
Moxima Gama is ’n onafhanklike aandelemarkontleder by The Money Hub.
Barloworld het ná die afname in toerisme en ander soorte reise gedurende die Covid-19-pandemie besluit om sy motor- en vlootsake onder een leierskorps te konsolideer.
Die groep het sy motorvoertuig-en-logistiekafdeling weer bekyk omdat die verkope van nuwe motors skerp afgeneem en die reële groei in voertuigverkope ondanks die lae inflasie- en rentekoerse aansienlik verlangsaam het.
Sy aandeelprys het begin styg ná ’n aankondiging in Desember verlede jaar dat Barloworld met MMI Durban South Motors oor die verkoop van sy motorkleinhandelsake onderhandel.
Op die grafiek:
Barloworld se aandeelprys het in Januarie verlede jaar geval nadat ’n negatiewe kop-en-skouers-patroon (blou blokkies op die grafiek) onder 10 300c per aandeel gevorm het. Hy het agt maande lank op die rand van sy belangrike steuntendenslyn (vet, swart lyn) gewankel, maar het stewig bo die laagtepunt van 5 140c gebly – wat laas in 2015 getoets is.
Wat om te verwag:
Barloworld se aandeelprys herstel binne sy langtermyn-stygtendens. Voortgesette stygings kan maak dat die aandeelprys op medium- tot lang termyn na sy vorige hoogtepunt by 19 000c terugkeer. As hy egter nie bo 10 300c kan verhandel nie, kan dit verkopers lok.
Lang posisie:
Barloworld toets ’n sleutelvlak by 10 300c. As hy daardeur breek, kan dit tot verdere stygings na weerstand by 13 675c lei. Neem ’n lang posisie bo 10 300c in en vergroot lang posisies dan bo 13 675c, want die momentum kan dan deur 15 510c na 19 000c toeneem.
Kort posisie:
Vermy ’n lang posisie of verkoop met ’n daling onder 8 465c, want Barloworld kan weer sy belangrike steuntendenslyn toets. As hy deur die sleutelsteunvlak van 5 140c breek, kan dit die einde van sy langtermyn-stygtendens aandui en die aandeelprys kan na die vorige laagtepunt van 2 395c daal.
* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za