Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Arbeid: Geskoolde buitelanders nodig
18 Maart 2021
Foto: Shutterstock

Daar bestaan nie meer enige twyfel dat Suid-Afrika (SA) se arbeidsmark gebuk gaan onder ’n chroniese tekort aan kritieke vaardighede wat enige vooruitsigte smoor dat ons land tot ’n vinniggroeiende middelinkomste-ekonomie kan ontwikkel nie. SA is ook die tuiste van waarskynlik die wêreld se militantste arbeidsmag, wat beleggers en kapitaliste altyd bekommer.

Net die hardnekkigste kapitalis hou dit hier uit. Die ander vertrek om beter beleggingsopbrengste elders te soek, waar arbeid rustiger en goedkoper is. Die skaarste aan kritieke vaardighede en ons stakingsbehepte arbeidsmag word dikwels deur beleggers en finansiële kenners uitgewys as van die grootste bydraers tot SA se swak ekonomiese groei.

Die regering het sedert die ineenstorting van die Amerikaanse huismark in 2008, wat die wêreldekonomie in ’n resessie gedompel het, nog geen beleidsmiddel gevind vir ons probleme met lae groei nie.

Dit lyk nie tans of die regering ’n oplossing het om arbeidstakings te verminder of te beëindig nie, en daarom sal die probleem voortduur. Hy wil egter die tekort aan kritieke vaardighede omdraai deur die invoer van geskoolde buitelandse arbeid, aangesien ons beroeps- en tegniese onderwysinstellings en universiteite nie die kritieke vaardighede op kort termyn kan ontwikkel nie.

Die departement van binnelandse sake het onlangs ’n hersiene lys van kritieke vaardighede gepubliseer en die publiek en belangstellende organisasies genooi om teen 31 Maart skriftelike kommentaar op die tegniese verslag in te dien.

Nadat die openbare betrokkenheid afgehandel is, sal die lys waarskynlik aangepas word voordat dit in die Staatskoerant gepubliseer word, soos wetgewing vereis. Die lys met kritieke vaardighede is vervat in ’n verslag van 132 bladsye, getiteld “ ’n Tegniese verslag vir die lys van kritieke vaardighede van 2020” en is deur twee navorsers, Michele Capazario en Fouché Venter, geskryf.

Volgens die departement se definisie is kritieke vaardighede “hoëvlakvaardighede” wat kardinaal is vir verbetering in ekonomiese groei en waarsonder sekere projekte en werk nie aangepak kan word nie. Die departement, wat die bewaarder van die lys is, sal dan werkspermitte of visums vir kritieke vaardighede uitreik aan buitelandse werkers wat dié vaardighede aan SA wil verskaf. Die ou lys, wat in 2014 verskyn het, bevat 159 vaardighede, vergeleke met die hersiene konseplys (2020), wat 125 vaardighede insluit.

Die impak van Covid-19 op ons arbeidsmark was so vernietigend dat die werkloosheidsyfer tot ’n verbysterende 32,5% gestyg het.

Aangesien die hersiene lys korter is as die ou lys, kan dit beteken dat SA daarin slaag om die vaardighede wat hy voorheen nie gehad het nie nou self te kweek, of dat die mark weens tegnologievooruitgang nie meer dié vaardighede nodig het nie. Die publikasie van die lys kom in ’n tyd waarin SA ’n toename in xenofobie teen buitelandse werkers en winkeliers weens ekonomiese probleme en hoë werkloosheid gesien het. Dit het die mededinging vir skaars werksgeleenthede tussen inwoners en buitelanders verskerp.

Met die lys sal die regering ’n fyn balans moet vind tussen werkspermitte vir kritieke vaardighede aan geskoolde buitelanders en om terselfdertyd werkers tuis te beskerm. As die regering permitte te geredelik bied, loop hy die gevaar om werksgeleenthede van plaaslike inwoners weg te neem. Maar as die permitte te streng weerhou word, sal die tekort aan kritieke vaardighede vererger, wat die SA ekonomie nog verder skade sal berokken. Dit is belangrik om die vaardighede wat die land nodig het akkuraat te identifiseer in vergelyking met vaardighede wat ingevoer moet word om produksie en groei in die ekonomie te verhoog .

Die Covid-19-pandemie het die ekonomie verlede jaar geknou omdat die regering streng inperkings in werking gestel het om die oordrag van die virus te vertraag of te voorkom. Ongelukkig het die inperkings gelei tot personeelafleggings en die sluiting van ondernemings, en het dit die ekonomie verlede jaar met 7,2% laat krimp.

Die impak van Covid-19 op ons arbeidsmark was so vernietigend dat die werkloosheidsyfer tot ’n verbysterende 32,5% gestyg het. Aan die einde van verlede jaar, was daar 1,35 miljoen minder mense in diens as in die eerste kwartaal voor die pandemie uitgebreek het. Sedertdien is die ekonomie stadig aan die herstel. ’n Optimistiese minister van finansies, Tito Mboweni, wat verlede maand sy begrotingsrede gelewer het, verwag die ekonomie sal vanjaar met 3,3% herstel, waarna gemiddelde jaarlikse groei van 1,9% volgende jaar en in 2023 verwag word.

Hierdie herstel sal op kort termyn gelei word deur die toediening van Covid-19-entstowwe, wat die impak van die inperkings op die ekonomie sal help omkeer. Die regering vestig op die duur sy hoop op president Cyril Ramaphosa se gunstelingprojek, die ekonomiese herkonstruksie- en herstelplan, om die ekonomie te stimuleer. Dié plan is geanker in die inwerkingstelling van ekonomiese hervormings deur die regering, soos die vestiging van infrastruktuur, die opbou van plaaslike produksie, werkskepping en die uitbreiding van energie-opwekkingsvermoë.

Die hersiening van die lys om geskoolde buitelandse werkers te lok, hang nou saam met die ekonomiese hervormings en sal waarde toevoeg om ons ekonomie en arbeidsmark te stimuleer. Tot dusver is die bygewerkte lys gunstig deur die sakegemeenskap ontvang, sonder enige reaksie op die sosiale media van die ondersteuners van die gewilde #PutSouthAfricansFirst-beweging, wie se teenstanders hom beskuldig van xenofobiese en anti-buitelandse idees.

Ek vermoed die skrywers van die tegniese verslag het onweerlegbare en onberispelike navorsing gedoen wat nie maklik betwis kan word nie. Bes moontlik word die verslag en lys eers noukeurig bestudeer voordat kommentaar gelewer word.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Andile Ntingi is die hoof en mede-stigter van GetBiz, ’n e-verkryging- en tenderpublikasiediens.


Meer oor:  Finweek  |  Arbeid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.