Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
2020 visie: Die volgende dekade van belegging
16 Januarie 2020
/

Net soos die aanvaarding van tegnologie elke bedryf ontwrig en verander, het beleggings en batebestuur heelwat gevorder sedert die dae toe aandele nog op die beurs se vloer luidkeels gekoop en verkoop is. Al reken mense dis hoe dit nog werk.

Selfdiensmakelaars- en adviesplatforms wat deur tegnologie aangedryf word, het, veral in die afgelope tien jaar, die vermoë van individue om in ’n verskeidenheid bateklasse, indekse en fondse te belê, heeltemal verander. Maar wat hou die volgende tien jaar in vir beleggers en batebestuurders?

Hoe sal ons belê?

Pieter Koekemoer, hoof van persoonlike beleggings by Coronation Fund Managers, sê tegnologie maak dit makliker om ’n beleggingsbesluit in werking te stel sodra jy besluit het waar om te belê en wie om as verskaffer te gebruik, maar robotadviseurs het min vordering gemaak. “Die meeste van die suksesvolle aanlyn adviesmodelle wêreldwyd is afhanklik van ’n kombinasie van tradisionele menslike interaksie en aanlyn instrumente en rekenaars,” sê Koekemoer.

“En as dit ’n enkele belegging vir ’n betreklik lae bedrag is, byvoorbeeld R33 000 in ’n belastingvrye spaarrekening, verkies mense om dit regstreeks te doen.” Die meeste van die tegnologiese ontwikkelings, soos die inwerkingstelling van grootboektegnologie (die blokketting) om doeltreffendheid vir diensverskaffers te verbeter vind plaas waar kliënte dit nie sien nie. “Dit verwyder die behoefte aan rekonsiliasies en vergemaklik die verhandeling- en skikkingsproses. Gevorderde maniere om jou identiteit digitaal te bevestig, kan beteken dat jy binnekort nie jou identiteitsdokument en bewys van adres aan diensverskaffers hoef te gee nie,” sê Koekemoer.

Hannes van den Berg, medehoof van ekwiteit en multibates by Investec Batebestuur

Hannes van den Berg, medehoof van ekwiteit en multibates by Investec Batebestuur, sê volgens IBM is 90% van die wêreld se data in slegs die afgelope twee jaar geskep. Ondernemings besef die voordele van die gebruik van grootdata.

“Datasiftingsinstrumente vir kwantitatiewe ontleding is gevestig in die beleggingsbestuursbedryf, want om ’n goeie maatskappy te vind om in te belê, vereis dat groot hoeveelhede inligting uit verskillende bronne vinnig ondersoek moet word,” sê Van den Berg.

’n Kwantitatiewe benadering wat wiskundige en statistiese modellering gebruik, kan miljoene stukke data blitsvinnig prosesseer om goeie beleggingsidees te identifiseer en portefeuljerisiko’s te oorweeg. “Menslike insig en oordeel bly egter belangrik, met kwantitatiewe ontleding as ’n eerste siftingsinstrument om ’n groot beleggingswêreld deur te soek; daarna ondersoek fundamentele ontleders hierdie aandele sorgvuldiger.”

“Menslike insig en oordeel bly egter belangrik, met kwantitatiewe ontleding as ’n eerste siftingsinstrument om ’n groot beleggingswêreld deur te soek.”

Earl van Zyl, hoof van produkontwikkeling by Allan Gray, sê die tempo van tegnologiese verandering is so vinnig dat ons waarskynlik sal onderskat hoe anders die beleggingstegnologielandskap ’n dekade van nou af sal lyk. “Beleggers se belangrikste beleggingsdoelwitte sal waarskynlik egter nie veel verander nie. Hulle sal steeds hul rykdom vir hulself en hul gesinne wil beskerm en laat groei en sal steeds advies vir hul belangrikste beleggingsbesluite soek.”

Earl Van Zyl, hoof van produkontwikkeling by Allan Gray

Van Zyl stem saam dat hy nie verwag dat robotadviseurs menslike adviseurs oor die volgende tien jaar juis sal vervang nie, maar hy meen wel dat adviseurs meer tegnologie sal kan gebruik om op makliker maniere met hul kliënte te skakel. “Dit kan die belegger se volle finansiële lewe insluit, nie net die beleggingsportefeulje nie,” sê hy. “Adviseurs leer hul kliënte al hoe meer oor baie fasette van hul lewens, wat hul welvaart op lang termyn beïnvloed.

Ek dink ons sal die ontwikkeling van tegnologieë sien wat die nuwe vorm van adviseur-kliënt-verhouding vergemaklik, eerder as die vereenvoudigde transaksieverhouding wat vandag nog baie algemeen voorkom.” Daarbenewens verwag hy dat beleggers in die volgende dekade toegang tot enige faset van hul finansiële lewe van byna enige platform sal kan kry, weens die vordering van wolktegnologieë en -platforms, insluitende tekstoepassings, sosiale media en kleinhandelsaamvoegers. “

’n Belegger kan dan kies om byvoorbeeld met sy banktoepassing toegang tot sy aftree-rekeninge te kry, of om sy spaar- en fiksheidsdoelwitte aan ’n enkele platform te koppel waar sy bestedingsbelonings in sy gunstelingeffektetrust belê word,” sê Van Zyl.

Met betrekking tot aktiewe teenoor passiewe bestuur sê Van Zyl dat albei meriete het en dat tegnologie self niks sal verander nie. “Talle aktiewe bestuurders gebruik datawetenskap om nuwe insigte oor markte en ondernemings te kry, en tegnologie sal albei benaderings waarskynlik help om aan te pas en te ontwikkel eerder as om markte in ’n spesifieke rigting te stuur,” sê hy.

Ondanks tegnologie wat dit makliker maak om beleggings self te doen, sê Van Zyl daar is perke vir die aantal mense wat gemaklik is om belangrike, langtermynbeleggingsbesluite self te neem. “Langtermyn- finansiële besluite, soos hoeveel om vir aftrede te spaar en waar om aftreespaargeld te belê, kan selfs vir ervare beleggers oorweldigend wees,” sê hy. “Ons moet mense help om toegang te kry tot die soort advies en leiding wat hul behoeftes pas, op ’n manier wat gerieflik is en wat waarde vir geld bied relatief tot die uitkomste wat hulle lewer.”

Waarin sal ons belê en deur wie?

Die afgelope 20 jaar het die getal aandele wat op die JSE genoteer is met die helfte verminder.

Neville Chester, portefeuljebestuurder by Coronation

Neville Chester, portefeuljebestuurder by Coronation, sê ons moet nie verwag dat nuwe noterings binnekort op die JSE sal verskyn nie. “Met geen ekonomiese groei nie, wat die sleutel is om kleinsakeondernemings te help om te groei, is dit baie onwaarskynlik dat ons nuwe ondernemings sal sien om kapitaal te bekom,” sê hy.

“Die ander bron van nuwe maatskappye op die JSE is die notering van private ondernemings van private-ekwiteitsfirmas.

Met die baie lae waardasies van ondernemings op die JSE tans is dit ook onwaarskynlik dat dit sal gebeur. Hoe minder keuse ’n belegger het, hoe minder is die vermoë natuurlik om gediversifiseerde portefeuljes te bou en om nuwe groei- en beleggingsgeleenthede te identifiseer.”

Van den Berg glo egter dat ’n kleiner getal binnelandse aandele plaaslike fondsbestuurders en ontleders in staat gestel het om hoogs gespesialiseerd te raak in die aandele wat hulle volg, wat hulle in staat stel om vinniger ’n ingeligte besluit te neem om alfa-opbrengste, dit wil sê hoër as maatstafopbrengste, te verdien. Allan Gray se Van Zyl sê die aandelemark het vyf of ses jaar van swak opbrengste ervaar, as ’n mens die vier grootste aandele op die JSE nie in ag neem nie. “Ons genoteerde mark is nou meer gekonsentreerd as wat dit tien jaar gelede was,” sê hy.

“Op lang termyn sal dit die totale koste van belegging vir die gemiddelde belegger verlaag,” sê Van Zyl.

“Die aantal bekwame aktiewe bestuurders en passiewe opsies het ook oor die afgelope dekade toegeneem. Alles in ag genome dink ek dat dit oor die volgende dekade moeiliker sal wees om ’n volhoubare batebestuursonderneming in Suid-Afrika op te bou. Die mededinging is reeds skerp, en beleggers het meer keuses as wat hulle nodig het.”

Hy dink dat ons ’n gesonder bedryf vir beleggers sal hê as daar minder fondse is en as bestuurders sal konsolideer om voordeel te trek uit die skaalvoordele.

“Op lang termyn sal dit die totale koste van belegging vir die gemiddelde belegger verlaag,” sê Van Zyl.

Pieter Koekemoer, hoof van persoonlike beleggings by Coronation

Koekemoer sê met bykans 2 000 plaaslike effektetrusts wat deur byna 200 verskillende beleggingsbestuurders aangebied word, is die plaaslike fondsbedryf volwasse. “Die afgelope vyf jaar was die opbrengste teleurstellend omdat die plaaslike ekonomie gesukkel het om te groei,” sê hy. “Dit beteken ook dat verbruikers onder druk is, met minder bates beskikbaar om in te belê.

Hierdie kombinasie van ’n swakker waardevoorstel, ’n groter aanbod en ’n afname in die vraag, beteken dat die bedryf in die volgende dekade waarskynlik sal konsolideer eerder as om uit te brei.” Van Zyl verwag ook nie dat skansfondse gewilder sal word nie. “Daar is plek vir skansfondse in terme van diversifiseringsvoordele, maar vir die meeste langtermynbeleggers sal ’n eenvoudige gebalanseerde effektetrust in die meeste van hul behoeftes voorsien,” sê hy.

Mark Dunley-Owen, portefeuljebestuurder by Allan Gray

Mark Dunley-Owen, portefeuljebestuurder by Allan Gray, sê gegewe die sikliese en strukturele faktore is dit moontlik om redelike voorspellings te maak oor die bateklasprestasie in die volgende dekade, gebaseer op die onlangse geskiedenis. “Die bateklas wat die meeste ontstel, is vaste- inkomstebeleggings soos effekte,” sê hy.

“Hulle het baie jare van aantreklike opbrengste beleef as gevolg van dalende opbrengste (hoër pryse), lae inflasie en toenemende beleggersbelangstelling in vaste-inkomsteprodukte. Dit is onwaarskynlik dat hierdie soort voordelige periode van die afgelope jare herhaal sal word.”

“Die bateklas wat die meeste ontstel, is vaste- inkomstebeleggings soos effekte,” sê hy.

Dit is ook onwaarskynlik dat die negatiewe opbrengste op effekte in ontwikkelde markte aanloklike langtermynopbrengste sal bied, tensy inflasie in hierdie lande volhoubaar negatief is (deflasie), wat ons as onwaarskynlik beskou, sê Dunley-Owen. Hy sê die plaaslike genoteerde-eiendomsektor het ’n paar dekades lank ook ’n bulmark beleef, wat veroorsaak is deur ’n kombinasie van ’n lae beginpunt, weens die beperkte aanbod van eiendomme en goedkoop waardasies in die laat 1990’s, en die dalende rentekoerse wat die waardasies dus oor heelwat van die vroeë 2000’s verhoog het.

“Die regstelling van oordadigheid gedurende hierdie periode het die onlangse prestasie benadeel, maar ons glo dat hierdie sikliese regstelling nou byna voltooi is. In die toekoms sal strukturele neigings, soos aanlyn inkopies en ’n mobiele arbeidsmag, die vraag na eiendom beïnvloed, hoewel SA se geografiese en inkomsteuitdagings waarskynlik die impak van sulke risiko’s in die afsienbare toekoms sal beperk,” sê Dunley-Owen.

Ons rol as beleggers en aandeelhouers

Coronation se Chester sê dat namate die vereistes vir volhoubare groei op aandeelhouers se agendas belangriker word, sal die omgewing- en volhoubaarheidstendense verskerp. “Die grootste opskudding sal vir passiewe bestuurders wees wat uit die aard van die saak nie daarin geslaag het om hierdie doelwitte sinvol in hul bestuursprosesse te integreer nie,” sê hy.

“Namate meer geld passief geword het, sien ons minder aanspreeklikheid teenoor die werklike eienaars en beleggers in maatskappye. Hierdie veranderinge sal ’n groot impak op omgewings- en volhoubaarheidsdoelwitte (OVD’s) in die toekoms hê.” “Namate aandeelhouers se besluite ’n groter invloed op die bestuur van maatskappye het en die lyn tussen die uitvoerende bestuur van die maatskappy en aandeelhouers vervaag, sal daar ook meer aanspreeklikheid opwaarts vloei en sal aandeelhouers aanspreeklik wees vir die uitwerking van hul besluite op die maatskappye waarin hulle belê,” sê Chester.

Nazmeera Moola, hoof van Suid-Afrikaanse beleggings by Investec Batebestuur

Nazmeera Moola, hoof van Suid-Afrikaanse beleggings by Investec Batebestuur, sê OVD’s het oor ’n dekade van niks meer as ’n goeie bemarkingsbenadering nie na die middelpunt van beleggersbelangstelling beweeg. “Die eerste fase van integrasie behels die uitsluiting van verbode aandele of sektore,” sê sy.

“Die afgelope paar jaar het bate-eienaars wêreldwyd op hierdie gebied gevorder. Ons het heel onlangs gesien dat sekere groot bate-eienaars steenkool uit hul mandate uitsluit. Die gevolg is dat maatskappye soos Anglo American hul steenkoolbates wil verkoop. Sy sê die tweede fase het gelei tot die integrasie van OVD-oorwegings in die beleggingsproses. Nou sluit ontleders en portefeuljebestuurders selfs sogenaamde “sagte” gebiede soos arbeidspraktyke, omgewingspraktyke en sakebestuur in hul ontledings in. “

Sagte kwessies kan ’n harde finansiële impak hê, en dit kan maatskappywaardasies wesenlik beïnvloed,” sê Moola. Die derde fase van evolusie was die toenemende volwassenheid van aandeelhouersverbintenisse met uitvoerende leierskap, sê sy. “Die klein SA mark beteken dat ons nie kan besluit om elke problematiese onderneming te verkoop of te ignoreer nie,” sê Moola.

“Dis belangrik dat betrokkenheid nie net op OVD-kwessies fokus nie, maar op die strategiese sakekwessies waarmee ’n onderneming te kampe het.”

Vuyo Mroxiso, ’n beleggingsontleder by Allan Gray, sê die druk neem ook op maatskappye toe om aandag te skenk aan die verskil in verdienstes tussen bestuurders en werknemers. “Die Amerikaanse Securities and Exchange Commission het in Augustus 2015 ’n reël aanvaar wat vereis dat openbare ondernemings die verskil tussen die verdienste van uitvoerende hoofde en middelvlakwerknemers moet bekend maak,” sê hy.

“Dis belangrik dat betrokkenheid nie net op OVD-kwessies fokus nie, maar op die strategiese sakekwessies waarmee ’n onderneming te kampe het.”

“In Januarie 2019 het die Britse regering ook regulasies oor salarisverhoudings ingestel wat dit vir maatskappye met meer as 250 werknemers en wat in die Verenigde Koninkryk geïnkorporeer is, verpligtend maak om die verhouding tussen die verdienste van hul uitvoerende hoofde en die mediaan, laer kwartiel en boonste kwartiel van hul Britse werknemers bekend te maak.”

Mroxiso sê dit word gedoen in die oortuiging dat regerings moontlik stappe kan doen as ondernemings nie ag slaan op die wêreldwye oproep om ongelykheid te verminder nie.

“Hoewel daar in SA geen regulatoriese bepalings is dat maatskappye salarisgapings moet openbaar nie, het ’n paar maatskappye dit op hulself geneem om hierdie wêreldwye tendens hul eie te maak,” sê hy.

“Dit is hoogs waarskynlik dat die openbaarmaking van die salarisverhouding binnekort ’n norm vir JSE-genoteerde maatskappye sal word.” 

Foto’s: Agrief I www.allangray.co.za

Foto’s: Agrief I www.bcisconference.com

Meer oor:  Finweek  |  Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.