Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Belê tyd om ’n beter verhandelaar en belegger te word
12 Desember 2019

Nog ’n jaar het verbygevlieg. Ek weet nie van jou nie, maar na dié jaar voel ek sommer oud. Eintlik het die plaaslike mark goed genoeg gedoen as ons dividende bytel, maar ek voel steeds uitgemergel.

Gelukkig het ek oor die Kersvakansie tyd om ’n bietjie te rus. As jy ook het, is dit ’n goeie tyd om weer na jou belegging- en verhandelingstrategieë te kyk en voornemens vir 2020 te maak. Eerstens, iets oor nuwejaarsvoornemens in die algemeen.

Nuwejaarsvoornemers 

Gewoonlik is die voornemens wat ons aan die begin van ’n nuwe jaar maak binne ’n maand of twee vergete. Daar is ’n paar redes hiervoor. Ons neem ons lofwaardige dinge voor, maar maak nie praktiese planne om dit in werking te stel nie.

Gewoonlik is die voornemens wat ons aan die begin van ’n nuwe jaar maak binne ’n maand of twee vergete.

Verder is ons voornemens dikwels wense eerder as werklik uitvoerbare idees. Jy moet dus seker maak jy het nie slegs die voorneme nie, maar ook ’n plan wat dit ondersteun; met ander woorde ’n klompie stappe wat verseker jy kan by jou voorneme hou.

Begin deur weer oor jou voornemens van ’n jaar tevore te besin.

Hoe het dit daarmee gegaan? As die antwoord “Uitstekend!” is, knap gedaan. Indien nie, wat het verkeerd gegaan? Was dit as gevolg van prosesse of was dit buite jou beheer? Kyk ook of jy geld gemaak het. Het jy jou maatstaf geklop? Dié proses is gewoonlik vir ’n belegger makliker as vir ’n verhandelaar, want om te belê is ’n stadiger proses.

Soos altyd moet jy jou egter afvra of jy in die meeste jare werklik geld gemaak het. Indien nie, behoort jy te stop en eenvoudig beursverhandelde fondse te koop. Jy moet ook weer kyk hoe jy beter kan word – en jy kan altyd beter word. Vir my is die groot ding om meer te lees.

Soos altyd moet jy jou egter afvra of jy in die meeste jare werklik geld gemaak het. Indien nie, behoort jy te stop en eenvoudig beursverhandelde fondse te koop.

My mikpunt is altyd 52 boeke per jaar, die helfte daarvan is niefiksie. Ek mis meesal dié mikpunt. So, vanjaar het ek Blinkist begin gebruik. Dié aanlyn diensverskaffer voorsien lesers van ’n kort opsomming van boeke. Dit gee my ’n baie beter idee of ’n sekere boek iets is wat ek sal geniet om te lees en iets uit te leer, wat my gehelp het om vir die eerste keer in jare my mikpunt te behaal.

Simon Brown
Wat het beleggers beïnvloed?

Beleggers moet ook kyk of hulle deur kortstondige gebeurtenisse beïnvloed word. Die plaaslike mark het nou sowat vyf jaar lank moeilike tye ervaar en groot vrees heers oor ons plaaslike ekonomie. Dit het ’n refleksreaksie by talle beleggers veroorsaak, party het selfs hul pensioen laat uitbetaal om hul geld oorsee te neem. Geen refleksreaksie is ooit ’n goeie idee nie.

Dink eerder deeglik na voordat jy reageer: kyk na wat plaaslik aan die gang is en vra jou af of die ergste verby is of nog voorlê. Verhandelaars moet weer na hul opbrengste kyk en hoeveel tyd hulle aan verhandeling bestee. Groentjies neig dikwels om woes in te klim en als op die spel te plaas.

Mens raak egter mettertyd slimmer en begin terughou – doen minder transaksies en leer om op die proses te fokus – en vertrou dat ’n gedissiplineerde proses wins sal bring. Verhandelaars moet ook hul toetree- en uittreepunte bekyk en seker maak hulle is absoluut gedissiplineerd daarmee. As jy keerverliese misloop, kyk of jy dit kan outomatiseer – só verwyder jy jouself uit die proses en maak dit meer betroubaar.

Die risiko met verhandeling is dat ’n enkele slegte transaksie ’n hele jaar se verhandeling ongedaan kan maak. Ons moet dus met elke transaksie totale dissipline handhaaf.

Die belangrike ding is egter om te verseker dat jy elke jaar beter raak met jou verhandeling en belegging – stappie vir stappie.

Hoe maak ons seker ons doen dit? Bestee dié vakansie tyd daaraan om aan maniere te dink hoe jy ’n beter verhandelaar en belegger kan wees.

Deel dié idees dan in kleiner onderdele op, wat jy in ’n proses kan verwerk en bestuur. Stel die proses dan in werking. Algaande sal jy dalk ontdek jou proses het tekortkominge, maar dan pas jy dit hier en daar aan.

Die belangrike ding is egter om te verseker dat jy elke jaar beter raak met jou verhandeling en belegging – stappie vir stappie.

Meer oor:  Finweek  |  Beleggers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.