Kaapstad Verander Area

Vandag


20°C / 14°C

Wind 26km/h


Reënval 2.0mm


Humiditeit 67%

Woensdag


21°C / 15°C

Wind 31km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 71%

Donderdag


23°C / 14°C

Wind 27km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 56%

Vrydag


23°C / 14°C

Wind 35km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 62%

Saterdag


26°C / 17°C

Wind 26km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 52%

Sondag


28°C / 15°C

Wind 17km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 41%

Kuns en Vermaak

Dié oproep sou ‘Credo’ verryk

Vrydag 19 Julie 2013 7:31 nm.

Paul Boekkooi

Credo – Ndodana-Breen / Meersman / Black

ZK Matthews, Unisa, Pretoria

Die Vryheidshandves van 1955 het ’n dominerende invloed op Suid-Afrika se nuutgeformuleerde Grondwet van 1996 gehad. Om eersgenoemde se omvattende boodskap rondom vreedsame naasbestaan spesifiek op oudpres. Nelson Mandela se 95ste verjaardag te vier, is ’n briljante en bowenal simboliese inisiatief.

Donderdagaand se wêreldpremière van Credo, wat ook op SABC3 uitgesaai is, is ’n uiters tydige herinnering aan die inhoudelik morele aansien wat daardie handves betekenisvol gemaak het en waarvan die meeste komponente in ons Grondwet saamgevat is.

Die drie artistieke kragpunte waaromheen dié multimedia-oratorium draai, is die komponis Bongani Ndodana-Breen, librettoskrywer Brent Meersman en visuele towenaar Andrew Black.

Musiek en teks staan genadiglik uiters sentraal in dié groots opgesette opus. Beelde besit immers die neiging om die gehoor se aandag van die teks, sang en musiek af te lei.

Credo open treffend met ’n klanksnit uit ’n Mandela-toespraak waarin hy verduidelik vir watter ideaal hy bereid is om te sterf, ’n persoonlike credo waarvan hy nooit afgewyk het nie.

Ndodana-Breen snoer Meersman se teks, gegrond op ’n selfgepende, bykans epiese gedig, merendeels binne verrassend uiteenlopende style saam. Feitlik alles val gemaklik op die oor, maar ontgin selde bepaalde teksgedeeltes met ’n gewenste graad van emosionele diepte.

Helaas is die libretto nie volledig in die program gedruk nie. Dit maak dit moeiliker om die komponis se sukses al dan nie te evalueer. Die ensemblesang deur die Gauteng Choristers was stewig, al het hulle tydens klimakse ietwat ondervoed geklink.

Solobydraes deur Sibongile Khumalo, Monika Wassung en Otto Maidi was, soos te verwagte, uiters professioneel. Veral in die deel wat begin met “Around a stone fountain” het Khumalo die poëtiese inhoud vokaal uitdrukkingryk gehanteer. Dis jammer dat dieselfde graad van inspirasie nie altyd uit latere toonsettings gestraal het nie.

Maidi was deurgaans puik, veral in die duet saam met Wassung wat voorafgegaan is deur een van die komponis se meer inspirerende ingewings: die pastoraal-klinkende duet tussen die solo-hobo en Franse horings, asook, veel later, die vioolsolo. Wassung het groot klem geplaas op die aria wat met “Our beliefs” begin.

Ndodana-Breen se melodiese ontginning het beperkings. Talle gedeeltes het so idiomaties soos klankbaanmusiek geklink, maar sodra byvoorbeeld poliritmiese Afrika-teksture na vore kom, verander daardie indruk ten goede.

Black se verfilmde aandeel besit treffende en tekstoepaslike beeldmateriaal, maar daar is ook insetsels op die treffende agterdoek wat meer gemeen het met toerismebemarkingskote.

Tereg skrikwekkend is die beelde rondom opstande in die townships en onskuldiges wat deur polisie- en weermaglede neergevel word . . . “lest we forget”.

Credo huiwer so halfpad tussen ’n politieke en ’n artistieke manifes. Dit het waarde, maar sou selfs méér hê indien dit ’n oproep sou doen op ’n konsekwente inhoudelike handhawing van die ideale rondom albei genoemde dokumente.