Kaapstad Verander Area

Vandag


25°C / 16°C

Wind 27km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 65%

Vrydag


23°C / 14°C

Wind 20km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 53%

Saterdag


23°C / 14°C

Wind 22km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 53%

Sondag


23°C / 15°C

Wind 21km/h


Reënval 0.1mm


Humiditeit 57%

Maandag


25°C / 15°C

Wind 18km/h


Reënval 0.1mm


Humiditeit 61%

Dinsdag


23°C / 14°C

Wind 16km/h


Reënval 0.1mm


Humiditeit 54%

Rugby

Griekwas behou 4 sterre

Deur Gerdie Karstens Vrydag 25 Julie 2014 10:34 nm.

Martin Bezuidenhout

BLOEMFONTEIN. – Griekwas se nuutgevonde Curriebeker-status het nou reeds positiewe gevolge vir die span van die Diamantstad.

Voor verlede naweek was dit nog onseker of die Poubloues wel in die Premierliga van die Curriebeker-rugbyreeks sou speel, maar die deur het oopgeswaai danksy ’n bonuspunt-oorwinning oor die SWD-Arende.

Min spelers wou hulle om verstaanbare redes tot Griekwas verbind voordat daar nie oor hul Curriebeker-status sekerheid was nie, maar nadat die stof gaan lê het kom hulle nou een-een na vore.

Die Poubloues se afrigter, Hawies Fourie, het bevestig dat vier staatmakers wat in die Vodacombeker-reeks en Curriebeker-kwalifiseerders die vuur help stook het, hulle opnuut tot die Noord-Kapenaars verbind.

Die haker Martin Bezuidenhout, die heelagter Gouws Prinsloo, die senter Jonathan Francke én die stut Ewald van der Westhuizen het weer pen op papier gesit.

Bezuidenhout en Prinsloo is tot einde 2015 gekontrakteer, terwyl Van der Westhuizen en Francke hul kontrakte tot einde 2016 verleng het.

“Dit was vir ons belangrik om Martin Bezuidenhout se dienste te behou. Hy is ’n goeie leier op die veld en gaan ’n belangrike rol vertolk in die pad wat ons vorentoe wil loop,” het Fourie gister gesê.

“Die Westelike Provinsie en Oostelike Provinsie-Kings het in hom belanggestel, maar ons het daarin geslaag om hom te behou.”

Die Poubloues se breier was ook in sy skik dat Prinsloo-hulle ook volgende jaar hul rugby in Kimberley gaan speel.

“Gouws is ’n dodelike skopper wat baie waardevol is vir ons.

“Hy kry die punte op die telbord en kan selfs later Springbok-rugby speel. Ek het al baie ouens sien Springbok word vanweë hul vermoë met die skopvoet.

“Ewald is ’n stut wat dit nog baie ver kan bring. Hy is ’n goeie baldraer en goeie verdediger en skrumwerker en vorm ’n integrale deel van die span.

“Jonathan is by verre die speler wat vanjaar vir ons die meeste lynbreke gemaak het.

“Hy is ook ’n baie goeie verdediger, en met ’n bietjie afrondingswerk sal dit my nie verbaas as Super-rugby in die nabye toekoms vir hom ’n opsie word nie.”