Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Belangrike ekonomiese engin weer aangesit
4 Junie 2020
Foto’s: Verskaf I Shutterstock

Suid-Afrika se motorbedryf kan nou uiteindelik sy werk hervat. Hoewel dit nog stil is, begin voorbereidings vir voertuigproduksie gemaak word, en handelaars het darem die groen lig gekry om weer sake te begin doen.

Die motorbedryf is baie belangrik vir die ekonomiese gesondheid en welsyn van SA en sy mense. Die bedryf, vervaardiging sowel as kleinhandel, het verlede jaar R500 miljard se inkomste tot die land bygedra (2018: R503 miljard) en 6,9% tot die BBP (4,4% vervaardiging; 2,5% kleinhandel). Die bedryf is ook verantwoordelik vir ongeveer 457 000 werkgeleenthede.

Die bedryf is ’n steunpilaar vir SA se ekonomie en is verantwoordelik vir 30,1% van totale vervaardiging. Volgens die nasionale vereniging van motorvervaardigers van SA (Naamsa) het voertuigproduksie verlede jaar tot 631 983 eenhede gestyg, terwyl die uitvoer van voertuie (387 125) en motoronderdele R201,7 miljard bedra het. Maar die koronavirus-inperking het voertuigvervaardiging, -verkope en -uitvoer se rempedaal behoorlik ingetrap. Die uitwerking was ernstig, en die gevolge sal geruime tyd nog gevoel word.

Lebogang_Gaoaketse,_Wesbank_

“Die bedryf se beduidende bydrae van 6,9% tot die BBP beteken dat baie werkgeleenthede oor vervaardiging en kleinhandel heen potensieel geraak word, sowel as die valutaverdienste van uitvoer. Mobiliteit speel ’n belangrike rol in die nodige stimulus aan alle sektore van die ekonomie,” het Lebogang Gaoaketse, hoof van bemarking en kommunikasie by WesBank, gesê.

Volgens Naamsa het verkope van nuwe voertuie in April, toe SA se inperking in volle gang was, met ’n enorme 98,4% gedaal, vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar. Slegs 574 voertuie is verkoop teenoor 36 787 eenhede in April verlede jaar. Uitvoer het met 97,3% getuimel, met slegs 901 eenhede wat SA verlaat het, in teenstelling met die 32 828 eenhede van April 2019.

Mike_Mabasa,_Naamsa_CEO
Mike_Mabasa,_Naamsa_CEO

“Tydens die inperking was daar ten volle vervaardigde motors wat in vervaardigingsaanlegte, by vervoerders en by Transnet in die hawens gesit het,” het Michael Mabasa, uitvoerende hoof van Naamsa, aan finweek gesê. Etlikes begin die land nou verlaat. Maar baie lande is nog ingeperk. Voordat die voertuie Durban of Richardsbaai dus kan verlaat, moet daar eers by die bestemmingsowerheid vir elke besending bevestig word of die skip toegelaat sal word om daar te dok, sê Mabasa.

Gegewe die produksiebeperkings sal die uitvoersyfers vir Mei steeds na verwagting laag wees, hoewel dit beter as April s’n sal wees. Mabasa verwag ’n afname van ongeveer 50% tot 60% in uitgevoerde eenhede in Mei vanjaar teenoor die syfer vir Mei verlede jaar (29 850 eenhede).

Gedempte vraag

Die verspreiding van die koronavirus en noodsaaklike beheermaatreëls sal waarskynlik die vraag in alle groot markte ernstig demp. Moody’s Investors Service voorspel dat die wêreldwye vraag na passasiersvoertuie vanjaar met ongeveer 14% sal krimp.

Statista sê die wêreldwye motorbedryf verwag om vanjaar 59,5 miljoen voertuie te verkoop, 20% minder as verlede jaar se 75 miljoen. Boonop is daar sprake dat die Europese mark (SA se grootste uitvoerbestemming en verantwoordelik vir 73% van ons voer- tuiguitvoer) moontlik met 30% sal daal.

“Dit sal my nie verbaas as ons uitvoer 20% of meer daal nie,” het dr. Martyn Davies, besturende direkteur vir ontluikende markte en Afrika, en die hoof in die motorsektor by Deloitte Africa, aan finweek gesê.

Dr_Martyn_Davies,_Deloitte
Dr_Martyn_Davies,_Deloitte

Davies sê hy glo die wêreldwye herstel sal deur Asië gelei word en verwag dat die uitvoermarkte in Asië redelik lewendig sal bly. Voertuiguitvoer na Asië vorm ’n klein persentasie van SA se uitvoer, maar Davies dink SA moet na markte kyk wat groei en minder deur die pandemie beskadig is.

“Die wêreldwye gevolge van hierdie pandemie sal nog lank duur, van die ekonomiese gevolge tot die manier wat ondernemings werk en hoe verbruikers optree,” sê Gaoaketse. Hy het aan finweek gesê dat die aansoeke vir voertuigfinansiering in April 82% laer was as in Maart vanjaar, terwyl die jaar-tot-jaar-syfers 48% laer is.

Maar, sê hy, aansoeke het in Mei stadig begin verbeter. Volgens Naamsa is die gemiddelde prys van tweedehandse voertuie wat vir April gefinansier is R131 277, teenoor R184 046 vir nuwe motors. Teen 18 Mei het WesBank meer as 100 000 aansoeke om betalingsverligting vir voertuigfinansiering ontvang, en verligting is aan meer as 53% van die kwalifiserende kliënte gebied.

Die plaaslike mark was selfs voor die Covid-19-pandemie onder druk, met verkope verlede jaar 2,8% laer (536 626 eenhede is verkoop). Verkope vir vanjaar sal na verwagting aansienlik minder wees; ontleders voorspel verkope in die omgewing van 450 000. Hoewel rentekoersverlagings en die lae brandstofprys plaaslike voertuigverkope waarskynlik ietwat sal stimuleer, sal verbruikers traag wees om tot die motormark terug te keer weens begrotingsbeperkings wat veroorsaak word deur werkverliese en salarisverlagings as gevolg van die pandemie.

“Ons benader nou ’n dekade van ’n middelklas onder druk. Die beweging weg van luukse handelsmerke gebeur reeds. Mense verskuif na klein luikrugmodelle en goedkoper SUV’s, en die verkoopsyfers van Duitse vervaardigers soos Audi, BMW en Mercedes-Benz het dramaties gekrimp,” sê Davies. Hy sê die middelmarkvervaardigers met sterk handelsmerke soos VW, Toyota en Kia sal meer veerkragtig wees.

“Die bedryf se beduidende bydrae van 6,9% tot die BBP beteken dat baie werkgeleenthede oor vervaardiging en kleinhandel heen potensieel geraak word, sowel as die valutaverdienste van uitvoer.”

SA se motorvervaardigers terug op die produksielyn

Hoewel SA se motorvervaardigers nie voertuie tydens die vlak 5-inperkings kon vervaardig nie, was hulle nie ledig nie. Die vervaardigers van die land se oorspronklike toerusting (OEM’s) was aan die voorpunt in die stryd teen Covid-19, hetsy met die vervaardiging van persoonlike beskermende toerusting en asemhalingstoestelle, soos Mercedes-Benz SA was, of om ’n ongebruikte aanleg in Port Elizabeth te verander in ’n tydelike mediese gerief vir Covid-19, soos Volkswagen SA doen met sy bydrae van R28 miljoen en die Duitse owerheidsfinansiering van €5,2 miljoen.

Onder vlak 4-regulasies open SA se OEM’s hul vervaardigingsaanlegte nou geleidelik vir voertuigproduksie. BMW in Rosslyn, VW in Port Elizabeth, Toyota in Durban en Mercedes-Benz in Oos-Londen is almal weer aan die gang, tans teen ’n vermoë van 50%, terwyl Nissan, Ford en Isuzu einde Mei gereed sal wees vir die produksie van voertuie, sê Mabasa.

Na verwagting sal vlak 3-inperkings, wat Mabasa hoop teen einde Mei sal geld, 100% van die vermoë oplewer. Mabasa voorspel ’n 25%-daling van vervaardigde eenhede vergeleke met verlede jaar, en verwag die departement van handel en nywerheid sal die jaarlikse produksieperk van 50 000 eenhede vir OEM’s wat die motorproduksie-en-ontwikkelingsprogam bepaal, nou hersien. Op ’n meer aangename noot het baie van die OEM’s aangedui dat hulle werkverliese sal probeer beperk en geen noemenswaardige werkverliese word beplan nie. Motorvervaardigers wat meer gemeganiseerd is – soos BMW wat die X3 bou – sal meer beweeglik wees en minder geneig wees om arbeid te ontslaan, sê Davies. Maar die nasionale motorhandelaarsvereniging (Nada), wat 85% van alle nuwevoertuigfranchise-handelaars in SA verteenwoordig, verwag werkverliese in dié sektor.

Die meeste van die plaaslike verbruik is afkomstig van Nada en sy 1 300 lede, en omdat hulle nie aan die ekonomie kon deelneem nie, het die situasie erger geword, sê sy voorsitter, Mark Dommisse. “Die uitwerking op kleinhandelondernemings sou meer verwoestend gewees het as daar ’n verdere vertraging was in die besluit om handel toe te laat,” het hy gesê. Motorhandelaars is eers in die middel van Mei uiteindelik die kans gegee om weer sake te doen.

Jaguar_iPace,_AutotraderCarOfTheYear2020

Genoteerde maatskappye met motorbedrywighede

Die inperking het 90% van die JSE-genoteerde motorgroep Motus se bedrywighede geraak. Motus, wat in 2018 van Imperial ontknoop is, verteenwoordig 22 OEM’s en 321 handelaars. Hy het meer as 18 600 mense in diens, het ’n kleinhandelmarkaandeel van 20,1% en ’n ongeveer 25%-huurmarkaandeel deur sy motorverhuringsondernemings Europcar en Tempest.

Aan die einde van April is die verlaging van direkteure en lede van die uitvoerende komitee se vergoeding vir ses maande, die vermindering van reklamebesteding, die kansellering van die tussentydse dividend en die opskorting van die aandeelterugkoopprogram aangekondig. Motus het gesê hy het ’n voldoende voorraad voertuie en onderdele vir besigheid oor die volgende ses maande, en op grond van gesprekke met OEM’s en verskaffers, word daar nie ’n beduidende onderbreking in die voorsieningsketting verwag nie.

Die JSE-genoteerde Barloworld met bedrywighede in motorhandel (50 handelaars) en motorhuur (Avis en Budget) het kostebesparingsinisiatiewe aangekondig wat salarisopofferings en opskorting van pensioenfondsbydraes insluit. En die verkoop van sy 50%-aandeel in die vlootbestuursbesigheid Avis Fleet is uitgestel. Hy verwag die bedryfsomgewing sal op kort termyn swak en wisselvallig bly met aansienlik minder aktiwiteit in die motorafdeling. In die middel van Mei was daar onbevestigde berigte van gesprekke oor afleggings in die motor- en logistiekafdeling.

Bidvest Group se motorafdeling sluit die motorhandelaar Bidvest McCarthy in, met ’n netwerk van meer as 100 handelaars wat 26 motorhandelsmerke verkoop. Bidvest Automotive is ook in die sektore vir motorhuur en motorveilings (Burchmores) bedrywig.

Die bedryf sal anders wees, en maatskappye sal moet aanpas.

Die maatskappy het volgehoue druk op marges in die markte vir nuwe sowel as gebruikte voertuie aangemeld vir die ses maande geëindig 31 Desember verlede jaar. Die luukse handelsmerke ly steeds. Die JSE-genoteerde Combined Motor Holdings (CMH) het beduidende belange (65%) in die kleinhandelmotorsektor, en hou franchises vir die verkoop van 19 verskillende motorhandelsmerke, terwyl sy belang in motorhuur 16% beloop.

As gevolg van die inperking het CMH die bekendmaking van sy resultate vir die jaar geëindig 29 Februarie vanjaar uitgestel, maar gesê dat die wesensverdienste per aandeel en die verdienste per aandeel met die finansiële jaareinde met tussen 5% en 15% sal daal.

Die bedryf sal anders wees, en maatskappye sal moet aanpas. Davies glo dat die rasionalisering van die handelaars en kosteverlaging aan die orde van die dag sal wees vir ondernemings om gesonder te word, terwyl hulle wag vir ’n mate van herstel. Maar, waarsku hy, “hier is geen V-vorm nie,” met verwysing na die verskynsel van ekonomiese herstel wat ’n kort periode van ekonomiese agteruitgang verteenwoordig, gevolg deur ’n sterk herstel. “Dit sal ’n tyd duur, en ondernemings moet doen wat nodig is om te oorleef.”

Wind van agter

Afgesien van lae rentekoerse en laer brandstofkoste is daar ander maniere om verligting aan verbruikers, OEM’s en motorhandelaars te bied. Die belasting op motors, wat in SA 48% van die gemiddelde motorprys uitmaak, is ’n voorbeeld. Davies beskryf ’n innoverende kort- tot-mediumtermynoplossing wat dit kan verminder. Dit het te make met die besparing waaruit die regering voordeel trek as gevolg van die verlaagde olieprys.

Die motorsektor is die belangrikste toegevoegdewaardebedryf in SA. Ons moet alles moontlik doen om dit te beskerm. Dit is moeilik om te industrialiseer; dit is byna onmoontlik om te herindustrialiseer

Hy sê die regering kan minstens ’n deel van hierdie besparings deurgee. “Die staat kan meer belasting op die olieprys hef en motorbelasting verlaag, wat motorpryse dan goedkoper sal maak.”

“Die motorsektor is die belangrikste toegevoegdewaardebedryf in SA. Ons moet alles moontlik doen om dit te beskerm. Dit is moeilik om te industrialiseer; dit is byna onmoontlik om te herindustrialiseer,” sê hy.


Kleiner motors wyl kontant knyp

Die pryse van nuwe voertuie het in die eerste kwartaal van vanjaar met 4% gestyg, teenoor 2,3% vir die vergelykende tydperk verlede jaar, terwyl die prysstyging van gebruikte motors volgens TransUnion van 1,8% tot 1,4% verlangsaam het. Dit is geen verrassing nie dat meer tweedehandse as nuwe motors verkoop is.

In Maart het die verhouding 2,31 tot 1 bereik. Namate die ekonomie agteruitgaan en die verbruiker se beursie die gevolge van die pandemie moet dra, sal die voorkeur vir gebruikte motors waarskynlik die hoogte inskiet.

Motoriste (insluitende verbruikers op hoër inkomstevlakke) wat desperaat is om kontant beskikbaar te stel of maandelikse huishoudelike koste te verlaag weens werkverliese of salarisbesnoeiings ná die Covid-19-inperking, koop goedkoper voertuie.

“Navrae oor tweedehandse voertuie onder R50 000 het met bykans 300% gestyg teenoor normale voor-inperkingsvlakke,” sê George Mienie, uitvoerende hoof van AutoTrader.

Volgens Mienie het ’n opname wat gedurende die eerste week van Mei vanjaar gedoen is, getoon dat die finansiële welsyn van 65% van die verbruikers wat voertuie in SA koop, negatief beïnvloed is deur die landwye inperking. Die opname het getoon dat 30% van die verbruikers wat voertuie koop, onder druk was om hul voertuie binne vier weke te vervang. 


Covid-19 laat planne afrat vir elektriese voertuie

Verlede jaar is 2,2 miljoen elektriese voertuie (EV’s) wêreldwyd verkoop. Maar dié syfer sal na verwagting einde vanjaar met 43% tot 1,3 miljoen daal, volgens die internasionale navorsings-en-konsultantmaatskappy Wood Mackenzie.

EV’s het die afgelope twee jaar ongeveer 5% van alle voertuigverkope in China uitgemaak. Maar EV-verkope daar is swaar getref deur die pandemie. In Januarie was verkope 54% laer, en Februarie sal dit na verwagting meer as 90% laer wees.

Daarteenoor het EV-verkope in Januarie in Europa met 121% gestyg ondanks ’n afname van 7% in die totale mark. Die toenemende EV-syfer het in Februarie voortgeduur, hoewel dit laer was.

Tradisionele motorvervaardigers wat die EV-mark betree, het nuwe modelle aangekondig wat oor die volgende paar jaar bekendgestel sal word, eerder as oor die volgende 12 maande, sê Wood Mackenzie.

Die aantal EV-modelle in SA gaan na verwagting verander, wat moontlik die EV-modelle in SA van drie na 12 sal bring.

Maar die pandemie sal moontlik dié planne omverwerp. Michael Mabasa, uitvoerende hoof van die nasionale vereniging van motorvervaardigers van SA, het aan finweek gesê verskeie vervaardigers het voor die koronavirus oorweeg om EV’s na die mark te bring. Hy sê dat van hulle bekostigbare Chinese en Indiese handelsmerke was – met vlak 2-inperkings sal dié planne bygewerk word.

Dit is nie verbasend nie dat aanvaarding van EV’s in SA laag was, weens die hoër pryse en infrastruktuurbeperkings, maar die verkope verlede jaar van die drie EV-modelle wat tans op die mark is (BMW i3, Nissan Leaf en Jaguar iPace), was 154 eenhede teenoor 58 in 2018.

“Namate meer handelsmerke inkom, sal die pryse van EV’s meer daal,” sê Mabasa. 

Meer oor:  Finweek  |  Motorbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.