Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Aerobotics: Raaiwerk uit boerdery gehaal
10 September 2020

Benji Meltzer (links) en James Paterson is die medestigters van Aerobotics.

James Paterson en Benji Meltzer het Aerobotics in 2014 begin nadat hulle gesien het watter uitdagings op plase met lugfotografie en masjienleer opgelos kon word.

Die twee het lugfotografiese en satellietbeeldmateriaal nodig gehad om bedreigings vir oeste te identifiseer, maar daar was destyds nie hommeltuie wat geskik was vir hul behoeftes nie. Waar baie ander dit as ’n terugslag sou beskou, het dié twee hul akademiese agtergrond ingespan om hul eie te bou. Albei het megatroniese ingenieurswese aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer.

Paterson het daarna sy meestersgraad in lugvaart- en ruimtevaartkunde aan die Massachusetts Institute of Technology en Meltzer ’n MSc-graad in neurotegnologie aan die Imperial College in Londen behaal.

Wêreldwyd was afstandswaarneming in 2014 nog in sy groeiskoene en in Suid-Afrika ’n nuwe konsep; net enkele landbouers in die Wes-Kaap wat toegang gehad het tot ’n regeringsprogram vir satelliettegnologie.

“Ons het besef om boere toegang te gee tot sagteware waarmee hulle data kan ontleed wat deur hommeltuig- en satellietbeelding versamel is, sal groot doeltreffendheid in die hand werk deur te help om plantgesondheid te monitor en vroegtydig probleme te identifiseer wat strek van grond wat oormatig deurdrenk of te droog is, tot peste en siektes,” sê Paterson, ook ’n vyfdegeslag-sitrusboer van Clanwilliam.

Paterson en Meltzer het besluit om vir beter produksie-insigte satelliet- en hommeltuig-beeldmateriaal met masjienleer te kombineer. Om net van satellietbeelde afhanklik te wees, is nie ideaal nie want die beeldmateriaal is minder skerp en kan slegs opgeneem word wanneer ’n satelliet op die regte tyd oor ’n plaas beweeg. Op ’n bewolkte dag is die beeldmateriaal byvoorbeeld nutteloos.

“Daarteenoor bied hommeltuie honderde kere beter resolusie en beter beheer oor die tydsberekening van gebruik, wat makliker by landbouers se werksprogramme en behoeftes kan inpas,” verduidelik Paterson.

Beginjare

Die nuwe onderneming, wat self-gefinansier is deurdat die vennote elk R50 000 belê het, het aanvanklik op hommeltuigdienste en -verkope gekonsentreer, met die Universiteit Stellenbosch as hul eerste groot kliënt. Die twee beskou die eerste 18 maande as baie moeilik. Hulle moes hard werk en bokoste laag hou, en terselfdertyd tandekryprobleme met dienslewering aan kliënte in ’n nuwe bedryf uitstryk. Die onderneming het egter sterk gegroei en die hommeltuigafdeling is in 2018 verkoop.

In ongeveer dié tyd het Aerobotics in ’n reeks A-ronde by Nedbank Venture Capital, die Amerikaanse landboutegnologie-waagkapitaalfonds AgFunder, die Amerikaans-gebaseerde AngelList en SA-gebaseerde 4Di Capital sowat $2 miljoen geïn om die verdere ontwikkeling van sy sagteware en markuitbreiding te finansier.

Aerobotics het daarna in verdere rondes by Platform Investment Partners en Naspers* Foundry kapitaal geïn. Sy eerste sagtewareoplossing was daarop toegespits om boomgesondheid te monitor, sodat ’n boer kan sien presies watter bome in ’n boord swaarkry.

In 2019 het Aerobotics sy hulpmiddels vir boominsigte uitgebrei deur ’n oplossing bekend te stel wat die vrugte in ’n sitrusboord tel, wat boere in staat stel om doeltreffender en akkurater oesskattings te doen.

Volgens Paterson stel die oplossing nie alleen boere en uitvoerders in staat om hul bemarking beter te beplan nie, maar begin banke en versekeraars ook stadigaan om die tegnologie te gebruik om hul boerdery-kliënte beter te verstaan en bedien.

Aerobotics is nou ’n multi-kontinentale sakeonderneming met 80 mense wat oor 150 000 hektaar in SA, Amerika en Australië strek.

Uitdagings

Met die aanvanklike bekendstelling van die maatskappy was die vernaamste kommunikasiedoelwitte om ’n bewustheid van en insig in die maatskappy te bewerkstellig. Die span het besef die oplossings was nuut en vreemd en dat geteikende inligting noodsaaklik was om die handelsmerk te bou. “Ons het ’n advertensie in ’n tradisionele landboutydskrif geplaas, byeenkomste vir boere aangebied en ’n skakelwese-agentskap gebruik om mense bewus te maak van die maatskappy.

Noudat mense weet wie ons is, het die fokus verskuif na ontmoetings met klein groepies boere om hul behoeftes beter te leer ken en ons produkte te verfyn,” sê Paterson. Om van die ontwikkeling van nuwe produkte na sakebestuur te spring, was nogal moeilik, veral aangesien dit hul eerste sakeonderneming was.

Sedert Aerobotics se bekendstelling het die mark vir landboutegnologie mededingender geword. Paterson beskou dit as positief, want mededinging bring geleenthede vir nog sinergieë en ’n groter bewustheid van die voordelige invloed wat digitale tegnologieë in die landbousektor kan hê.

Suksesse

Aerobotics het sedert sy bekendstelling verskeie toekennings vir innovasie verower, waaronder die Macron Africa-toekenning vir die innoverendste beginnermaatskappy in Afrika. Verder is hy as een van Fast Company se top 50 mees innoverende maatskappye ter wêreld aangewys; in 2019 het hy die FNB-toekenning vir innovasie in die sakewêreld gewen; en onlangs is hy gekeur om ’n Endeavor-lid te word.

Aerobotics volg ’n stewige groeitrajek en is nou ’n multi-kontinentale sakeonderneming met 80 mense wat oor 150 000 hektaar in SA, Amerika en Australië strek. Hy brei tans ook in Europa uit. Die span besef die waarde van ’n wêreldwye netwerk en sê sy deurbraak in die oorsese markte is vergemaklik deur samewerking met mede-Suid-Afrikaners, wat hulle by die regte mense in die buiteland uitgebring het.

Boere in dié lande het hulle in die algemeen bewys as ontvanklik vir die tegnologie, want dit bied hulle die geleentheid om buitensporige arbeidskoste en ander verliese te beperk, koste te bespaar en doeltreffender te boer.

Gegewe bevolkingsgroei, klimaatsverandering en voedselproduksie wat sal moet verdubbel, beplan hulle om die intelligente hulpmiddels te verskaf wat benodig word om die wêreld van voedsel te voorsien.

“Tans is die meeste van ons oplossings toegespits op produksiebestuur tydens oesseisoene, wat ons graag wil uitbrei om die hele jaar te dek deur ook oplossings te hê wat landbouers sal inlig oor die fenologiese fase van die plant en die beste tye om bepaalde voedingstowwe toe te dien,” sê Paterson. 

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* finweek is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.

* Foto: Verskaf

Meer oor:  Aerobotics  |  Boerdery  |  Finweek  |  Tendense
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.