Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Agribesighede se speelveld aan ’t verander
8 Oktober 2020

Sedert 1994 is Suid-Afrika se voormalige landbou-koöperasies in moderne en, oor die algemeen, goed bestuurde landboumaatskappye omvorm. Trouens, hulle ondergaan steeds ’n proses van verdere konsolidasie, kapitaalvorming en waardeskepping vir aandeelhouers.

Dis aan ’t gebeur teen die agtergrond van die ergste krisis en ontwrigting sedert die Tweede Wêreldoorlog wat vanjaar deur die koronavirus ontketen is. Voordat die fokus skuif na die herrangskikking van die veld waarop landboumaatskappye speel, is dit interessant om te let op die jongste ekonomiese aanwysers (sien kassie).

Sake-speelveld

Francois Strydom, die uitvoerende hoof van die landboumaatskappy Senwes, wys daarop dat die veld waarop die land se groot landboumaatskappye speel, toenemend aan die verander is.

Francois Strydom, uitvoerende hoof van Senwes

Trouens, hy verwag dat daar binne die volgende 12 tot 18 maande dalk slegs vier groot groeperings kan oorbly. Tans is daar net ’n tiental groot landboumaatskappye van ’n koöperatiewe aard wat insetmiddele asook tegniese, finansiële en bemarkingsdienste aan produsente voorsien – vergeleke met die meer as 30 in die laat 1980’s.

Afgesien van landboumaatskappye wat hulself op onder meer sitrus- en volstruisboere toespits, is van die vernaamste landboumaatskappye (in alfabetiese volgorde en met die setels van hul hoofkantore tussen hakies): Acorn Agri & Food (Somerset-Wes); BKB (Port Elizabeth); GWK (Douglas); Kaap Agri (Paarl); KLK (Upington); NWK (Lichtenburg); OVK (Ladybrand); Senwes (Klerksdorp); Suidwes Landbou (Leeudoringstad); TWK (Piet Retief); en VKB (Reitz). Onder dié maatskappye het daar die afgelope jaar of wat ’n herrangskikking plaasgevind.

Die Senwes-groep is besig met ’n strategiese bely- ningsproses ingevolge waarvan hy Suidwes oorgeneem het, terwyl hy verlede jaar ’n 58%-aandeelhouding in KLK verkry het. Dus is Senwesbel Beperk – wat die grootste aandeelhouer in Senwes is – se naam intussen na Agribel Beherend Beperk verander.

Boonop het Senwes in 2019 Falcon en Staalmeester, twee vervaardigers en invoerders van landbouwerktuie, bekom. Verder is die direksies van GWK en VKB gewikkel in samesprekings om ’n vennootskap tussen dié twee maatskappye te ondersoek. VKB het reeds ’n 30%-aandeelhouding in BKB.

“Ons verkies te alle tye likiditeitsbuffers van meer as 10%. Ons beleid vir dividendgroei bevat ’n goeie riglyn van 67% herinvestering.”

Hoe vertoon die spelers?

Die Senwes-groep: Dié ZAR X-genoteerde groep is een van die land se sterkste spelers in die somergraangebiede. Hy het ’n wye voetspoor in alle provinsies, behalwe Limpopo. Boonop volg hy ’n geïntegreerde sakemodel, terwyl hy ook een van die eksklusiewe John Deere-agentskappe in die sentrale en oostelike deel van die land is.

Afgesien van bona fide-boere wat 52% van Senwes se aandele deur Agribel hou, hou Grindrod 21% aandele in Senwes, terwyl die res vrylik verhandel. “Ons het finansiers se aptyt oor jare getoets en het ’n goeie gevoel vir die optimale kapitaalstruktuur ontwikkel,” sê Corné Kruger, die groep se finansiële hoof. Senwes wys genoeg kapitaal toe vir groei, maar verseker dat die balansstaat nie lui en duur raak nie.

Corné Kruger, finansiële groep-hoof van Senwes

Dus waak hy teen ’n te aggressiewe belegging in defensiewe bates wat opbrengste wegvreet en teen te aggressiewe beleggings in groeikapitaal wat die speelveld vir mededingers oop los. “Ons verkies te alle tye likiditeitsbuffers van meer as 10%. Ons beleid vir dividendgroei bevat ’n goeie riglyn van 67% herinvestering wat genoeg is om binne kapitaalriglyne te funksioneer.

Boonop bied ons gereeld ’n geleentheid vir deelname aan ’n aandeel- terugkoopprogram. Goeie dividende, steunwaardes vir sekuriteit en volaandeel-prestasieskemas verseker belyning met ons bestuur,” aldus Kruger.

Suidwes Landbou: Die Mededingingstribunaal het dié maatskappy se samesmelting met Senwes in Augustus goedgekeur onderhewig aan sekere voorwaardes rakende voortgesette dienslewering en infrastruktuur.

Dr. Herman van Schalkwyk, uitvoerende hoof van Suidwes

Dus kan die inwerkingstelling nou begin. Senwes het hom daartoe verbind om die Suidwes-handelsmerk te behou en uit te brei. Dr. Herman van Schalkwyk, Suidwes se uitvoerende hoof, het sy entoesiasme oor nuwe moontlikhede vir waardetoevoeging en toepaslike kredietoplossings uitgespreek.

Die twee partye sal hul huidige finansieringsaanbod van R60 miljoen oor ’n tydperk van drie jaar aan kwalifiserende, swart opkomende boere uitbrei.

KLK: Dié maatskappy waarin Senwes ’n belang van 58% verkry het, het ’n stewige jaarlikse omset en is betrokke by die verskaffing van landboubenodigdhede, boumateriaal, brandstof, vleisverkope, huide en velle, motorverkope en lewendehawe-veilings, sowel as die verpakking en uitvoer van rosyne.

KLK het jare gelede die belange van BKB in die Noord-Kaap uitgekoop.

VKB: Dié landbouspeler volg steeds ’n koöperatiewe model en bied nie tans geleenthede vir gewone beleggers nie. “Ons is nie tans genoteer nie, maar is in ’n vroeë stadium van beplanning om op ZAR X te noteer – onderhewig aan ledegoedkeuring.

Koos Janse van Rensburg, uitvoerende hoof van VKB

Met die genoteerde aandeel wat nie stemdraend is nie, wil ons vir aandeelhouers die geleentheid gee om vroeër kontant te ontsluit as wat die aflosbare aandele tans toelaat,” sê VKB se uitvoerende hoof, Koos Janse van Rensburg. Ondanks negatiwiteit in sekere van sy landboubedrywe, sien VKB uit na ’n beter jaar as die vorige jaar se middelmatige vertoning.

GWK: Dié maatskappy wat tans in samesprekings met VKB gewikkel is, is in die volgende landboumarkte bedrywig: mielies, koring, oliesade, katoen, droë bone, olywe, wyn, vleis deur abattoirbesighede en lewendehawe-veilings.

OVK: Afgesien van gediversifiseerde dienslewering, het OVK ’n wye voetspoor in saai-areas (droëland én onder besproeiing) asook in uitgestrekte veegebiede. Slegs bona fide-produsente hou die 51% aandele deur OVK Beherend. Die oorblywende 49% aandele in OVK Bedryf is vrylik verhandelbaar vir enigeen wat met die sekretariaat daaroor skakel.

“Die maatskappy volg al etlike jare ’n vaste beleid van ’n kwart van die netto wins ná belasting wat as dividend uitbetaal word. Dus word 75% van die jaarlikse netto wins weer in die uitbreiding en ondersteuning van ons bedryfsaktiwiteite belê,” aldus Stéfan Oberholzer, besturende direkteur van OVK.

Aandele se likiditeit is sigbaar in die feit dat 5,9% van die uitgereikte aandelekapitaal die afgelope finansiële jaar in die ope mark verhandel het. Die afgelope twee jaar het die aandeelprys met 17,1% (OVK Bedryf) en 10,8% (OVK Beherend) gestyg. Die opbrengs op aandeelhouersbelang vir die afgelope vyf jaar was meer as 16% per jaar.”

NWK: Op 8 September is dié groep, wat veral in Noordwes bedrywig is, op 4AX gedenoteer omdat hy sy genoteerde dubbelstruktuur nie meer as voordelig beskou het nie. Slegs NWK Beherend (houermaatskappy van die NWK-groep) is nou ’n genoteerde entiteit. Enige bona fide kommersiële landbouprodusent kan aandele in NWK deur die houermaatskappy koop.

Pieter Kleingeld, finansiële hoof van NWK

“Kyk ’n mens na die markwaardes, blyk dit dat die aandele van landboumaatskappye oor die algemeen teen ’n redelike diskonto teen netto-batewaarde verhandel. Dit maak hierdie aandele relatief “goedkoop”, terwyl die dividendopbrengs heelwat meer is as wat daar tradisioneel op die JSE te wagte kan wees. Die enigste nadeel is dat die verhandeling meer beperk is; dit verg ’n langertermyn-uitkyk,” aldus Pieter Kleingeld, NWK se finansiële hoof.

Kaap Agri Bpk.: Hoewel dié groep in die kleinhandelkategorie op die JSE genoteer is, lewer hy ook tipiese dienste aan sy landboukliënte. Tog het hy die impak van die grendeltyd op verskeie terreine ervaar, waaronder drank-, tabak- en brandstofverkope asook op die beperkings waaraan kitskos- en ander restaurante onderhewig was. Volgens sy uitvoerende hoof, Sean Walsh, het Kaap Agri ’n relatiewe skerp V-herstelkurwe ervaar sedert elke afskaling van die inperkingsmaatreëls.

Die laaste drie maande van Kaap Agri se boekjaar wat op 30 September geëindig het, sou na verwagting steeds uitdagend gewees het, hoewel goeie winterreën vir verligting gesorg het. Kaap Agri neem ’n afwagtende houding in oor wat die langtermyn-effek op verbruikersbesteding sal wees. “Ons is goed geposisioneer om binne die volgende ses tot 18 maande te kapitaliseer op enige betekenisvolle geleenthede wat oor ons pad mag kom,” aldus Walsh. “Ons meet volhoubare prestasie in terme van opbrengste oor die langer termyn – met ’n fokus op welvaartskepping per aandeel,” sê Graeme Sim, Kaap Agri se finansiële direkteur.

“Ons gebruik die algehele opbrengsindeks (TRI) as ’n metingsinstrument, met ander woorde die saamgestelde jaarlikse groeikoers van ’n belegging.” Dit is volgens Sim ’n goeie metingsinstrument en ’n betroubare manier om te kyk hoe jy teenoor ander maatskappye vaar. “Van 2010 tot 30 September 2019 was Kaap Agri se TRI 21% per jaar. Indien jy R1 miljoen se Kaap Agri-aandele op 30 September 2010 gekoop het en al jou dividende herbelê het, sou jou belegging op 30 September 2019 ’n waarde van R5,6 miljoen gehad het,” aldus Sim.

BKB Bpk.: Hierdie groep, met ’n nasionale voetspoor, is ’n speler in die vee- en veselbedrywe. Tog het hy ook op ander terreine gediversifiseer. Daaronder tel die verskaffing van brandstof en ander produksie-insetmiddele; die verkoop van basiese kruideniersware; die verpakking en uitvoer van rosyntjies; ’n verpakkingsaanleg vir suiker in Eswatini; die verwerking en uitvoer van lusern; terwyl hy ook ’n klein spesialisspeler in die opberging en vermaling van graan is.

Johan Stumpf, besturende direkteur van BKB

Volgens Johan Stumpf, die groep se besturende direkteur, verloop BKB se jaar ná goeie reënneerslae veral in die veebedrywe relatief goed. Sy brandstofverkope het egter tydens die grendeltydperk gedaal, terwyl die vesel- en rosyntjiebedrywe ook druk ervaar. Daarenteen het sy suikerbedrywighede ’n rekordwins tydens die grendeltyd getoon.

“Histories het BKB ’n sterk balansstaat onderhou, met skuld-tot-kapitaalverhoudings van minder as 0,6,” aldus Stumpf. “Nadat African Rainbow Capital ’n jaar gelede by BKB gedisinvesteer het, het VKB ’n belang van 30% in BKB bekom. Dít, tesame met twee moeilike bedryfsjare, het ’n negatiewe effek op BKB se balansstaat gehad.”

Tydens die inperkingstydperk het BKB aggressief gefokus om bedryfskapitaal te verminder. Dus het sy skuldvlakke reeds baie afgeneem. “Likiditeit is tans goed, maar vir die volgende ses tot 12 maande plaas ons nie ’n baie aggressiewe fokus op verdere verkrygingsgroei nie. Oor die volgende twee jaar is die fokus om nie-presterende besigheidseenhede om te draai, en om die balansstaat weer op historiese vlakke te kry.” BKB se aandele mag vrylik verhandel en het geen beperkings oor wie dit mag besit nie.

“Met oor-die-toonbank-verhandelings wat kompleks is weens wetgewing, het ons voor Covid-19 na ’n moontlike notering gekyk – nie noodwendig met die doel om buite-kapitaal te bekom nie, maar om die proses van aandeleverhandeling makliker te maak.”

Acorn Agri & Food: Hierdie vertikaal geïntegreerde landbou- en voedselgroep se oorsprong strek meer as 100 jaar terug, maar hy het in 2018 sy huidige vorm aangeneem ná die samesmelting van Overberg Agri en Acorn Agri.

“Ons het sekere dele van die waardeketting geïdentifiseer waar ons op die langtermyn groei sien. Ons het sterk handelsmerke in die groep (Overberg Agri, Moov en Montagu Droëvrugte) en het ’n verwagting dat ons, veral in die gesondheidsvoedselruimte goeie groei sal ervaar. ’n Wesenlike deel van Acorn Agri & Food se balansstaat is bates gehou vir verkoop wat in kontant omgeskakel gaan word, en wat ons goed posisioneer vir groei deur strategiese aankope,” sê André Uys, die groep se uitvoerende hoof. Volgens hom het landboubesighede tradisioneel individue as aandeelhouers gelok – nie soseer instellings nie.

“Die verhandeling van aandele en gepaardgaande likiditeit is inderdaad ’n uitdaging, selfs ook vir ons wat ons eie oor-die-toonbank-verhandeling bestuur. Maar ons het geen beperkings op ons aandeleverhandeling, maksimum aandeelhouding of wie aandeelhouers mag wees nie. Hoe meer beperkings of voorwaardes, hoe minder beleggers gaan jy lok. Die kleiner beurse, en selfs ook die JSE, bied volgens ons tans nie regtig enige bykomende voordele nie.

“Aan die einde van Februarie 2020 was ons netto batewaarde R21,75 en ons het verhandel teen R15,99, wat impliseer dat ons teen ’n diskonto tot ons netto batewaarde verhandel.”

TWK: Dié gediversifiseerde landbou- en bosboumaatskappy doen hoofsaaklik sake in Mpumalanga en KwaZulu-Natal, maar het ook sakebelange in ander provinsies en in Eswatini. Net bona fide-boere kan in die houermaatskappy belê, maar enigeen kan aandele in die genoteerde TWK Beleggings koop.

“Dit het die potensiaal om ’n politieke speelbal te word. Tog onderstreep Covid-19 die noodsaaklikheid van voedselsekerheid en die landbousektor se strategiese rol.”

Op die keper beskou

Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital
Christo van der Rheede Agri SA se uitvoerende direkteur

Volgens Theo Vorster, die uitvoerende hoof van Galileo Capital, bestaan daar binne die SA landboukonteks nog beleidsonsekerheid. “Dit het die potensiaal om ’n politieke speelbal te word.

Tog onderstreep Covid-19 die noodsaaklikheid van voedselsekerheid en die landbousektor se strategiese rol.” Ook Christo van der Rheede, Agri SA se uitvoerende direkteur, meen die tweede kwartaal se BBP-syfers het weer eens die belangrike rol wat die landbousektor in ons ekonomie speel, beklemtoon. Volgens Senwes se Strydom lyk die voorspelde weerpatrone op die kort tot mediumtermyn baie gunstig vir landbouproduksie.

Twyfel bestaan egter oor die verbruiksvraag na voedsel op die langer termyn weens die verwoestende impak van Covid-19-inperkings. Dus sal die verdere BBP-vertoning deurslaggewend wees. Volgens BKB se Stumpf is daar ’n algemene wegbeweeg van luukse kos na meer basiese voedselsoorte.

Vorster meen voornemende beleggers behoort oorweging te skenk aan landboumaatskappye met ’n gemengde sakemodel wat goeie waarde bied. “Onsekere tye skep die beste beleggingsgeleenthede en die landbousektor is een van daardie geleenthede,” aldus Vorster.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za


Landbou-ekonomiese aanwysers

* Die landbousektor het volgens Statistiek SA in die tweede kwartaal vanjaar met 15,1% gegroei en met 0,3 persentasiepunte die enigste positiewe bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP) gelewer.

* Dit het gevolg op die landbousektor se groei van 27,8% in die eerste kwartaal, aldus Wandile Sihlobo, hoofekonoom by die Landbousakekamer.

* Dié prestasie was te danke aan ’n toename in somergraan-, vrugte- en diereproduksie ná beter reënneerslae.

* ’n Swakker rand-dollar-wisselkoers help uitvoere aan.

* Die mielie-oes van 15,5 miljoen ton is die tweede grootste in SA se geskiedenis. Selfs in reële terme spog dit met die hoogste randwaarde ooit.

* Veeslagtings het vanweë die grendeltoestand in die land afgeneem, maar herstel word in die derde kwartaal verwag. Met die skryf hiervan het beesvleispryse steeds gestyg, terwyl skaapvleispryse sywaarts beweeg het, maar na verwagting weer in Desember sal styg.

* Sekere landboumaatskappye ondervind uitstekende verkope van kalk asook puik verkope in hul meganisasie-afdelings. Daarenteen maak die wisselvallige internasionale markte die bestuur van marges baie uitdagend vir landboumaatskappye wat olieperse bedryf.

* Die bemarking van vesel bly nog onder druk vanweë ’n wolsurplus in Australië en Covid-19 se ontwrigting.

* Die negatiewe uitwerking wat Covid-19 in die pluimveebedryf meegebring het, het intussen begin verbeter.

* Die indeks vir landbou-sakevertroue het van 39 punte in die tweede kwartaal (sy laagste vlak sedert 2009) tot 51 punte in die derde kwartaal gestyg.



’n Goeie oes noterings

Deur Jaco Visser

Daardie landboumaatskappye wat verplig was om hul aandele te noteer, het party plaaslike aandelebeurse ’n hupstoot gegee. Maar nie juis die JSE nie.

In 2016 en 2017, het die JSE die oor- die-toonbank-handelspraktyke van landbou-ondernemings, hoofsaaklik voormalige koöperasies, voor stok gekry. Dié aandelebeurs het die Wet op Finansiële Markte afgedwing, wat van ’n instelling wat oor-die-toonbank-handel in aandele moontlik maak – soos wat die voormalige koöperasies dit gedoen het –dwing om aansoek te doen om ’n aandelebeurslisensie.

Of dit gedoen is in ’n poging om hierdie maatskappye te lok om op die JSE te noteer, is onseker. Maar dit het nie goed vir die JSE uitgewerk nie. Slegs een van die groot landboumaatskappye – Kaap Agri – het op die JSE genoteer.

Twee ander – Senwes en TWK – het ZAR X gekies, en NWK vir 4AX. En die sluise was sedertdien oop vir ZAR X. Senwes was dié aandelebeurs se eerste notering.

Volgens sommige van dié landboumaatskappye se eienaarskapstrukture mag slegs bona fide-boere aandele besit. Senwes, waarvan die oorgrote belang deur Agribel besit word, is ’n goeie voorbeeld, met laasgenoemde wat deur boere besit word.

“Ons is uniek geposisioneer met betrekking tot ons bedryfsmodel om beperkte sekuriteite soos Agribel Holdings (voorheen Senwesbel) te noteer; dié aandele kan slegs deur bona fide-boere verhandel word en die ZAR X-tegnologiestapel is in staat om hierdie beperking naatloos te beheer,” sê Etienne Nel, uitvoerende hoof van ZAR X, aan finweek.

Talle van die groot landboumaatskappye het in vervloë dae hul aandele vrylik in oor-die-toonbank-transaksies aangebied. In sommige gevalle, toe die skrywer in een so ’n ou koöperasie belê het, is die botte en aanbiedinge een keer per maand met mekaar in ooreenstemming gebring – gewoonlik deur die maatskappysekretaris of sy benoemde.

Met hierdie aandele wat nou in reële tyd op ’n openbare aandelebeurs verhandel, word die prysbepaling verbeter. Daarbenewens, waar boere hierdie aandele aan die landboumaatskappy as sekuriteit vir produksiekrediet aangebied het, kan die aandele nou aan ’n breër groep uitleners gebied word.

“Boere is ook in staat om hul genoteerde aandele teen beter terme aan banke vir produksiekrediet te bied,” sê Nel. Daarbenewens is daar voordele vir dié landboumaatskappye as hulle hul aandele op ’n beurs noteer.

“Genoteerde maatskappye kry beter kredietterme van banke en hulle kan ander bates en maatskappye verkry deur genoteerde aandele as betaling te gebruik,” sê Nel. “En boonop verhoog dit die profiel van die maatskappy omdat hy nou aan ’n breër groep beleggers blootgestel is en gee hulle die vermoë om belangrike werknemers te behou deur van aandeel-opsies gebruik te maak.” 

* Foto’s: Shutterstock I Verskaf

Meer oor:  Agribesigheid  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.