Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Bankwese en geld se tweede renaissance
24 Oktober 2019
Foto: Shutterstock

Banke se kernfunksies het die afgelope amper vyf eeue min verander. Hul primêre rol as finansiële tussengangers tussen ’n spaarder wat geld deponeer en ’n lener wat ’n lening ontvang, is nog dieselfde. Dié ruilgerief verlaag transaksiekoste en maak dit vir banke moontlik om “geld te skep” deur meer uit te leen as wat hulle as deposito’s het. Dit gee banke ’n sleutelrol in kapitaalvorming, wat noodsaaklik is vir ekonomiese ontwikkeling.

Tegnologie verander egter banke se rol en die geld wat hulle kan bestuur. Al wat byvoorbeeld nodig is om ’n bankrekening by Tymebank oop te maak, is ’n identiteitsdokument en ’n selfoonnommer. Tymebank se kitsbanke is in Pick n Pay-winkels en bied al die nodige dienste.

Duur banktakke en -werknemers is nie nodig nie, wat die maandelikse koste op nul en transaksiekoste minimaal hou. Ses maande nadat die bank in Februarie vanjaar geopen het, het hy meer as 300 000 aktiewe kliënte gehad. Die ander uiterste is Discovery Bank, wat grootdata saam met gedragsekonomie sal gebruik om kliënte aan te spoor om beter finansiële besluite te neem. Dan is daar die nuwe oplossings in finansiële tegnologie, waaronder die vlaag kriptogeldeenhede, wat verander hoe ons oor geld dink.

Wat is die gevolge van al dié tegnologie?

Eerstens sal nuwe tegnologie waarskynlik die transaksiekoste tussen deposante en leners verder verlaag. Dit lyk dalk vanselfsprekend, maar daar was lank geen bewyse dat rekenaars en die internet enige uitwerking op die eenheidskoste van finansiële bemiddeling gehad het nie.

Trouens, Thomas Philippon het dit in 2015 in ’n verslag in die American Economic Review ’n raaisel genoem: Hoekom daal bankkoste nie vanweë al die nuwe inligtingstegnologie wat sedert die 1990’s beskikbaar is nie? Hy werk die data in ’n konsepverslag vir die Nasionale Buro vir Ekonomiese Ondersoek (NBER) by en los die raaisel op: Koste het sedert die 2008-krisis aansienlik gedaal.

Wie word egter deur die laer koste bevoordeel? Sal finansiële tegnologie groter toegang tot finansiële dienste bied, of sal dit ongelykheid vergroot?

Philippon meen dat twee magte die antwoord sal vorm. Eerstens lewer tegnologie toenemende skaalopbrengs op. Hy gebruik robotadvies as voorbeeld. Gewoonlik soek beleggers adviseurs om hulle te help om hul beleggings te kies. Philippon reken dat robo-raadgewers die vaste koste wat met batebestuur gepaardgaan op ’n wyse verminder “wat waarskynlik toegang tot finansiële dienste sal verbeter”. Tymebank is ’n uitstekende voorbeeld van groter opbrengs danksy beter tegnologie.

Om uit nuwe tegnologie voordeel te trek, sal regerings veel aanpasbaarder moet wees met regulasies – wat dikwels opgestel is vir tegnologie wat vinnig verouderd raak.

Die tweede mag is die gebruik van grootdata en masjienleer. Philippon meen dat dié vernuwings waarskynlik “ongegronde menslike vooroordeel teenoor minderhede sal verminder”, maar ook “waarskynlik die doeltreffendheid van bestaande regulasies sal verminder”. Leners gebruik kreatiewe nuwe maniere om kliënte se kredietwaardigheid te bepaal. Discovery sal byvoorbeeld op grond van sy kliënte se vorige gesondheidsgedrag hul vermoë om lenings terug te betaal beter kan voorspel.

Philippon wil wys dat dié alternatiewe inligtingsbronne – wat uit versekeringsverslae, web-geskiedenisse of sosiale media verkry is – dit moontlik maak om produkte vir elke individu te pasmaak. Pleks van persoonlike vergaderings, waar potensiële kliënte dikwels op grond van ’n paar aanwysers beoordeel word en daarom maklik aan die vooroordeel van die onderhoudvoerder onderwerp kan word, verminder masjienleer volgens verskeie bronne die risiko van vooroordeel. Philippon sê: “Selfs wanneer ingenieurs bevooroordeeld is en die vooroordeel in hul algoritmes invoeg, verminder die vooroordeel danksy die presisie van die krediettellingmodel.” Dit kan egter net gedoen word as regulasies dit moontlik maak.

Om uit nuwe tegnologie voordeel te trek, sal regerings veel aanpasbaarder moet wees met regulasies – wat dikwels opgestel is vir tegnologie wat vinnig verouderd raak. Dit is ook waar vir digitale geld. Digitale geldeenhede neem toe en maak waardeoordrag tussen individue moontlik teen ’n spoed wat vroeër ondenkbaar was. Nuwe geldeenhede – wat wissel van WeChat se digitale beursies tot kriptogeldeenhede soos Bitcoin – oorskry landsgrense en hervorm die aard van geld, die voorkoms van die internasionale monetêre stelsel, en die rol van regerings.

Hoe digitale geld die rol van geld in die samelewing sal ontwrig, en hoe regerings daarop moet reageer, is die onderwerp van ’n NBER-konsepverslag deur Markus Brunnermeier, Harold James en Jean-Pierre Landau. Hulle voorspel drie dinge. Eerstens sal digitale geld die drie tradisionele rolle, as waardevoorraad, ruilmiddel en rekeneenheid, ontwrig.

Hulle voorspel dat groter mededinging sommige geldeenhede sal dwing om in een van dié rolle te spesialiseer: byvoorbeeld, Facebook se Libra as ’n rekeneenheid, terwyl bitcoin ’n waardevoorraad kan wees. Hul tweede voorspelling is dat uitreikers van digitale geld hul geldeenheid sal probeer onderskei deur monetê funksies saam met tradisioneel afsonderlike funksies, soos data-insameling en sosialenetwerk-dienste, te bondel. Hulle voorsien dat dit nasionale geldeenhede kwesbaar sal maak vir “digitale verdollaring”.

Johan Fourie is medeprofessor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

Die derde is dat digitale geld betalings van banke na sosiale en ekonomiese netwerke en platforms sal verskuif, wat die trandisionele oordragkanse van monetêre beleid sal verswak. Hulle reken regerings “sal dalk digitale geldeenhede deur sentrale banke moet bied om monetêre onafhanklikheid te behou”. Bankwese sal in die volgende dekade grondliggende veranderinge ondergaan. Suid-Afrika se private banke, aangedryf deur nuwe mededingers, lyk gereed vir die uitdaging. Kom ons hoop die Reserwebank, wat in 2021 sy eeufees vier, is gereed vir die volgende eeu.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Johan Fourie is medeprofessor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.