Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Baie min verligting op die spyskaart vir restaurante
4 Junie 2020
restaurante
Foto: Unsplash

Suid-Afrikaners het op 24 Mei met gespanne aandag gewag om te hoor wat die regering besluit het oor die inperkingvlak waarop ons vanaf 1 Junie sou leef. En terwyl baie sake- eienaars saam ’n sug van verligting geslaak het, is daar steeds talle ondernemings wat nie toegelaat word om vanaf 1 Junie ten volle – of enigsins – sake te doen nie. Die restaurantbedryf ly swaar sedert die landswye inperking in Maart ingestel is.

Wendy Alberts, uitvoerende hoof van die Restaurantvereniging van Suid-Afrika (Rasa)

Wendy Alberts, uitvoerende hoof van die Restaurantvereniging van Suid-Afrika (Rasa), skat dat die inperking byna 800 000 mense in die bedryf sonder ’n inkomste gelaat het. Dit vergelyk met die 430 000 werknemers van die land se myne, volgens Statistieke SA. R

asa werk sedert die inperking agt weke gelede begin het, met verskeie rolspelers in die bedryf saam om die gevolge van die inperking te verlig, en ook om by die regering vir die bedryf voorspraak te doen – wat onder meer behels om personeellede terug te kry by die werk en maniere te ondersoek om bokoste te verlaag.

Albert het in die week voor die president se jongste aankondiging aan finweek gesê die sleutelfokus in die interaksie met die regering is om die bedryf vir kontak, afhaal en deurry oop te stel (op vlak vier is net aflewering toegelaat), terwyl die volgende stap is om voorspraak vir sittende klante op vlak drie te doen – nie eers op vlak een nie.

The Restaurant Collective, ’n vereniging van sit-en- eet-restaurante, waaronder Ocean Basket, Tasha’s, Signature Restaurant en Famous Brands-Signature Brands, doen ook sedert begin Mei voorspraak dat sittende klante op vlak drie toegelaat word.

Grace Harding, uitvoerende hoof van Ocean Basket en woordvoerder van The Restaurant Collective

“Ons moet oopmaak,” sê Grace Harding, uitvoerende hoof van Ocean Basket en woordvoerder van The Restaurant Collective, in ’n onderhoud met finweek. The Restaurant Collective het vroeg in Mei met die oog hierop begin om ’n higiëne-en-bestuursprotokol te ontwikkel vir die veilige opening en bedryf van restaurante wat op 22 Mei by die Toerismesakeraad van SA (TBCSA) ingedien is. Die president se aankondiging ’n paar dae later het dit duidelik gemaak dat restaurante nie op vlak drie van die inperking toegelaat sou word om klante te laat sit en eet nie.

Al sal die onderskeie ministers nog die opheffing van verskeie beperkings duidelik maak, sal restaurante ingevolge die huidige inperkingregulasies nou toegelaat word om afhaal en deurry by hul bedrywighede te voeg, maar sal eers wanneer vlak een van die inperking bereik word, kan werk met klante wat op die perseel sit en eet.

Met geen teken dat dit gou sal gebeur nie, ervaar restaurante oral in die land – of dit nou jou plaaslike pizzeria, ’n franchise-eetplek in ’n winkelsentrum of ’n fynproewerrestaurant is – die baie werklike bedreiging dat hulle nie Covid-19 sal oorleef nie.

Hoekom aflewering nie genoeg is nie

Soos die meeste ander ondernemings is restaurante op vlak vyf heeltemal gesluit. Op vlak vier het hulle toestemming gekry om net met aflewerings te werk, maar dit het nie veel gehelp nie, sê Harding.

“Baie mense dink dat noudat aflewerings moontlik is, ons ’n bestaan kan maak. Ons kan nie. Sitrestaurante verskil baie van wegneemkos . . . In normale tye verteenwoordig aflewering sowat 10% van ons verkope. Ons gaan nie personeellede, nutsdienste, verskaffers, ensovoorts daarmee kan betaal nie.”

Wanneer restaurante ’n derdeparty-afleweringsplatform, soos Uber Eats of Mr D, gebruik, kan aflewerings ook net aan klante binne ’n beperkte radius van sowat 5 km gedoen word, en die restaurante moet kommissie van tot 30% daarvoor betaal.

“Aflewerings gaan nie baie goed nie. Ons werk by al drie winkels teen sowat 25% tot 30% van ons normale omset. Ons moedig klante aan om direk by ons te bestel vir aflewering, maar selfs dan is daar maar min bestellings, en ons eie afleweringsradius is steeds nie meer as sowat 6 km nie, vanweë die manier waarop kos vervoer word, bestuurderlogistiek ensovoorts,” sê Lexi Monzeglio, stigter van Lexi’s Healthy Eatery.

Terwyl hulle nie teen volle vermoë kan werk nie, en met dié dat aflewerings nie winsgewend is nie, het sommige restaurante kreatiewe maniere gekry om inkomste te genereer. Brik Café in Rosebank het byvoorbeeld bestanddeelbokse geskep wat

Sasha Simpson, eienaar van Brik Café

“ ’n reeks vars, seisoenale vrugte en groente insluit, asook sommige van ons selfgemaakte gunstelinge, soos jogurt, granola, chakalaka, konfyt en versnipperde borsstuk,” sê Sasha Simpson, eienaar van Brik.

“Die bokse was uiters nuttig net voor die inperking en het ons gehelp om in Maart die personeel se volle salaris te betaal. Ons lewer die bokse steeds een keer per week met voorafbestellings af, en sluit ’n persoonlike inkopie-opsie genaamd ‘van ons spens na joune’ in waar klante items kan afmerk op ’n lys yskas- en rakvullers wat ons by Brik maak of aanhou vir aflewering of straatafhaling.” Lexi’s Healthy Eatery het ’n reeks bevrore geregte bekend gestel wat volgens Monzeglio heel goed vaar.

“Ons is ook besig om ’n kleinhandelreeks af te handel wat ons hoop ook ons inkomste in die toekoms sal aanhelp. “Die moontlik ligpunt is dat ons na die kleinhandelomgewing gedwing is, en as dié aanvoorprojek suksesvol is, sal ons in die restaurante teen laer kapasiteit kan werk terwyl ons aanhou om ons onderneming en die handelsmerk uit te bou,” sê sy.

Maak gereed vir die toekoms

Die besluit om die beperkings weens die inperking op vlak drie voort te sit, is beslis ’n slag en sal waarskynlik uitgedaag word. Harding sê op ’n vraag hieroor dat die TBCSA aan “sekere planne” werk en dat The Restaurant Collective ook formele boodskappe gaan gee om te wys dat “hulle gereed is”.

Volgens haar sal die protokol vir veilige opening wat The Restaurant Collective opgestel het, op hul webwerf beskikbaar wees, en hulle sal in die eerste week van Junie begin om restauranteienaars en -bestuurders op te lei om aan die protokol te voldoen. Die rede hiervoor is dat hulle vir die regering wil wys dat hulle gereed is om al die nodige maatreëls te tref en dat die bedryf bereid is om verantwoordelikheid te aanvaar. Sy meen dat “as ons die kraan versigtig, op ’n oorwoë wyse begin oopdraai, dit ’n beter oplossing as net óf oop óf toe kan wees.

Die feit dat die bedryf saamwerk, kan ’n bietjie druk op die regering verlig.” Ongeag of Rasa, The Restaurant Collective en ander in die bedryf daarin slaag om suksesvol voorspraak te doen om die beperkings op restaurantbedrywighede te verlig, sal die tradisionele sit-en- eet-model merkbaar verander. Restaurante sal ná die inperking nie net probeer om die stukkies op te tel nie, maar sal hul sakemodel heeltemal herontwerp om te oorleef in ’n wêreld waar sosiale afstandhouding algemeen moet wees in ’n bedryf wat op sosialisering gegrond is.

Simpson sê byvoorbeeld dat die toekoms van Brik as ’n restaurant weens die Covid-19-beperkings onbepaald kan verander. Sy praat met eendersdenkende kollegas oor die moontlikheid om ’n koöperasie te stig, “waar hulle hulpbronne en uitgawes kan deel. Ons werk ook ’n strategie uit om die kafee om te skakel na ’n algemene winkel wat ’n reeks items, soos bevrore geregte, vars produkte, produkte van plaaslike ondernemings en produkte vir ’n volhoubare leefwyse, aanhou.”

Dis vir Monzeglio moeilik om te sê hoe die bedryf se vooruitsigte ná die inperking sal lyk, maar sy erken dat die algemene gevoel in die bedryf is dat die toekoms skrikwekkend is. Sy wys ook daarop dat uiteet ’n luukse uitgawe is – want ’n mens moenie vergeet dat restaurante kontantarm verbruikers sal moet lok wat self in spanning gereed maak om by ’n nuwe werklikheid aan te pas nie.

Die bedryf met een oogopslag
Volgens Grace Harding, uitvoerende hoof van Ocean Basket, verteenwoordig The Restaurant Collective ’n kategorie van sowat 13 000 sitrestaurante. Volgens Euromonitor Report 2017 lyk die oorkoepelende voedseldiensbedryf in Suid-Afrika omtrent soos volg, sê Harding:

141 000:
Getal winkels, waarvan 11 000 in kettinggroepe is

14 500:
Kafees en kroeë, waarvan 1 000 in kettinggroepe is

13 200:
Voldiensrestaurante, waarvan 1 200 in kettinggroepe is

11 500:
Kitskos, waarvan 7 000 in kettinggroepe is

98 000:
Straatstalletjies en kiosks, waarvan 300 in kettinggroepe is

3 000:
Pizzaverbruikervoedseldiens, waarvan 1 400 in kettinggroepe is

Help restaurante oorleef

Eat Out Restaurant Relief Fund is in vennootskap met Community Chest begin om restaurante finansieel te ondersteun terwyl hulle vir toestemming wag om weer ten volle te begin werk.

“Ons kry nuus van meer restaurante en ondernemings in die voedselbedryf wat weens die Covid-19-inperking permanent kan sluit. Sonder enige vorm van inkomste kan hulle nie die uitgawes bekostig wat elke dag toeneem nie,” sê Tarryn Corlett, hoof van Eat Out Restaurant Relief Fund.

Die fonds vra maatskappye en die publiek om geld te skenk om “ten minste meer sluitings in die nabye toekoms te voorkom”.

Op 26 Mei het die fonds se ondersteuning só gelyk:

Bedrag ingesamel: R1 177 842,67

Totaal uitgekeer of toegewys aan suksesvolle restaurante: R1 140 000

Getal suksesvolle aansoekers met uitkerings: 38

Suksesvolle aansoekers op waglys vir betaling wanneer meer geld beskikbaar raak: 3

Aansoeke afwagtend of wat gekeur word: 12

Besoek https://help.eatout.co.za/ om betrokke te raak.

Meer oor:  Finweek  |  Restaurante  |  Inperking  |  Eat Out Relief Fund
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.