Kaapstad Verander Area

Vandag


20°C / 14°C

Wind 26km/h


Reënval 2.0mm


Humiditeit 67%

Woensdag


21°C / 15°C

Wind 31km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 71%

Donderdag


23°C / 14°C

Wind 27km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 56%

Vrydag


23°C / 14°C

Wind 35km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 62%

Saterdag


26°C / 17°C

Wind 26km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 52%

Sondag


28°C / 15°C

Wind 17km/h


Reënval 0.0mm


Humiditeit 41%

Kuns en Vermaak

Kwartet se ensemblewerk beïndruk veral

Maandag 02 September 2013 9:34 nm.

Paul Boekkooi

UP Simfonieorkes: Colourful Concert Kaleidoscope

Aula, UP, Pretoria

Dis fantasties wanneer klassieke musiek werklik deel word van die breë gemeenskap.

Dít gebeur gereeld by die UP-Simfonieorkes se konserte.

Ook by dié een, waarby vier kore, ses vokale soliste, twee pianiste en ’n orrelis betrokke was.

Die UP-konsertkoor, -Camarata, -Ovuwa Cultural Ensemble en -Jakaranda-kinderkore het gesamentlik stukrag verleen aan die Johannesburgse komponis Mokale Koapeng se immer aangrypende vredesgesang Khutso. Dié massakoor se uitvoering, met sy stadig deinende ritme, was op ’n peinsende wyse meevoerend.

Hierna was Beethoven se selde uitgevoerde Koorfantasie, op. 80, aan die beurt. Baie musikoloë beskou dit as ’n “vooroefening” vir sy Koorsimfonie (No. 9). Met die klavier sentraal tot die werk, ’n koor, orkes en ses vokale soliste, het dit sy sjarmes, maar die ietwat losse struktuur is skaars een daarvan.

Tog het die dirigent Eric Rycroft se klassiek korrekte benadering daartoe oortuig, terwyl die pianis Willem de Beer musikaal-struktureel ’n uitdagende taak met by tye ongelooflik weloorwoë dinamiese kontraste volvoer het. Vir ’n 21-jarige besit hy ’n volwassenheid waarmee hy Beethoven se doelstellings duidelik aan die gehoor kon oordra.

’n Opmerking: Met meer krag van die skouers in plaas van net rondom die voorarms, sal byvoorbeeld die dubbelforte-akkoorde aan diepteresonansie wen.

Die vokale soliste – Hanli Stapela, Deirdre Blignaut-Rautenbach (soprane), Annemarie Steenkamp (mezzo-sopraan), Sandile Mabaso, Mxolisi Duda (tenore) en Mzwandile Mabuza (bariton) – het hul lied tot lof van musiek met ryke frasering en verfynde diksie voorgedra.

Die koor het hom volledig daarby aangesluit.

Wessel van Wyk het met sy gebruiklike standvastigheid en erns Gershwin se Rhapsody in Blue uitgevoer, met ’n orkes wat gepas om hom baljaar het.

Stapela, Blignaut-Rautenbach, Mabaso en Duda het selfs met méér geesdrif as wat die borrels in hul gevulde sjampanjeglase sou kon suggereer die “Brindisi” uit Verdi se La traviata gesing. Dit is uiters moeilik om oombliklik ’n teatersfeer te vestig, maar dié kwartet het met hegte ensemblewerk en genuanseerde vokale projeksie daarin geslaag.

Jaco Prinsloo, gebore in 1991 en hoof-Fransehoringspeler van die UPSO, het sy orrelvirtuositeit en -musikaliteit met ’n asem-wegslaan-effek op die toehoorders gedemonstreer in die Allegro assai uit Guilmant se Simfonie no. 1 vir orrel en orkes.

Ten slotte was daar Tsjaikowski se 1812-ouverture.

Rycroft se besluit om alle moontlike koorgedeeltes daarin terug te plaas, het bygedra tot ’n anderste, minder steriele ervaring as wat ons gewoonlik beleef.

Die idee om Russiese en Franse vlae in te span om aan te dui wanneer die temas dié lande se oorsprong verteenwoordig, was eweneens gepas.