Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
As munisipaliteite myn-maatskappye in die steek laat
28 Mei 2021
Errol Smart
Errol Smart: Uitvoerende hoof van Orion Minerals

Prieska is ’n dorp met 20 000 inwoners aan die oewers van die Oranjerivier in die Noord-Kaap. Yskor, die voormalige staalvervaardiger, was vroeër hier bedrywig, maar dis meer as ’n geslag gelede dat daar enige mynbou hier plaasgevind het. Vandag is dit die landbou wat die plaaslike ekonomie steun.

Die afgelope tyd het Prieska egter ’n brandpunt geword – letterlik blykbaar – vir verskeie private son- energieprojekte, sowel as ’n internasionale projek deur die Franse energiefirma Total, en ook die Australiese firma Orion Minerals, as deel van sy planne om nuwe asem te blaas in Yskor se ou koper-en-sinkmyn, wat ook weer beleggers lok.

Die nuwe belangstelling bring egter frustrasie vir die mense van Prieska mee. Volgens Orion se uitvoerende hoof, Errol Smart, het die Prieska-gemeenskap gewoond geraak aan groot aktiwiteit as sonkragprojekte in aanbou is, met duisend mense of meer in diens. Maar die werk is projekgebonde en is van korte duur. Dit is dikwels ook so gespesialiseerd dat daar nie veel werksgeleenthede is nie. Daar bly net klein onderhoudspanne oor. Vanuit die perspektief van die Prieska-gemeenskap kom en gaan beleggings en werksgeleenthede dus baie vinnig, sonder enige skynbare voordeel vir hulle.

“Daar is geen vaardighede of mini-ekonomie nie,” sê Smart met verwysing na die plaaslike omgewing. “Ons probeer dit bou, maar dit sal tyd neem.” Intussen is Orion Minerals besig om ’n finansieringspakket van A$432 miljoen (R4,7 miljard) vir sy Prieska-koper-sink-myn te finaliseer wat ekonomiese voordeel vir die streek sal meebring, maar dit sal eers oor sowat twee jaar wees. Onlangse betogings deur die Prieska-gemeenskap het ook nie die onderneming se pogings gehelp nie.

Vroeër vandeesmaand moes Orion noodgedwonge aansoek doen om ’n dringende interdik by die Noord-Kaapse hooggeregshof nadat lede van die gemeenskap by die maatskappy se eiendom betoog het voordat hulle na die dorp beweeg het waar hulle paaie versper en bande gebrand het. Sekere lede, wat aangehits is deur ’n aspirant-diensverskaffer wat verloor het in een van Orion se tenders, het gepoog om die plaaslike owerhede te intimideer om beleggers soos Orion te dwing om meer werksgeleenthede te bied.

Sekere lede, wat aangehits is deur ’n aspirant-diensverskaffer wat verloor het in een van Orion se tenders, het gepoog om die plaaslike owerhede te intimideer om beleggers soos Orion te dwing om meer werkgeleenthede te bied.

Smart meen dié soort optrede kan meer algemeen word in ander arm dele in Noordwes en Mpumalanga waar mynbou plaasvind. “Die bedryf sal dié soort ding die volgende ses maande gereeld sien totdat die plaaslike verkiesing in Oktober plaasvind,” het Smart gesê. Die eise sluit in 50% van die werkgeleenthede vir plaaslike inwoners en 30% van die kontrakte vir plaaslike kontrakteurs in die firma se Prieska-projek, het hy gesê.

Die Mineraleraad van Suid-Afrika het die regering gevra om veiligheid op te skerp, maar die waarheid is dat plaaslike munisipaliteite te min hulpbronne het. Daar is nie veel wat die polisie kan doen nie as daar maar tien van hulle is teen ’n skare van honderde betogers, veral omdat die polisie ook in die gemeenskap woon. “Dit is ’n moeilike situasie omdat die agtergeblewe gemeenskap sukkel ná jare se swak dienslewering deur die regering,” sê Smart. Alex Khumalo, hoof van maatskaplike prestasie en gemeenskapsontwikkeling by die mineraleraad, sê myndorpe het diversifikasie nodig.

“Ons is die enigste bedryf wat ’n dorp kan stig deur ’n gat te grawe,” sê hy. Gemeenskapsontevredenheid sal egter voortgaan terwyl die regering se dienslewering en geïntegreerde ontwikkelingsplanne nie geïntegreer of verbeter word nie.

July Ndlovu, uitvoerende hoof van Thungela Resources

“Dit begin met die verbetering van die plaaslike regering, waar die mandaat lê, maar die oorgrote meerderheid van hulle sukkel om munisipale belasting by hulle mense in te vorder. Dus is munisipaliteite afhanklik van staatstoelaes.” Daarom is daar nie genoeg fondse vir die polisie nie. Hy verwys na pogings by Lephalale, ’n middelpunt van die steenkoolsektor, waar ’n “regverdige” oorgang” van steenkool na ’n breë ekonomie aan die gang is, deels vanweë Anglo American wat onlangs planne bekend gestel het om sy Anglo Coal-afdeling in Thungela Resources te ontknoop.

Anglo sê dat deur ’n afsonderlik genoteerde maatskappy te stig, kan kapitaal doeltreffend en vinnig aan die uitbreiding van myne toegewys word wat werkgeleenthede vir langer sal bied en ook op plaaslike ekonomiese ontwikkeling sal fokus. July Ndlovu, uitvoerende hoof van Thungela Resources, sê dit was ’n belangrike rede hoekom dit vir Anglo nie sinvol was om eenvoudig die myne te verkoop of te sluit nie.

“Ons het nie begryp hoeveel mense hul werk in hierdie Covid-19-pandemie verloor het nie,” sê hy. “Mense wend hulle tot misdaad; mense wend hulle tot allerlei eise. Dit is uit absolute desperaatheid. En dit is waarom ek dink mense wat sê ‘sluit eenvoudig die myne’ moet na daardie gemeenskappe gaan en sien wat mense bereid is om te doen net om aan die lewe te bly. Dan besef jy hoe groot ons verantwoordelikheid is.”

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Foto’s: Argief: www.thungela.com

Meer oor:  Mynbou  |  Munisipaliteite  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.