Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
BEACH toe!

Die noordelike halfrond begin hom regmaak vir die somer ná 'n moeilike winter, en almal begin aan die strand te dink. In Suid-Afrika kom die strandseisoen nooit regtig tot ’n einde nie; ons weer is altyd heerlik in vergelyking met die noordelike halfrond s’n.

Die strand wat ons vandag wil bespreek, is egter nie die een met die blou water en die wit sand nie. Dit is eerder die Engelse “beach”, en dis ‘n akroniem. Ons ken almal BRICS en FAANGS, maar baie mense is nie bekend met BEACH-aandele nie.

BEACH-aandele verwys na aandele in die volgende sektore: Dit is in Engels, Bookings, Entertainment, Airlines, Casinos en cruises, en Hotels. In die lig van die veelvuldige golwe van die Covid-19-pandemie wat oor die BEACH gebreek het, is dit geen verrassing nie dat baie aandele in hierdie sektor in Maart verlede jaar groot waarde verloor het. Talle maatskappye in hierdie sektore se wins en balansstate het ernstig getuimel.

Die herstel was net so gewelddadig. Baie van hierdie aandele het vinnig gestyg en verhandel nou teen rekordpryse.

Nie alle vermaaklikheidsaandele het dieselfde aantrekkingskrag nie, en ons wil nie in die seewier vassit terwyl ons na skulpe soek nie. Die vraag is dus: Watter BEACH-aandele bied steeds goeie langtermynwaarde?

Besprekingsondernemings soos Booking Holdings (Booking.com) en Expedia is swaar getref tydens die pandemie. In die hersteltyd is dit waarskynlik dat diensverskaffers, soos hotelgroepe, die middelman sal uitskakel en aantrekliker afslag direk sal bied.

Vermaaklikheidsaandele wat op temaparke, lewendige byeenkomste en dobbel fokus, het ’n sekere aantrekkingskrag. Disney en Penn Gaming is goeie voorbeelde van aandele wat vir die komende jaar gelukkige strandherinneringe kan skep.

Teen 'n markkapitalisasie van $300 miljard is Disney die vlagskip van BEACH-aandele. Sy stroomdiens het hom onlangs gered omdat beleggers die “portefeulje-effek” van die House of Mouse waardeer. Die aandeel is meer as 20% hoër as die vlakke voor die pandemie en meer as 100% hoër as die laagtepunte, en die parke is nog nie eers oop nie. Ek glo die handelsmerkwaarde en “kruisverkoping” maak hom 'n uitstekende aandeel met groot stygpotensiaal sodra parke weer in werking kom.

Nog 'n opwindende aandeel in hierdie bedryf is Penn National Gaming. Die maatskappy van $14 miljard het van die pandemie gebruik gemaak om te diversifiseer van sy lewendige sportweddenskap om Barstool Sports aan te skaf. Hy oorheers nou die aanlyn sportweddenskapsbedryf. Byna tien maal hoër as sy laagtepunt tydens die pandemie, kan hy op kort termyn effens duur lyk. Die langtermyn-groeivooruitsigte, sowel as 'n stewige opbrengs op ekwiteit van 14% en goeie groeipotensiaal gee hom egter groot waarde.

Mohammed Nalla
Mohammed Nalla

Lugrederye is in n treurige toestand. Daar is 'n ou grap: Hoe word jy 'n miljoenêr in die lugrederybedryf? Begin deur 'n miljardêr te wees. Die meeste Amerikaanse lugdiensondernemings is steeds 25% onder hul vlakke voor die pandemie, terwyl die internasionale maatskappy International Airlines Group (wat die eienaar van British Airways en ander is), nog ongeveer 50% laer is. My benadering hier is om te fokus op streke waar die inentingsvlakke die hoogste is en waar reisbeperkings aggressiewer verlig word, dus Amerikaanse liewer as internasionale ondernemings. Dit is amper soos visvang waar jy jou lyn ingooi en miskien ’n grote vang, of miskien niks nie.

Skeepsvakansies is soos ’n volgepakte Durbanse strand tydens die vakansie. Miskien wil jy dit voorlopig vermy, maar wanneer die tyd reg is (miskien êrens in die verre toekoms), kan dit weer aantreklik word. Die risiko's van beperkte ruimtes in die konteks van 'n pandemie sal die vraag ernstig beïnvloed. Die koste om voldoende sosiale afstand in 'n beperkte ruimte op die see moontlik te maak, sal ook redelik hoog wees.

Casino's kan vandeesweek in Amerika geopen word. Onthou egter dat heelwat van die casino-inkomste afkomstig is van byeenkomste en vertonings, 'n segment wat geruime tyd nog onder druk kan wees.

Hotelle verteenwoordig die fisieke komponent van BEACH-aandele. Die meeste groot kettings is plat vergeleke met pre-pandemievlakke. Sodra die reise hervat, hetsy vir besigheid of ontspanning, sal hotelle terugkeer. Met vaste eiendom as ondersteuning kan

dit geduldige beleggers dalk bystaan, maar ontwrigtings soos AirBnB (wat eers in Desember verlede jaar genoteer is) kan hier nogal probleme veroorsaak.

Mobiliteitsdata toon dat “vermaaklikheid” in Amerika ongeveer 9% onder die basislyn bly (dit is 13% onder in SA). Die wêreld kom terug van die pandemie. Die tempo van inentings en herstel sal relatiewe wenners en verloorders tot gevolg hê. Dit is belangrik om die nuanse dop te hou, en miskien kan BEACH-aandele aantreklik wees, maar onthou jou sonbeskermingsroom.

  • Mohammed Nalla is 'n CFA en stigter van Moe-knows.com.
Meer oor:  Mohammed Nalla  |  Beleggings  |  Buiteland  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.