Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Beleggers: Pas op waarvoor jy wens
10 September 2020
Foto: Shutterstock

Ons as verhandelaars of beleggers is eintlik risikobestuurders en gewoonlik konsentreer ons op die risiko om geld te verloor. Risiko in die markte gaan egter oor meer as net om geld te verloor. Ek het voorheen al geskryf een van die wonderlike dinge van belê is dat jou daalrisiko tot 100% beperk is, want ’n belegging kan net tot op nul daal.

Die beloning is egter onbeperk, want ’n aandeelprys kan hemelhoog styg. Hou ons dit in gedagte, is dit baie makliker om te belê – selfs al kom ons ’n paar nikswerd aandele langs die pad teë.

Om te belê, behels egter meer as dit – en daar is ander risiko’s as om geld te verloor. Nerina Visser, direkteur by etfSA, het eenkeer opgemerk risiko is wanneer die uitkoms nie is soos ons verwag het nie.

Dié grondbeginsel het die manier verander waarop ek my eie beleggingsrisiko beskou. Hoe ’n mens dit kan benader, is dat ’n beursverhandelde fonds (ETF) heeltemal sonder risiko is as jy dit koop met die verwagting dat die ETF bloot die onderliggende indeks se opbrengs sal lewer.

Dit is hoe ’n ETF ontwerp is. As jy dus tevrede voel dat indekse rondspring en die ETF dié beweging navolg, stem jou verwagtinge en die opbrengs ooreen en neem dit die risiko weg.

Wat egter van ’n scenario waar jy as ’n aktiewe belegger ’n aandeel koop met die verwagting dat dit in waarde sal verdubbel, maar dan styg dit net met 50%? Dit bly wonderlik, maar is nie wat jy verwag het nie; die risiko hier is die laer as verwagte opbrengs. Pleks dat jy bly is oor die 50%-opbrengs, beskou jy dit as ’n mislukte belegging omdat die aandeelprys nie verdubbel het nie.

Om risiko só te beskou – op grond van uitkoms wat nie aan verwagtinge voldoen nie – is wydlopender en ook nuttiger vir beleggers. Dink byvoorbeeld aan die verwagting dat jy oor jou beleggingsleeftyd ’n bepaalde opbrengs op jou beleggings sal kry om aan jou ’n gemaklike aftrede te besorg. As die opbrengs laer is (al is dit positief) en nie aan jou verwagtinge voldoen nie, is die gevolg ’n kleiner aftreevoorsiening.

In die geval van aftrede is lewensverwagting ’n ander verwagtingsrisiko om in ag te neem. Leef jy langer, kan dit beteken jou geld sal opraak. Die les vir beleggers is om kennis te neem van ons verwagtinge. Ja, ons koop aandele omdat ons ’n wins wil sien en inderdaad ’n wins wat mettertyd ons maatstaf (die mark) moet klop.

Een van die wonderlike dinge van belê is dat jou daalrisiko tot 100% beperk is, want ’n belegging kan net tot op nul daal.

Ons moet egter ook realisties wees met ons verwagtinge – nie alleen in die sin dat ons verkeerd kan wees en ’n verlies maak nie, maar ook wat die stygpotensiaal betref. Om te verwag elke aandeel wat ons koop sal sommer gou-gou tien keer soveel werd wees, is ’n enorme risiko want min aandele presteer só goed.

’n Manier om dit te bestuur, is natuurlik realistiese verwagtinge en om te aanvaar ons kan swakker presteer as verwag. Om dié verwagtinge te bestuur, behels deels dat ons voortdurend moet vra wat die prys sal laat styg.

’n Groeiende mark, wat die sakeonderneming sal bevoordeel, of miskien prysbepalingsmag wat pryse en daarom marges en winste sal laat toeneem?

Om dié verwagtinge te bestuur, behels deels dat ons voortdurend moet vra wat die prys sal laat styg.

Nog ’n rede waarom aandeelpryse styg, is as die aandeel hoër heraangeslaan word. Dit verhandel miskien op ’n prys-verdienste-verhouding van 10 keer, maar ons verwag dit sal tot op 15 keer styg en dié heraanslag alleen sal die prys met sowat 50% laat styg, sonder dat wins of markaandeel toeneem.

Pasop egter, want ons kom teen presies dieselfde risiko te staan: ’n verwagting dat die mark die aandeel hoër sal heraanslaan. Wat sal die rede vir die heraanslag wees en wat as ons verwagting nie vervul word nie? Wees dus uiters bedag op jou verwagtinge. Is dit realisties? En wat sal die uitwerking wees as dit nie verwesenlik word nie?

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.