Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
5G: Kyk deur die samesweringsteorieë
22 Oktober 2020
Foto: Shutterstock

Van die vreemde verklarings vir die uitbreek en verspreiding van die koronavirus is dat dit saamhang met die onlangse inwerkingstelling van 5G-tegnologie. In krisistye kan samesweringsteorieë so vinnig soos ’n virus versprei.

Terwyl die pandemie se greep op die wêreld verskerp het, het ons almal gesukkel, en sukkel ons steeds om die omvang van die situasie te begryp. Die kersie op die koek was 5G. Nou wat is 5G nou eintlik? 5G is ’n opgradering van die vorige generasies van 2-, 3- en 4G. Maar dit is ook veel meer. Dié kragtige tegnologie gaan die basis wees vir wat die telekommunikasiebedryf ’n ‘rewolusie’ noem.

Dit sal meer komplekse toepassings van die internet toelaat. 5G is nodig om bestuurderlose motors, afstand-chirurgie, sowel as slim stede en huise te onderhou, insluitend vinnige toegang tot flieks en musiek. Om dit alles te bereik, sal die 5G-netwerk die millimetergolwe-deel van die frekwensiespektrum gebruik. Dit is laekrag-golwe van kort afstand wat nie deur mure of ander hindernisse, soos bome, kan gaan nie.

Hulle kan individueel aangestuur word, maar moet via klein antennas vanaf ’n basisstasie oorgedra word om hindernisse te vermy en hul bestemming te bereik.

Dié stasies is meestal klein. Dit sal data-ondernemings noop om tienduisende van hierdie klein basisstasies op strategiese plekke aan die binnekant sowel as die buitekant van geboue te plaas.

Tans gebruik die 4G-netwerk minder antennas en is minder opsigtelik, danksy die langer uitsendingstrekwydte. Vanweë die komende groot aantal antennas ontstaan die vrees vir die skadelike gevolge van bestraling. Die meeste navorsing oor bestraling deur mobiele tegnologie en gesondheid is op 2G- en 3G-tegnologieë gedoen.

Omdat die wêreld die 5G-era betree het, kan wetenskaplikes na duisende studies en berekeninge kyk oor die gevolge van bestraling van 2G en 3G op gesondheid. Maar daar is sterk meningsverskil oor hoe om die resultate te vertolk – en die implikasies vir die 5G-netwerk, wat nuut is, en dus ’n gebrek aan studies is. Vir my gaan dit meer oor ’n beleggingstema.

Tematiese belegging behels die skep van ’n portefeulje (of ’n gedeelte daarvan) deur ’n versameling van maatskappye wat betrokke is in sekere sektore bymekaar te groepeer, wat moontlik op die lang termyn opbrengste bo die mark sal lewer.

’n Klassieke voorbeeld van so ’n beleggingstema is 5G-tegnologie. In hierdie tyd van enorme onsekerheid moet ’n mens seker maak van wat jy lees en wat jy hoor. Jy kan dalk net ’n goeie belegging mis. Dit is waar Verizon Communications my oog gevang het. Die kode vir Verizon is VZ en hy is op die New Yorkse aandelebeurs genoteer. Verizon is ’n beheermaatskappy wat betrokke is by die verskaffing van kommunikasie-, inligting- en vermaaklikheidsprodukte en -dienste aan verbruikers, besighede en regeringsagentskappe.

Wat maak die aandeel aantreklik as ’n beleggingsopsie?

’n ‘Wisselvalligheidsdruk’ (volatility squeeze) kom voor wanneer die wisselvalligheid van ’n aandeel laag is in verhouding met vorige tydperke. Onthou dat wisselvalligheid ’n statistiese berekening is wat bepaal in watter mate die pryse op en af beweeg.

’n Afname in wisselvalligheid beteken gewoonlik dat die aandeel in ’n periode van konsolidasie is en daarvoor in ’n nou band verhandel. Wisselvalligheidsdruk word gewoonlik uitgeken deur die vernouing van die Bollinger-bande.

Bollinger-bande is ’n tegniese aanwyser wat meestal gebruik word om wisselvalligheid van ’n aandeel te bepaal (sien die bande om die prysaksie op die grafiek). Die beste tegniese prysbewegings ontstaan gewoonlik vanaf ’n periode van lae wisselvalligheid.

Maar moet jy koop?

Indien jy glo in die wisselvalligheidsdruk en dat dit moontlik kan uitspeel is dit miskien raadsaam om die aandeel te koop. Die probleem is dat jy geduldig gaan moet wees. Sulke wisselvalligheidsdrukke kan baie vinnig realiseer of kan ’n lang tyd neem om uit te speel.

Die grafiek is die langtermyn- (maandelikse) grafiek van Verizon se aandeelprys. Neem kennis dat die skaal ’n logaritmiese skaal is. Die onderste paneel van die grafiek dui die wisselvalligheidsdruk van die aandeel aan. Hoe laer die lesing, hoe laer is die wisselvalligheid. Die verwagting is dat die wisselvalligheid kan toeneem.

Die wydte van die Bollinger-bande dui ’n moontlike teikenprys van omtrent $70 aan. Dit sal raadsaam wees om hier wins te neem. Indien die prys onder die vlak van $51 daal, sal ek bekommerd raak en dié vlak gebruik om ’n stop-verlies op te stel.

Dit is altyd raadsaam om ’n wins-teikenprys vooraf te bepaal sowel as ’n stop-verlies. ’n Mens kan immers altyd jou wins-teikenprys aanpas.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Peet Serfontein is ’n onafhanklike markontleder.


Meer oor:  Finweek  |  5G
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.