknikker.

Steyn (2/33) was vroeër in sy terugkeer tot die krieketveld ietwat ongelukkig toe albei aanvangskolwers in sy eerste twee boulbeurte kanse gebied het.

Die gevreesde Chris Gayle kon vir 6 uit gewees het as Steyn kon vasklou aan die bal wat die hotklou hard na hom toe teruggeslaan het. In sy tweede beurt het JP Duminy bottervingers op regby gehad wat Johnson Charles laat oorleef het. In sy derde beurt was AB de Villiers met die groot handskoene onder die bal om Charles (16) uit te vang.

Die gevaarman Gayle (36) het net mooi ontwaak toe Chris Morris (1/30) hom uitoorlê het.

Met dié kanonkolf se vertrek het ’n dubbele slag die Windies getref toe die verwysingstelsel bevestig het dat Devon Smith (30) wel been voor paaltjies deur Robin Peterson betrap is.

Die Windies was met reën wat liggies begin uitsak het ook in ’n stryd met die Duckworth-Lewis-stelsel gewikkel.

Op 104/4 in 18de beurt het Marlon Samuels (48) en Pollard hul jaagtog, eers net teen die Duckworth-Lewis-stelsel, begin.

Veral Samuels het die wedstryd met sy warrelwind beurt terug in die weegskaal geplaas voordat Steyn hom geboul het.

Die reëngode het toe tot Suid-Afrika se redding gekom.

Colin Ingram (73, 63b) was met sy derde vyftigtal die Proteas se kolfheld nadat hulle ingestuur is. Dwayne Bravo, kaptein van die Windies, het soos verwag in die bewolkte toestande asook die feit dat die blad lank toegemaak was, nie geaarsel om Proteas in te stuur toe hy die loot gewen het nie. Die bal het egter nie so baie rondbeweeg soos verwag is nie.

Ingram het as die aggressor saam met Hashim Amla (23) ’n stewige grondslag van 80 lopies in 12 boulbeurte gelê.

De Villiers (37) was vies oor die hou waarmee hy uit is. Hy het ’n kort aflewering van Ravi Rampaul (1/37) gehaak wat skitterend uit die lug uit deur Darren Bravo op middebaan gepluk is. Dit was ’n groot slag vir die Proteas, want die kaptein was op sy stukke.

Faf du Plessis (35) en veral David Miller (38) het die kolfbeurt daarna weer woema gegee.