Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Aanmeld van korrupsie is ononderhandelbaar
21 November 2019

In baie ander lande is dit nie verpligtend om korrupsie of vermeende korrupsie aan te meld nie. In Suid-Afrika is dit ’n misdaad om dit nie te doen nie.

Die reputasieskade wat dit kan inhou wanneer ’n maatskappy ’n ondersoek na korrupsie verkeerd kry, kan brutaal wees. ’n Voorbeeld hiervan is die ondersoek deur die regsfirma Hogan Lovells na verdagte transaksies deur ’n senior amptenaar by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

Ondanks verskeie onlangse voorbeelde word steeds te min aandag geskenk aan die belangrike wegspringplek van ’n ondersoek: om die omvang en mandaat van die ondersoek te bepaal, sê Matthew Purchase, ’n vennoot by regsfirma Bowmans.

Die reputasieskade wat dit kan inhou wanneer ’n maatskappy ’n ondersoek na korrupsie verkeerd kry, kan brutaal wees.

“Ons het in Suid-Afrika gesien dat wanneer ’n ondersoek gekritiseer word, dit dikwels is omdat die mandaat en die bestek van die ondersoek te eng gefokus is of kwessies uitsluit wat eintlik ondersoek moes word,” het Purchase op ’n onlangse Pan-Afrikaanse teenkorrupsie-spitsberaad in Johannesburg gesê.

Op die konferensie is beste praktyke vir teenkorrupsieondersoeke asook die regte van werknemers tydens ’n ondersoek bekyk. Naas ’n robuuste mandaat is dit uiters belangrik om bewysmateriaal so spoedig moontlik in te samel en te bewaar, sê Ahmed Mokdad, ’n genoot in regsfirma Covington se praktyk vir voldoening en ondersoeke in Johannesburg.

Allereers moet maatskappye egter beleid in plek hê oor kwessies rakende die aanmeld van korrupsie en riglyne vir die bewaring van bewysmateriaal, die verklarings van getuies en hoe om privaatheid en vertroulikheid te hanteer.

Insameling van inligting

Kwessies soos beskermde en vertroulike inligting, asook privaatheid, moet sorgvuldig oorweeg word, veral wat werknemers se kommunikasie (e-posse, boodskappe en WhatsApps) op hul private toestelle betref. Volgens Purchase is sommige inligting – soos maatskappyverwante e-posse – makliker verkrygbaar.

Daar is egter ’n “natuurlike spanning” wanneer dit by persoonlike toestelle kom en wat die maatskappy toegelaat word om vir evaluering te verkry. In Suid-Afrika gebruik baie mense hul persoonlike toestelle vir werksdoeleindes.

Mark Finucane, vennoot by Covington

Mark Finucane, ’n vennoot by Covington, sê die Amerikaanse departement van justisie het enkele riglyne uitgereik oor hoe dit benader behoort te word, maar dit is nie “besonder spesifiek nie”.

Een “risikogebaseerde” antwoord is om werknemers te verbied om werksake te bespreek in persoonlike e-posse of in boodskappe op hul persoonlike toestelle wat heeltemal buite die maatskappy se kommunikasieplatforms is.

“Die vraag is hoe jy vasstel wat werknemers nou eintlik op hul persoonlike toestelle doen. As dit aan die maatskappy behoort, mag die maatskappy dit konfiskeer en toegang daartoe verkry, maar wanneer jy ’n foon konfiskeer wat aan ’n werknemer behoort . . . dit kan in verskeie regsgebiede regsprobleme laat ontstaan,” sê Finucane.

Covington het al sukses behaal met die verkryging van werknemers se toestemming om die inhoud op private toestelle te bekyk deur te verduidelik dat dit standaardpraktyk is in ’n ondersoek en dat slegs werksverwante e-posse of werksverwante kommunikasie bekyk sal word. In Suid-Afrika is dinge egter minder duidelik afgebaken.

Reg op privaatheid in die Grondwet

Mokdad wys daarop dat die reg op privaatheid in die Grondwet vasgelê is en beskerm moet word. Hy verwys na die wetgewing wat die monitering van en toegang tot persoonlike inligting reguleer: Die Wet op die Regulering van die Onderskepping van Kommunikasie en Voorsiening van Kommunikasieverwante Inligting (Rica).

Die grondwetlikheid van dié wet is deur die ondersoekende joernaliste by amaBhungane en Sam Sole, mede-besturende direkteur van amaBhungane, in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria betwis.

Die grondwetlikheid van dié wet is deur die ondersoekende joernaliste by amaBhungane en Sam Sole, mede-besturende direkteur van amaBhungane, in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria betwis.

Die hof het in hul guns beslis. Bepaalde regsbeginsels in verband met die onderskepping van en toegang tot persoonlike inligting is neergelê in dié saak, wat deur Dario Milo van Webber Wentzel gelei is. Mokdad wys egter daarop dat die Rica-wet ’n werkgewer nie “heeltemal” verbied om toegang tot inligting te verkry nie. Daar moet ’n “sakebehoefte” of ’n “redelike sakebehoefte” bestaan om dit te doen.

In Suid-Afrika – wat ’n telling van 43 uit 100 behaal het in Transparency International se Korrupsiepersepsie-indeks vir 2018 – is die rol van fluitjieblasers kritiek om korrupsie oop te vlek. finweek het al voorheen verwys na die gebrekkige beskerming wat ons huidige wetgewing (die Wet op Beskermde Bekendmakings) aan fluitjieblasers bied.

Purchase sê dat daar dikwels ’n misverstand heers oor die aanmelding van korrupsie – die verpligting rus nie op die maatskappy nie, maar op die individu. Ondersoekers sal moet verseker dat fluitjieblasers beskerm word, maar hulle sal ook werknemers wat nie wil saamwerk nie – dikwels weens vrees vir vergelding – moet hanteer.

Die werknemer se regte en verpligtinge

Die gemenereg in Suid-Afrika bepaal dat werknemers die plig van uiterse lojaliteit aan die werkgewer verskuldig is.

Ons arbeidswetgewing gaan selfs so ver as om te sê as ’n werknemer-getuie versuim om sy of haar samewerking te gee, dit as ondermyning beskou kan word. Dit kan meebring dat dissiplinêre stappe teen die “ontoeskietlike werknemer” ingestel word.

Mokdad sê dit beklemtoon die wanbalans tussen arbeidswetgewing en die verpligting wat die werknemer teenoor die maatskappy het.

“Om ’n werknemer te dissiplineer, sal nie noodwendig die resultate lewer waarna jy op soek is nie en kan selfs tot groter verset by die getuie lei.”

“Om ’n werknemer te dissiplineer, sal nie noodwendig die resultate lewer waarna jy op soek is nie en kan selfs tot groter verset by die getuie lei.”

Dit bring die reg op regsverteenwoordiging tydens ’n ondersoek ter sprake.

Volgens Finucane word ’n afsonderlike regsadviseur dikwels “pro-aktief” aangebied aan sekere individue wanneer ’n ondersoek by die maatskappy plaasvind.

“Die rede vir ’n afsonderlike regsadviseur is gewoonlik botsende belange.” Die maatskappy mag miskien aanvoer dat ’n persoon nie die maatskappybeleid nagekom het nie en ’n individu kan dan aangespoor word om, na gelang van die omstandighede, ’n genadiger ooreenkoms te beding deur inligting te verskaf oor die maatskappy of ander bestuurshoofde by die maatskappy.

Die kwessie van botsende belange en of afsonderlike of gesamentlike regsadviseurs die beste is, is nie altyd so duidelik nie.

“Dit is ’n belangrike besluit, want die verkeerde besluit kan die regsadviseur onder verdenking te plaas en hom diskwalifiseer om enigiemand te verteenwoordig,” sê Finucane.

Hy sê regskoste word gewoonlik deur die maatskappy betaal, maar as dit blyk die werknemer het buite sy werkspligte opgetree of hom doelbewus aan wangedrag skuldig gemaak, kan dit dié verpligting beëindig. Iets wat groot omsigtigheid verg tydens ’n ondersoek, is kultuurverskille, volgens Mokdad.

Suid-Afrika het 11 amptelike tale en verskeie etniese groeperings, en om ’n enkele standaard in te span om iemand se geloofwaardigheid te beoordeel, kan ’n ondersoek in gevaar stel, sê hy.

Meer oor:  Finweek  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.