Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Belastingbetalers verkeer onder verdere druk
7 November 2019
Tito Mboweni, Minister van finansies

Die minister van finansies, Tito Mboweni, het moeilike vooruitsigte vir Suid-Afrika se ekonomie aangekondig en gewaarsku oor die gevolge as daar versuim word om die regering se verswakkende finansies te takel in die lig van ’n skerp stygende loonrekening in die openbare sektor, en die agteruitgang by staatsondernemings.

In die mediumtermynbegrotingsbeleidsraamwerk (MTBBR) – wat hy op 30 Oktober aan die parlement voorgelê het en wat die besteding en inkomsteberamings vir die volgende drie jaar uiteensit – is voorspellings vir ekonomiese groei skerp verlaag en begrotingstekorte skerp opwaarts aangepas, en het die verwagte openbareskuldlas skerp gestyg.

“Daar is ’n aantal risiko’s vir die fiskale raamwerk, wat hierdie regering trompop sal moet konfronteer,” het hy gesê tydens ’n nuuskonferensie wat voor sy toespraak aan die parlement gehou is. Die skuldlas “bereik onvolhoubare vlakke” en “ons moet besorg wees”, het hy bygevoeg.

Die begrotingstekort sal in 2019-’20 na verwagting tot 5,9% van die bruto binnelandse produk (BBP) styg – ver bo die 4,5% wat die tesourie in Februarie voorspel het – en die jaar daarna sal dit ’n hoogtepunt van 6,5% bereik voordat dit in 2021-’22 tot 6,2% sal daal. Dit was egter die geprojekteerde skuld-tot BBP-verhouding, ’n sleutelaanwyser vir die land se kredietgradering, wat die waarskuwingsligte laat flikker het.

Teen 2022-’23 sal dit tot 71,3% styg, en as daar nie ander maatreëls is nie, sal dit verder groei, het die tesourie gesê. Skulddienskoste, die vinnigs groeiende komponent van begrotingsbesteding, versnel steeds en sal tot ’n gemiddelde tempo van 13,5% oor die MTBBR-raamwerk uitbrei. Binne twee jaar sal dit die besteding in ander gebiede, soos gesondheid en ekonomiese ontwikkeling, oorskry.

Mboweni was optimisties oor die syfers, maar dit sal vir Suid-Afrika baie moeilik wees om sy jongste kredietgradering in die komende maande te behou, met Moody’s wat in die volgende paar weke waarskynlik die vooruitsigte vir die land se staatskuld van stabiel na negatief sal verander. “Die verslegtende fiskale posisie bedreig die regering se vermoë om bestaande vlakke van dienslewering en infrastruktuurbelegging te handhaaf,” het die tesourie in die begrotingsdokument gewaarsku.

“Moeilike besluite is nou nodig om die openbare finansies te stabiliseer.” Mboweni het daarop gewys dat die MTBBR slegs ’n aanduiding is van die waarskynlike uitkomste vir staatsfinansies, en nie nuwe inkomsteverbeterende maatreëls, soos belasting, insluit nie.

“Die graderingsagentskappe sal die probleme waarin ons verkeer, verstaan, asook die aksies wat ons neem om die land se finansies op ’n stewige basis te plaas,” het hy gesê.

Belastinginkomste is ver onder verwagtinge, gegewe die swak tempo van ekonomiese groei, wat na verwagting vanjaar tot 0,5% sal daal, vergeleke met die 1,5% wat in Februarie voorspel is. Dit sal dan vir elk van die komende drie jaar onder 2% wees – heeltemal te laag om ons rekordwerkloosheid te takel.

Die tekorte aan geprojekteerde invordering sal vanjaar R52,5 miljard beloop, R84 miljard volgende jaar, en R114,7 miljard in 2021-’22, weens ’n kombinasie van werkverliese, afnemende bedryfswins en eenmalige terugbetalings van belasting op toegevoegde waarde. Die tesourie het dit duidelik gestel dat Suid-Afrikaanse belastingbetalers volgende jaar onder verdere druk sal verkeer vanwee die dringende behoefte om openbare finansies te stabiliseer.

“Die afgelope paar jaar se beduidende belastingverhogings laat beperkte ruimte om belastinginkomste te verhoog. Gegewe die grootte van die vereiste aanpassing, word bykomende belastingmaatreëls egter oorweeg,” lui die verslag.

Die Februarie-begroting het reeds R10 miljard se belastingverhogings vir volgende jaar opgeteken en “moeilike besluite” moet geneem word, het die tesourie gesê. Ekonomiese hervormings wat die regering beplan sal eers na ’n paar jaar resultate oplewer, wat beteken dat inkomste-invordering in die komende jare swak sal bly, het hy bygevoeg.

Maar die olifant in die kamer is die vinnige groei in die openbare sektor se opgeblase loonrekening, wat volgens die tesourie, getakel moet word om die regering se skuldlas te stabiliseer – ’n belofte wat vorige administrasies nie kon nakom nie. Salarisbetalings beloop 35% van totale uitgawes en is dié besteding wat die tweede vinnigste groei.

“Die verslegtende fiskale posisie bedreig die regering se vermoë om bestaande vlakke van dienslewering en infrastruktuurbelegging te handhaaf.”

Amptenare se salarisse het die afgelope dekade met 40% gestyg, selfs ná aanpassing vir inflasie. Opsies om die groeitempo te bekamp, sluit in die vaspen van aanpassings van lewenskoste by of laer as inflasie, gemeet teenoor die verbruikersprysindeks, die afskaffing van outomatiese loonverhogings en die hersiening van beroepspesifieke betalings van lone, sê die tesourie.

“Die regering moet hierdie sake met arbeid bespreek, en vordering sal in die 2020-begroting aangekondig word,” het hy bygevoeg. Mboweni was optimisties oor die waarskynlikheid van vordering met die onderhandelinge en het die versekering gegee dat bates van sukkelende staatsondernemings verkoop sal word.

“Die Februarie-begroting is ’n paar maande weg. Ons het tyd vir ernstige gesprekke – patrioties, bewus van die probleme waarmee ons te kampe het, en geen aanstellery nie,” het hy gesê. “As dinge moeilik word . . . as die handskoen nie pas nie, dra jy dit nie.”

Mboweni sê die tesourie moet R150 miljard aan bestedingsverminderings en bykomende inkomste oor die komende drie jaar terugkry, of R50 miljard per jaar, om sy begrotingsdoelwitte te bereik. Die tesourie het egter aangedui dat hy die verwagte besparing van R12 miljard per jaar oor die volgende twee jaar “omkeer”.

Dit sluit in maatreëls om lone in die openbare sektor te beperk. Direkteur-generaal Dondo Mogajane het op die nuuskonferensie gesê dit is omdat die oorspronklike plan nie arbeid se steun het nie – die “verkeerde begin” word reggestel, en daar sal beter resultate wees as almal deelneem. Daar was geen aanduidings van planne om Eskom se skuld van R440 miljard te herstruktureer nie, wat die grootste las op regeringsfinansiering is.

Mogajane het gesê sodra Eskom “sy besigheid reggemaak” het, die tesourie al die beskikbare opsies sal bekyk - ’n aanduiding dat dit nie binnekort sal gebeur nie. Die moontlikheid dat die regering van die kragvoorsiener se skuld sal oorneem, is bespreek, of dat dit oorgedra kan word na ’n spesiale gerief wat in aanmerking kom vir vergunningsklimaatsfinansiering, aangesien Eskom beplan om van sy steenkoolmyne te sluit.

Die regering wil Eskom in drie filiale verdeel – opwekking, transmissie en verspreiding. Tesourie-amptenare het tydens die MTBBR aangedui dat die herstrukturering van skuld nie kan plaasvind voordat daar besluit is hoe om die las onder die drie entiteite te verdeel nie.

Eskom het ’n reddingslening van R49 miljard vir 2019-’20 ontvang, wat gevolg sal word deur R56 miljard in 2020-’21, R33 miljard in 2021-’22 en R23 miljard in 2022-’23. Mboweni sê daar is planne om ’n toegewyde likiditeitsgerief binne die tesourie te stig vir alle staatsondernemings, wat sal help om die ekwiteitsinspuiting van lenings te skei.

Enige finansiering wat toegestaan word, sal ’n lening, nie ’n toekenning wees nie, en moet terugbetaal word. Ander staatsentiteite verhoog die bestedingsdruk op die regering, met reddingsfinansiering vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), die SAUK, Denel en South African Express van R10,8 miljard vanjaar. Dis onwaarskynlik dat die SAL in sy huidige opset genoeg kontantvloei sal genereer om met sy bedrywighede vol te hou, het die tesourie gesê.

“Die regering sal die SAL se uitstaande staatsgewaarborgde skuld van R9,2 miljard oor die volgende drie jaar terugbetaal om sy kontraktuele verpligting na te kom. Bedryfsveranderinge by die SAL is dringend nodig.” Die tesourie het gesê die staat se voorwaardelike aanspreeklikheid, wat bestaan uit staatsgewaarborgde skuld asook die verpligtinge van die Padongelukkefonds (POF) sal teen 2021-’22 waarskynlik bo R1 duisend miljard wees.

Nog ’n groot probleem: in 2021-’22 word die POF die grootste komponent, met laste wat na verwagting van R341 miljard vanjaar tot R605 miljard in 2022-’23 sal groei. Die meeste regeringslenings word in plaaslike markte gefinansier, wat help om die wisselkoersrisiko te verminder. Die buitelandse besit van Suid-Afrikaanse effekte het in Maart verlede jaar ’n hoogtepunt van 42,8% bereik en het sedertdien tot 36,9% gedaal, het die tesourie gesê.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

Foto: Gallo/Getty Images

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Ekonomie  |  Finweek  |  Mtbr2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.