Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Al wagtend op ’n mangaan-avontuur
21 November 2019
Mangaanerts Foto: Shutterstock

Vir ’n verbluffende voorbeeld van hoe ekonomiese ontwikkeling in Suid-Afrika deur ondeursigtige en selfs onvriendelike mynbouregulasies gekniehalter word, hoef ’n mens net na die geval van Aquila Steel se mangaanprospekteerplek Avontuur te kyk.

Daarvoor moet ’n mens sowat ses jaar teruggaan na ’n geskil oor prospekteerwerk tussen Aquila Resources en die destydse departement van minerale hulpbronne (DMR), soos dit toe bekend was, oor ’n prospekteerplek genaamd Gravenhage – ’n ryk mangaanneerslag in die boonste deel van Avontuur in die Noord-Kaap.

Alles behalwe maklik

Dit was ’n ingewikkelde geskil wat uiteindelik deur die Grondwethof besleg moes word tussen die mededingende aansprake van Aquila en Pan African Mining Development Corporation (PAMDC), ’n multiregeringsagentskap wat op twyfelagtige wyse saamgestel is en beweer het hy het eerste die prospekteerreg op Gravenhage bekom.

Die Grondwethof het egter in Aquila se guns beslis. Die maatskappy staan deesdae bekend as Aquila Steel en die Chinese maatskappy Baosteel het ’n beherende aandeelhouding van 85%.

Die Grondwethof het egter in Aquila se guns beslis.

Die regstryd was ’n moeisame proses van esse en draaie en oponthoude. Reputasies het ook in die slag gebly, veral dié van die voormalige minister van minerale hulpbronne, Ngoako Ramatlhodi, aangesien die hooggeregshof bevind het hy het die geskilproses op ’n onbevoegde wyse hanteer. Maar dis ’n ander storie.

Die mynreg vir Gravenhage is egter uiteindelik aan Aquila Steel toegeken, wat nou op soek is na ’n raadgewer wat hom kan bystaan met die evaluering van moontlike vennote om met die ontwikkeling van ’n myn op Gravenhage te help.

Om dit in perspektief te plaas:

Dit is ’n nuwe belegging ter waarde van $200 miljoen, volgens Aquila se uitvoerbaarheidstudie van 2012 en 2013.

Aangesien president Cyril Ramaphosa se tweede beleggingskonferensie – om vir sy beleggingsmikpunt van $100 miljard oor tien jaar fondse te help insamel – pas ten einde geloop het, kon ’n nuwe mynbouprojek in ’n relatief onontwikkelde provinsie nie op ’n meer gepaste tyd gekom het nie.

Martin Stulpner, ’n direkteur van Aquila Steel, bevestig dat die mynreg toegeken is, maar sê planne om die myn te ontwikkel is nog in ’n beginstadium. Verder wil hy niks sê nie: van die hand na die mond . . . Bronne in die mark meen egter dinge by Gravenhage beweeg in volle gang vorentoe.

Hier is die plan

Die plan is om die uitvoerbaarheid- studie, waaraan Aquila Steel nie minder nie as R160 miljoen bestee het, te “herlaai”. Die studie voorsien ’n myn wat 1,5 miljoen ton mangaanerts per jaar ontgin en sowat 15 jaar in bedryf sal bly, met die moontlikheid om die lewe van die myn te verleng. Sowat 320 werksgeleenthede sal tydens konstruksie geskep word met 700 permanente bedryfsposte daarna.

“Gravenhage is naby Transnet se spoorgeriewe en bestaande myne, dus is die infrastruktuur goed,” sê ’n bron in die mark aan finweek. Hy voeg by dat Aquila tevrede was om beheer van die projek af te staan, want die maatskappy het nie juis meer ’n groot teenwoordigheid in Suid-Afrika nie en is in elk geval nie ’n projekontwikkelaar nie, eerder ’n belegger.

Suid-Afrika beskik na raming oor 80% van die wêreld se mangaanreserwes, maar beheer slegs 33% van alle mangaanproduksie.

Daar is egter enkele oorwegings. Aquila moet die projek se maatskaplike en arbeidsplanne gou in werking stel en het ook nog nie ’n watergebruikslisensie vir die projek nie.

Inkomende vennote kan ook vind dat Aquila se aandeelhouer, Baosteel, ’n afsetooreenkoms sal wil hê vir die mangaan, ’n mineraal wat gebruik word om staal te maak.

Suid-Afrika beskik na raming oor 80% van die wêreld se mangaanreserwes, maar beheer slegs 33% van alle mangaanproduksie, dus behoort Suid-Afrika, strategies gesproke, eintlik groter ontwikkeling van dié mineraal te sien.

Huidige rolspelers in die mark is Anglo American, in ’n gesamentlike onderneming met South32, en Saki Macozoma se Ntsimbintle Mining, ’n maatskappy wat byna vanjaar genoteer het en wat ’n mens weet op soek is na geleenthede vir konsolidasie in die mangaansektor.


Meer oor:  Mangaan  |  Finweek  |  Aquila Steel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.