Kaapstad Verander Area

Vandag


23°C / 16°C

Wind 18km/h


Reënval 0.1mm


Humiditeit 58%

Maandag


25°C / 15°C

Wind 20km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 60%

Dinsdag


23°C / 17°C

Wind 17km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 56%

Woensdag


24°C / 17°C

Wind 20km/h


Reënval 0.1mm


Humiditeit 65%

Donderdag


24°C / 17°C

Wind 22km/h


Reënval 0.6mm


Humiditeit 64%

Vrydag


24°C / 17°C

Wind 33km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 55%

Kuns en Vermaak

Ná rooftog saal hy wilde perd op

Deur Rudolf Stehle Vrydag 14 Junie 2013 12:06 vm.
Chris Barnard het pas die eerste keer sy hand aan ’n komedie gewaag. Rudolf Stehle het met hom oor Tango gesels.

Chris Barnard Foto: Michael Hammond

Die bekroonde skrywer en dramaturg Chris Barnard se Tango is teen die einde van die maand op die tiende Innibos-kunstefees in Nelspruit te sien.

Tobie Cronjé, Marius Weyers, Cobus Rossouw en Tinarie van Wyk-Loots is in die rolverdeling. Katinka Heyns is die regisseur.

Barnard is begin September verlede jaar deur Innibos versoek om ’n stuk te skryf en hy het ingestem. Twee weke later was hy die slagoffer van ’n gewapende rooftog op sy plaas net buite Nelspruit.

“Dit was in meer as een opsig ’n ontwrigtende ervaring met heelwat materiële en emosionele skade,” vertel Barnard.

“Albei my rekenaars is onder meer gesteel, met jare se data en al my skryfnotas. Meer as ’n maand later kon ek nog nie ’n enkele woord skryf nie. My kop was net elders.

“Teen November het ek besef ek sal die een of ander wilde perd moet opsaal en iets skryf wat ek nooit voorheen probeer het nie; iets wat my gaan dwing om te fokus, want my tyd raak min. Toe is dit maar dit: ’n ligte komedie.”

Barnard sê hy het geen ondervinding gehad om op staat te maak nie.

“Ek het net oë toegeknyp en gestorm,” vertel hy.

Tango handel oor twee oujongkêrels, Lappies en Daan, wat ’n woonstel êrens in die diep platteland deel. Daan se oom Kas daag onverwags op.

Kas is ’n skatryk familielid uit die verre verlede met ’n duister geskiedenis, baie ondernemingsgees en ’n swak vir mooi meisies.

Tillie is pas uit haar woonstel geskop omdat sy nie haar huur kan betaal nie, en Kas belowe haar die maan en die sterre. Maar hy gaan ongelukkig net ’n raps te vinnig te ver. En een fout lei tot ’n ander.

Barnard beskryf die skryfervaring as ’n “waaghalsige koorddans”.

“In die proses het ek gou agtergekom daar is ’n baie fyn lyn tussen ‘snaaks’ en ‘laf’, en ek het te veel agting vir ’n goeie akteur om hom/haar te belas met lawwighede.

“Ek het geweet ek gaan vir Tobie en Cobus en Marius – drie ou teatervriende – skryf nog voordat ek ’n storie gehad het. Vir Tobie omdat hy ’n doodgewone sin kan laat snaaks klink; vir Marius omdat hy jare gelede al vir my gesê het hy wil eendag ’n gay-rol speel; vir Cobus omdat ek 40 jaar laas vir hom ’n rol geskryf het.”

Barnard sê daar was om drie redes aanvanklik min samewerking tussen hom en sy vrou, Katinka, aan die stuk.

“Eerstens omdat ek nie graag enige onklaar werk vir iemand anders wys nie. Tweedens omdat ek met baie minder selfvertroue as gewoonlik die projek aangepak het. En derdens omdat almal om my gedink het ek is mal om in sulke omstandighede ’n ligte komedie te probeer skryf.”

Volgens Barnard word die stuk in die Kaap instudeer “omdat al die akteurs behalwe Tobie daar woon”.

Barnard sal dus net die laaste week se repetisies in Nelspruit kan bywoon.

Waarom sal hy die stuk aanbeveel, waag ek.

“Dis nie aldag dat jy hierdie drie akteurs saam op dieselfde verhoog sal sien nie. Trouens, ten spyte van al drie se lang professionele loopbane is dit die heel eerste keer wat dit gebeur,” sê Barnard opgewonde.