Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Aandele wat planeet en digitale lewenstyl beskerm
11 Junie 2021
Foto’s: Shutterstock

Twee dinge het in die middelste week van Mei gebeur wat nog meer uitgelig het hoe belangrik ’n toekoms met skoner energie is. Elon Musk, stigter van Tesla, het die opsie gestaak om met kriptogeldeenhede vir sy maatskappy se produkte te betaal.

Dit gebruik baie energie om te myn. ’n Tweede, minder glansryke ding het gebeur wat egter veel grondliggender as die uitsprake van ’n beroemde uitvoerende hoof is. Dit wys dat maatskappye begin saamwerk vir die ontkoling van die planeet: die prys van ’n ton koolstof het vir die eerste keer tot bo €50 gestyg. Dis ’n fundamentele saak. Baie is al geskryf oor mense se uitbuiting van die aarde.

In ’n onlangse verslag van die Wêreld-Ekonomiese Forum word dit só opgesom: 32% van die planeet se woude is vernietig, 40% van werwellose bestuiwers (soos bye) word deur uitwissing bedreig, grondoppervlakproduktiwiteit (onder meer om voedsel te produseer) het weens grondagteruitgang (soos erosie) met 23% afgeneem en 50% van spesies word deur uitwissing teen die einde van die eeu bedreig – dis oor 79 jaar. As daar niks aan aardverwarming gedoen word nie, sal dit teen 2099 tussen 4,1°C en 4,8°C warmer as voornywerheidsvlakke wees.

Dis ironies dat die strewe na skoner energieopwekking – en weg van mense se millennia lange gebruik van koolstof vir verhitting – die vraag na sekere minerale vergroot. Dit wissel van litium (om batterye te maak), koper (as deel van alternators in windturbines) en rodium (in katalisators vir motorvoertuie om gifgasse te verminder) tot nikkel (ook om batterye te maak) en iridium (’n verhardingsagent vir platinum wat ook in katalisators gebruik word). Die onlangse aandeelpryse van maatskappye wat dié metale ontgin, wys wat met die vraag-en-aanbod-dinamiek van die minerale gebeur.

Elon Musk, stigter van Tesla

Musk se kritiek op kriptogeldeenhede sowel as die stygende koste van die vervaardiging van produkte wat elektrisiteit gebruik, laat nou dié vraag vir beleggers ontstaan: Hoe sal energiehonger tegnologieaandele werk in ’n wêreld waar ons besorg is oor energieopwekking se uitwerking op die klimaat? Baie waarde is in die buiteland geskep in grootdata-aandele soos Amazon, Microsoft, Facebook, Netflix, Alibaba, Tencent, Alphabet (eienaar van Google) en ander. Dit sal in ’n toenemend gedigitaliseerde wêreld moeilik wees om dié tendens om te swaai. Om by die konsep van die gedigitaliseerde wêreld te bly: Energieverbruik is net een – hoewel ’n belangrike – aspek daarvan.

Nog ’n oorweging in die digitale wêreld wat amper net só belangrik is, is dat misdadigers aan dieselfde wêreldwye web verbind is. Ongeag of dié misdadigers deur regerings geborg word – soos China of Rusland – of opportunistiese individue is, kos dit die wêreldekonomie miljarde weens verlore geleenthede en losprysbetalings. Dis ’n groot gat in ’n wêreld met beperkte hulpbronne. Die teenvirusmaatskappy McAfee het in April gesê nuwe wanwarevoorbeelde het in die laaste drie maande van verlede jaar met 10% toegeneem.

Dit was gemiddeld 648 bedreigings per minuut. Losprysware, waar ’n misdadiger ’n persoon of onderneming se rekenaarstelsel oorneem en ’n losprysbetaling eis om die data vry te stel of weer toegang toe te laat, het in die laaste kwartaal met 69% toegeneem, volgens McAfee. Kaspersky Lab, nog ’n teenvirus-programmatuurmaatskappy, het ’n toename van 767% in lospryswareaanvalle teen programmatuurgebruikers tussen 2019 en verlede jaar opgemerk.

Die bedreiging is nie tot rekenaars beperk nie – Kaspersky sê hy het ’n toename van 118% opgemerk in wanware wat op mobiele toestelle, soos selfone, gemik is. Die winsgewendheid van losprysware is verbysterend. Kaspersky sê een “familie” (in biologiese terme “stam”) losprysware genaamd WannaCry het in 2017 na vore gekom en $4 miljard se skade in 150 lande veroorsaak.

“22% van die gebruikers wat losprysware in 2019 teëgekom het, het WannaCry teëgekom – wat verlede jaar tot 16% afgeneem het,” het Kaspersky in ’n April-verslag gesê. Teen die agtergrond van die groter strewe na skoner energieopwekking – in ’n poging om die menslike spesie aan die lewe te hou – en die winsgewende onderwêreld van kubermisdaad wat baie van die skaars ekonomiese hulpbronne (geld) verg, ontleed ons ’n paar genoteerde maatskappye wat dalk in die toekoms uit dié temas voordeel sal trek. Dié maatskappye sal óf die energiebehoeftes van die gedigitaliseerde wêreld aandryf, óf sekuriteit daarvoor bied. Wees egter bedag daarop dat wanneer ons na ’n maatskappy se historiese prestasie verwys, ons nie aanneem dat dit in die toekoms herhaal sal word nie.

Groen is goud

Die sleuteloorweging in finansiering vir klimaatoptrede is om mense se uitwerking op die planeet te beperk en om te swaai. Die Wêreld- Ekonomiese Forum skat dat $44 000 miljard van die planeet se bruto binnelandse produk (BBP) – amper die helfte daarvan – baie of taamlik baie van die natuur afhanklik is. Paulson Institute reken byvoorbeeld dat as alle bestuiwers, soos bye, skoenlappers, motte en ander insekte, verloor word, die jaarlikse landbou-uitset met $217 miljard sou daal.

Ten minste het kapitaal na natuurbewaring begin vloei. Paulson Institute skat die finansiële vloei na bewaring in 2019 op tussen $124 miljard en $143 miljard. Die instituut skat egter dat om die vermindering in biodiversiteit teen 2030 om te swaai, mense die sogenaamde biodiversiteitsgaping tussen 2020 en 2030 met gemiddeld $711 miljard per jaar moet finansier. Met die geskatte wêreldbevolking van 7,5 miljard toon ’n vinnige sommetjie dat dit ’n “biodiversiteitsbelasting” van sowat $94,80 (R1 305) vir elke mens beteken.

Volgens die instituut se navorsing het “natuurgegronde oplossings en koolstofmarkte” teen 2019 net tussen $800 miljoen en $1,4 miljard per jaar bygedra. Dit hou verband met koolstofkredietmarkte en wys hoe klein dié meganisme se uitwerking is. Lande se begrotings en belasting het tussen $75 miljard en $78 miljard van die jaarlikse vloei van $124 miljard tot $143 miljard bygedra.

Infrastruktuur, soos vermoë vir skoon energieopwekking, lok die laaste tyd baie kapitaal in ’n poging om die wêreldekonomie van koolstofryk bronne te speen. Plaaslik het die regering se verkrygingsprogram vir onafhanklike kragprodusente van hernubare energie (REIPPPP) teen einde September R209,7 miljard se aandeel- en leningkapitaal gelok, volgens die IPPPP-kantoor.

Die regering het op 26 Mei die bieërkonferensie vir die vyfde geleentheid (sesde ronde) vir nuwe hernubare-energieprojekte aangebied. Suid-Afrika is maar een nasie wat skoner energie-alternatiewe vir ongesonde afhanklikheid van steenkoolaangedrewe kragopwekking instel. Die vraag is nou wie die wêreld se verskaffers van dié projekte is.

Vestas Wind Systems, ’n Duitse vervaardiger van windturbines en projekbestuurder vir die konstruksie daarvan, het meer as 18% van die wêreld se geïnstalleerde windvermoë (136 GW van 740 GW) opgerig. Vestas lewer dienste aan nog 118 GW waar hy data gebruik om windhulpbronne te interpreteer, te voorspel en te benut.

Die maatskappy het in die eerste drie maande van vanjaar bestellings vir nog 2 016 MW se installasies (ter waarde van €1,6 miljard) gekry, terwyl bestellings van nog 973 MW se turbines in die tweede kwartaal tot 21 Mei ontvang is. Sedert begin vanjaar was die grootste bestelling vir 404 MW, wat by die Mutkalampi-projek in Kannus-munisipaliteit in Finland geïnstalleer sal word. Vir die hele 2020 het die maatskappy bestellings vir 17 249 MW se windturbines ontvang.

Vestas het op 5 Mei gesê dat hy ondanks die afname in bestellings in die eerste kwartaal ’n algehele rekord- agterstand met windturbinelewerings ter waarde van €19,4 miljard (of 24 814 MW se geïnstalleerde vermoë het). Dis interessant dat die maatskappy berig het dat hy in die eerste kwartaal 49 MW se geïnstalleerde vermoë en verlede jaar 132 MW aan SA gelewer het.

In die eerste kwartaal het kragoplossings, die maatskappy se hoofafdeling, wat die turbines vervaardig, ’n skerp daling beleef. Die verkope was 12% minder terwyl die maatskappy met aanvoerkettingkwessies weens Covid-19 geworstel het. Die dienste-eenheid se prestasie was bestendiger – wat omgesien het na 49 400 turbines, wat 118 MW elektrisiteit opwek. Dié eenheid mik daarna om die verlore produksie van aanlandige en aflandige turbines te verminder en het sedert 2009 die verlies by sowat 35 000 turbines amper gehalveer.

Die eenheid se inkomste het in die eerste kwartaal met 10% gestyg. Die bestuur verwag dat dit vir die volle jaar met 15% sal styg. Dis ’n belangrike groeifaktor vir Vestas, want dié inkomste, anders as die eenmalige koste van die vervaardiging, installering en koppeling van ’n windturbine, word elke jaar herhaal. Vestas se aandele, wat in Kopenhagen genoteer is, het die afgelope 12 maande 75,8% in Deense kroon opgelewer en verhandel teen ’n taamlik duur 39,5 keer die verdienste (kyk na grafiek 1 vir die aandeelprysbeweging).

Die maatskappy verwag dat sy inkomste van €14,8 miljard vir verlede jaar vanjaar tot tussen €16 miljard en €17 miljard sal toeneem. Die konsensusskatting van 20 ontleders is vir netto wins van tussen €714 miljoen en €1,27 miljard, met gemiddeld €1,026 miljard volgende jaar. Dis ’n verwagte styging van 33% teenoor verlede jaar se €771 miljoen.

As dit gebeur, beteken dit dat Vestas tans teen 26,4 keer sy voorspelde 2022-verdienste verhandel. Teen ’n voorspelde dividend van €0,32 (2,38 kroon) per aandeel volgende jaar, is die voorspelde dividendopbrengskoers 1%. Ørsted, wat genoem is na Hans Christian Ørsted, ’n Deense fisikus en chemikus wat elektromagnetisme ontdek het, lewer skoon energie aan herverkopers in onder meer Denemarke, Pole, Brittanje en Amerika. Die maatskappy is in Kopenhagen genoteer.

Anders as Vestas, wat kragopwekkers vervaardig en dienste daarvoor lewer, is Ørsted ’n nutsmaatskappy. Ørsted het einde verlede jaar ’n geïnstalleerde vermoë van 7 572 MW aflandige turbines en 1 658 MW aanlandige turbines gehad. Die maatskappy het finale beleggingsbesluite geneem vir nog 2 286 MW se aflandige wind-, 665 MW se aanlandige wind- en 1 077 MW se sonkragprojekte.

Namate die prys per geïnstalleerde megawatt windkragopwekkingsvermoë deur die jare gedaal het, het die insluiting van dié soort energie toegeneem. Tussen 2015 en verlede jaar is 3 000 MW se aflandige windvermoë jaarlikse geïnstalleer, met 7 000 MW per jaar wat tot 2025 geskat word, volgens Ørsted. Die maatskappy verwag dat dié syfer tussen 2025 en 2030 tot 20 000 MW sal toeneem.

In Noord-Amerika, waarop die maatskappy sy hoop vir toekomstige groei vestig, verwag hy dat al die land se hernubare- energievermoë meer as sal verdubbel van 240 000 MW verlede jaar tot 512 000 MW in 2030. Terwyl president Joe Biden se regering skoner energieopwekking bevorder, het Ørsted beleggingsbesluite vir 1 714 MW se aflandige windturbines in die noordooste van Amerika en 1 220 MW in die Middel-Atlantiese streek afgehandel.

Nog 1 742 MW se aanlandige windvermoë word vir die maatskappy in Texas, Alabama en Nebraska gebou. Ørsted het aan die mark gesê hy verwag verdienste voor rente, belasting, depresiasie en amortisasie (ebitda) van tussen 15 miljard en 16 miljard kroon vir vanjaar. Dis minder as verlede jaar se 18,1 miljard kroon.

Die laer verwagte syfer is die gevolg van onder meer hoë windspoed by sy aflandige opwekkingseenheid (9,7 m/s verlede jaar, vergeleke met die normale 9,3 m/s) en hoë bedryfsbesteding by twee groot aflandige windplase in Brittanje en Taiwan.

Die maatskappy se aandeelprys het die afgelope jaar 20% in kroon opgelewer. Teen ’n historiese prys-verdienste-verhouding (p/v) van 36 en ’n dividendopbrengskoers van 1,23% is die aandeel nie goedkoop nie. In ’n opname oor toekomstige prestasie verwag 28 ontleders dat Ørsted se ebitda van verlede jaar se 18,1 miljard kroon tot 25,5 miljard kroon vanjaar sal styg en aanstaande jaar tot 22,2 miljard kroon sal terugsak.

Die daling kan daaraan toegeskryf word dat ontleders nie bereid is om konstruksiekontrakte so ver in die toekoms te voorspel nie. Tog word verwag dat die hoofkomponent – persele, bedrywighede en bestuur en kragkoopooreenkomste – van 15,47 miljard kroon verlede jaar tot 16,4 miljard kroon vanjaar, 20,07 miljard kroon aanstaande jaar en 23,4 miljard kroon in 2023 sal groei. Van die 28 ontleders wat uitgevra is, het 11 ’n koop-, 11 ’n hou-, vyf ’n verkoop- en een ’n onderprestasieaanbeveling vir die aandeel teen die huidige prys van 933,60 kroon.

Kubersekuriteit

Terwyl skoon energie mense se fisieke bestaan op die planeet kan verseker, vind hul interaksies (sowel sosiaal as ekonomies) al hoe meer digitaal plaas. Al sal ons as ’n spesie dalk daarin slaag om ons rekenaarstelsels in die toekoms met skoon energie aan te dryf, is daar steeds daardie lastige kwessie genaamd kubermisdadigers wat ons interaksie versteur en ’n geweldige las op ons skaars hulpbronne plaas.

Krakers (of hulle nou deur nydige regerings geborg word of gierige individue of groepe mense is) het só ’n groot bedreiging geword, dat die Amerikaanse weermag 11 jaar gelede ’n kuberbevelgroep opgestel het om die gevare van aanlyn oorlogvoering en ontwrigting te hanteer.

Misdadigers het reusegeleentheid om kommersiële belange aan te val. Juniper Research, ’n navorsingsmaatskappy wat op die tegnologiemark gerig is, skat dat die wêreldwye digitale handelsbesteding vanjaar $11 600 miljard sal bedra – ’n styging van 12% teenoor verlede jaar. Daarvan sal 73% op mobiele toestelle (soos fone) plaasvind.

Terselfdertyd sal die internasionale verliese weens e-handelbedrog vanjaar sowat $20 miljard bedra (of gelykstaande met byna 6% van SA se BBP). “Die groot aantal dataskendings spoor die gebruik van sintetiese identiteit aan, wat sterk strategieë vir digitale identiteitsverifikasie belangriker as ooit vantevore maak,” het Juniper in Mei gesê. Die vraag is nou watter kubersekuriteitsmaatskappye in die toekoms waarde inhou terwyl ondernemings en individue hul digitale sekuriteit moet verbeter.

Cisco Systems, wat in 1984 begin is en een van die oudste name in die rekenaarbedryf is, word tradisioneel met fisieke rekenaarnetwerke verbind, veral vir groot maatskappye en regerings. Dis duidelik uit sy jongste voljaarresultate tot en met 25 Julie verlede jaar, toe inkomste uit sy infrastruktuurplatform-eenheid $27,1 miljard van sy produkverkope van $35,9 miljard bygedra het.

Sy sekuriteitsafdeling se verkope het egter bestendig toegeneem – van $2,38 miljard in 2018 tot $3,15 miljard verlede jaar. Wanneer die eerste nege maande van die huidige boekjaar (tot 1 Mei) met die vergelykbare tydperk ’n jaar tevore vergelyk word, het sekuriteitsverkope met 9,2% tot $2,5 miljard toegeneem. Cisco se aandele het die afgelope jaar 14,2% opgelewer en verhandel teen $52,90 elk teen ’n historiese p/v van 20, met ’n dividendopbrengskoers van 2,8% (kyk na grafiek 3).

Volgens ’n Wall Street Journal-opname van 30 ontleders word ’n verdienste per aandeel van $3,20 vir die 2021-boekjaar tot einde Julie verwag en $3,39 miljard vir aanstaande jaar (teenoor $3,43 miljard ’n maand gelede). Dit gee Cisco ’n verwagte p/v van 16,5 vir vanjaar en 15,6 vir volgende jaar. As sy p/v by 20 bly (en aandeelhouers reken dis nie ’n duur waardasie nie), beteken dit dat daar stygpotensiaal van 21% teen die einde van sy 2021-boekjaar en 28% teen einde Julie aanstaande jaar vanaf sy huidige waardasie is.

NortonLifeLock, wat onder meer Norton-sekuriteit verkoop en in Arizona geleë is, het teen die einde van sy boekjaar op 3 April verlede jaar 20 miljoen regstreekse en 30 miljoen onregstreekse kliënte met ’n behoudkoers van 85% gehad. Hy was bekend as Symantec voordat hy in 2019 sy naam na NortonLifeLock verander het.

Symantec het in 2016 Blue Coat, ’n wolksekuriteitverskaffer, vir $4,65 miljard kontant verkry en Greg Clark, uitvoerende hoof van die verkrygingsteiken, as sy eie aangestel. Die volgende jaar het Symantec vir LifeLock, wat betrokke is by beskerming teen identiteitsdiefstal, vir $2,3 miljard verkry en in dié stadium geskat dat die mark vir digitale identiteitsbeskerming in Amerika sowat $10 miljard per jaar werd was.

Symantec het in sy finansiële state vir 2017 ’n netto inkomste van $4,01 miljard (teenoor $3,6 miljard die vorige jaar), langtermyn-skuld van $6,87 miljard (teenoor $2,2 miljard in 2016) en aandeelgegronde bestuursvergoeding ter waarde van $430 miljoen ($162 miljoen in 2016) verklaar. Die aandeelprys het teen Oktober 2017 tot net meer as $18 gestyg. Toe hy sy resultate vir die volle boekjaar teen einde April uitgereik het, was aandeelhouers nie beïndruk nie en het die aandeel binne dae ’n derde van sy waarde tot net bo $10 verloor.

Vestas Wind Systems, ’n Duitse vervaardiger van windturbines en projekbestuurder vir die konstruksie daarvan, het meer as 18% van die wêreld se geïnstalleerde windvermoë opgerig.

Selfs nadat hy meer as $1,8 miljard se skuld afbetaal en die maatskappy na winsgewendheid teruggekeer het met netto inkomste per aandeel van $1,70 (teenoor ’n verlies van $0,17 in 2017), het hy in 2019 ’n bestuursverandering gehad en nog $1 miljard se skuld betaal voordat die aandeelprys in Februarie 2019 weer sy hoogtepunt van Oktober 2017 bereik het.

Nadat hy sy ondernemingsekuriteitsake in die 2020-boekjaar vir $5,3 miljard aan Broadcom verkoop het, het NortonLifeLock die meeste van die opbrengs as ’n dividend van $7,2 miljard aan aandeelhouers teruggegee. Die aandeelprys het met 66% gestyg sedert dit in Maart verlede jaar na-dividend verhandel (kyk na grafiek 4). Sake lyk goed vir die maatskappy.

NortonLifeLock het teen middel Mei rekordinkomste vir die vierde kwartaal van $672 miljoen verklaar (9% meer as in die laaste kwartaal van die vorige jaar). Die winsgewendheid het ook toegeneem, met die verdienste per aandeel wat met 52% tot $0,35 gestyg het. Aandeelhouers het toegetree en die aandeelprys het met meer as 30% tot die huidige $27,66 gestyg.

Hy verhandel nou teen ’n historiese p/v van 24 en ’n dividendopbrengskoers van 1,8%. Volgens ’n Wall Street Journal-opname van 13 ontleders word verdienste per aandeel van $1,71 vir sy huidige 2022-boekjaar geskat, teenoor $0,92 vir 2021 en $1,90 vir 2023. Ses ontleders het ’n koop-, twee ’n oorgewig-, vier ’n hou- en een ’n ondergewigaanbeveling vir die aandeel.

Volgens hul voorspellings is sy verwagte p/v 16,1 vir 2022 en 14,5 vir 2023. As NortonLifeLock se p/v 24 bly (en aandeelhouers reken dis nie ’n duur waardasie nie), is daar stygpotensiaal van 48% teen die einde van sy boekjaar aanstaande jaar en 65% teen die einde van die 2023-boekjaar teenoor die huidige waardasie. As die aandeel egter teen dieselfde p/v as Cisco aangeslaan word, is die stygpotensiaal teen einde Maart aanstaande jaar 24% en 37% ’n jaar later teenoor die huidige waardasie.

Die internasionale verliese weens e-handelbedrog sal vanjaar sowat $20 miljard bedra (of gelykstaande met byna 6% van SA se BBP).

Gevolgtrekking

Dis vir kleinbeleggers met ’n buitelandse verhandelingsrekening moontlik om te belê in maatskappye wat winsgewend tot skoner energieopwekking en die beskerming van ons toenemend gedigitaliseerde lewenstyl bydra.

Daar is baie ander aandele, wat in die buiteland in die sektor vir skoon energie genoteer is, wat nie bespreek is nie: Enphase Energy, ’n verskaffer van mikro-omskakelaargegronde sonkragstelsels (wat die afgelope 12 maande ’n opbrengs van 145% behaal het), Xcel Energy, ’n elektrisiteitsverspreider in die Midde-Weste van Amerika wat daarna streef om 80% van sy brandstofmengsel teen 2030 uit hernubare bronne te kry (wat die afgelope 12 maande 12% vir aandeelhouers opgelewer het) en SolarEdge Technologies, ’n Amerikaanse maatskappy wat omskakelaars vir fotovoltaïese sonkragstelsels maak (wat die afgelope 12 maande 81% opgelewer het). Dit geld ook vir kubersekuriteitsmaatskappye met hul annuïteittipe inkomste uit intekeninge.

Maatskappye wat nie bespreek is nie, maar wat uitstaan, is onder meer Fortinet (12-maande-opbrengs van 57%), McAfee (wat op 22 Oktober verlede jaar teen $20 genoteer het en nou teen $25,13 verhandel – ’n styging van 25% oor sewe maande) en Juniper Networks (12-maande-opbrengs van 12,2%). Die afgelope 12 maande het kubersekuriteit- sowel as windenergie-indekse getoon dat geld gemaak kan word (kyk na grafiek 5). ’n Mens kan net hoop dat fondsbestuurders dié aandele binnekort plaaslik deur byvoorbeeld beursverhandelde produkte aan kleinbeleggers beskikbaar sal stel. 

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

 * www.vestas.com, www.orsted.com

Meer oor:  Elon Musk  |  Digitaal  |  Aandele  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.