Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Baanbreker Prius se vierde generasie staan stewig
6 Junie 2019

Die chirurgiese mes is behoorlik ingelê met die Toyota Prius. Dit is swieriger en lyk ietwat ongewoon, maar sy stilering is nou skerper en sy futuristiese binneruim is ietwat meer getemper. Om die toonaangewende Toyota Prius te waardeer, moet jy sy geskiedenis verstaan.

In 1997 het Toyota ’n petrol- en hibridiese stelsel aangeneem en die “groen” vierdeursedan Prius by sy aanbiedings gevoeg. Dit was in ’n stadium toe die ekobeweging byval by verbruikers begin vind het. En dit het die Prius soos ’n handskoen gepas.

Met sy alternatiewe aandryfstelsel – ’n kombinasie van ’n elektriese motor wat geen besoedeling veroorsaak nie en ’n binnebrandenjin sodat jy jou nie hoef te bekommer oor die afstand wat jy moet aflê nie (en om die prestasie ’n hupstoot te gee) – was hierdie hibriedmotor ’n pionier van groenmotortegnologie.

Dié Prius is binne sowel as buite opgeknap. Die vyfdeurvleuelrug is groter, ruimer en meer afgerond. En soos finweek uitgevind het, is hy steeds net so ekovriendelik.

In 2005 is die tweedegenerasie-vyfdeurweergawe in Suid-Afrika bekend gestel, en dit is ’n paar jaar later gevolg deur die derde weergawe, ’n motor wat sy battery self laai en met sy halo-kopligte, wat 21% verteenwoordig het van alle voertuie met alternatiewe aandryfstelsels wat ooit in die land verkoop is. Nou is die opgeknapte vierde generasie hier.

Dié Prius is binne sowel as buite opgeknap. Die vyfdeurvleuelrug is groter, ruimer en meer afgerond. En soos finweek uitgevind het, is hy steeds net so ekovriendelik.

Skerper stilering

Stilering was nie so belangrik toe die Prius min ekobewuste mededingers gehad het nie. Noudat hy wel mededingers het, is dit wel ’n baie ernstiger saak. Sy stilering was eens ietwat vaal, maar sy nuwe fyn en onkonvensionele voorkoms beteken dat dit nie meer die geval is nie. Hy is nou 35mm langer, en sy herstileerde voor- en agterkant laat hom breër en stewiger op sy voete staan.

Sy voorkant is slanker met nuwe Bi-LED-kopligte en LED-misligte, en ’n nuwe, laer inlaat wat hom meer esteties maak. Agter is sy voorkoms meer horisontaal en dit plaas die klem op die motor se breedte.

Nuwe LED-agterligte weerspieël die vorm van die kopligte. ’n Koddige drukvin agter vorm die plafon van die glastrook bokant die kattebak. Dit is ’n eienskap wat uitloop op ’n gesplete venster agter en ’n romp met ’n onkonvensionele vorm.

Uit die buitenste ruim

Die Prius spog met ’n swart konsole en swart leerstuurwiel, en die enkele gelykvormige kleur is in teenstelling met die vorige generasie wat ’n onpraktiese wit konsole gehad het. Die sentrale ligging van die instrumentpaneel behou egter die futuristiese voorkoms.

Die sentrale ligging beteken die bestuurder moet sy oë of kop na links van die instrumentpaneel beweeg in teenstelling met die instrumente wat reg voor die drywer is. Maar die beweging van die oë na links is nie so erg nie, want die vertoonpaneel toon data op die voorruit (standaardaanbieding op dié Prius) reg voor die drywer. Hy hoef dus nie juis rond te kyk nie.

Die multimedia- en trukamera-beeld is ook in die middel van die sentrale konsole, onder die instrumentepaneel. Bekerhouers, verhittingskakelaars vir die sitplekke en ’n draadlose selfoonlaaier is ook in die sentrale konsole te vinde.

’n Indrukwekkende reeks standaardaanbiedings sluit ook slim-inklim, klimaatbeheer, dubbelsone-spoedbeheer, tru-kamera, reënsensorruitveërs, sesluidsprekerraakskerm-oudio, en ’n binnetruspieël wat outomaties verdof.

Bluetooth en USB maak die paring van selfone kinderspeletjies. Die sitplekke is egter nie elektries nie en moet met die hand verstel word. Die Prius ding mee in die C-segment vir klein gesinsmotors, maar hy is glad nie klein nie, en kajuitruimte word nie in hierdie vyfdeurvleuelrug afgeskeep nie. Hierdie ware gesinsmotor vir vyf mense bied ’n ruim binnekant terwyl laairuimte maklik in die behoeftes van ’n klein gesin voorsien.

Stewig op die pad

As iets nie stukkend is nie, is daar geen rede om dit reg te maak nie. Dus is die petrol/elektriese hibridiese aandrywing met rus gelaat. Die kombinering van ’n Atkinson-sikluspetrol-enjin van 1,8 liter met twee motorgenerators gee hierdie motor ’n indrukwekkende kraglewering van ongeveer 100kW, asook doeltreffende brandstofverbruik.

Die ratte is ’n deurlopend veranderlike transmissie (CVT), ’n outomatiese ratkas wat moeiteloos wissel. Laat skiet die rempedaal en die Prius beur stil en glad vorentoe soos die elektriese motor inskop, en die binnebrandenjin gee slegs ’n kuggie wanneer hy teen ongeveer 35km/h begin vuur. Ergonomiese swart leersitplekke is die ware Jakob vir ’n gerieflike rit, en die jongste generasie Prius ry op Toyota se nuwe generasie- argitektuurplatform.

Dié platform bied nie net merkwaardige gerief nie, maar spog ook met ratse en gevoelige bestuursdinamika. Hierdie voorwielaangedrewe hibried het verbaas met sy direkte stuur en goeie draaivatvermoë. Sy nuwe 15”-allooiwiele is stewig vasgeplant, rotsvas op ’n reguit pad en hulle klou soos ’n kat om die draaie.

Die Prius bied drie dryfmodusse: eko, normaal of krag, en laasgenoemde bied ’n ietwat lewendiger prestasie as wat dalk verwag word.

Dit het die wringkrag om betreklik vinnig weg te spring en om stadiger verkeer met gemak verby te steek. Vir iemand wat daarvan hou om voet in die hoek te sit, is dit ’n welkome verrassing. En hy is boonop suinig met die brandstof. Brandstofverbruik vir die gekombineerde siklus word aangegee as 3,7 liter/100km, hoewel brandstofverbruik afhang van hoe jy bestuur en van padtoestande.

Hy laat jou selfs weet wanneer jou lugversorging op sy hardste gestel is. Die motor het in alle aspekte van gerief, prestasie op die pad en lae brandstofverbruik voorsien.

’n Vurige bestuurstyl in ’n kombinasie van die normale en die eko-modus het ’n gemiddelde van 4,7 liter/100km gelewer. As jy meer bedaard in ekomodus ry, sal jy 3,3 liter/100km haal. Dis indrukwekkend, veral as jy uitbundig in die kragmodus ry waar die verbruik tot net-net meer as 5 liter/km gestyg het.

Dié lewendige hibried hou jou ingelig wanneer die elektriese modus of binnebrandenjin gebruik word en wanneer elektriese krag opgewek word.

Hy laat jou selfs weet wanneer jou lugversorging op sy hardste gestel is. Die motor het in alle aspekte van gerief, prestasie op die pad en lae brandstofverbruik voorsien.

Veiligheid word ook gedek met sewe lugsakke en ’n reeks aktiewe elektroniese veiligheidstelsels wat sluitwerende remme, remhulp en trekkragbeheer insluit. Alles in ag genome, is daar min waaroor mens kan kla. Die uitsondering is die horisontale spleet-agtervenster wat na my mening jou sig na agter belemmer.

Ek het gevind dat dit my pla en ek moes die heeltyd raai as ek na agter kyk. Die Toyota Prius, wat eens die voorste keuse was van ekobewuste motorbestuurders, het nou ’n menigte eko-mededingers na gelang nuwe hibriedmotors vinnig wêreldwyd bekend gestel word. Desondanks sy eko-eienskappe, padhouvermoëns en lae brandstofverbruik, het die Prius nog iets in die mou – sy prys. Dit is die enigste hibriedmotor wat minder as R500 000 kos.

Desondanks sy eko-eienskappe, padhouvermoë en lae brandstofverbruik, het die Prius nog iets in die mou – sy prys. Dit is die enigste hibriedmotor wat minder as R500 000 kos.

Dit is ’n motor wat werklik voorsien in die meeste vereistes wat verbruikers verlang. Sy voorkoms sal jou miskien nie na jou asem laat snak nie, maar Prius-aanhangers sal waarskynlik heel beïndruk wees met die verfynings van die jongste generasie. Die vraag is egter of Toyota sy basis kan uitbrei om kopers van gewone gesinsmotors met sy jongste Prius te lok. Sy onkonvensionele stilering agter en sy toenemende aantal hibriedmededingers kan miskien pla as dit by keuse kom.

Getoets:

Toyota Prius Enjin: 1,8-liter-petrolenjin

Krag/Wringkrag: 72kW/142Nm

Krag/wringkrag van elektriese motor: 53kW/163Nm

Topspoed: 180km/h

Transmissie: CVT-outomaties

Brandstoftenk: 43 liter

Brandstofverbruik (gekombineerde siklus): 3,7 liter/100km

CO2-emissie: 87g/km (voldoen aan Euro 6-emissie-spesifikasie)

Veiligheid: Sewe lugsakke

Bagasieruimte: 502 liter

Waarborg/Diens: 3-jr./100 000km; 6 dienste/ 90 000km-diensplan. 8-jr./ 195 000km-waarborg vir hibriedbattery.

Prys: R490 200

Meer oor:  Finweek  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.