Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Belegging in wrede tye
13 September 2018

Suid-Afrika se ekonomie het vasgeval en die vooruitsigte op ’n vinnige herstel uit die resessie is sleg, aangesien die land se nuwe leierskorps worstel met die koste van ’n dekade se wanbestuur.

Boonop kry ontluikende markte tans ’n loesing en die globale omstandighede is aan die versleg weens ’n groeiende handelsoorlog. Nuus dat die ekonomie in die tweede kwartaal van vanjaar gekrimp het, was nie heeltemal uit die bloute nie. Finansiële markte is egter geskok oor die omvang van die afwaartse draai, en het die rand swaar gestraf.

Rentekoersverhogings later vanjaar is nou onvermydelik, aangesien die swak geldeenheid inflasie sal aanblaas. Ekonome is nou inderhaas besig om hul groei-vooruitsigte vir die jaar aan te pas tot onder 1%, aangesien die hoop op ’n versnelling in die ekonomie nou tot niet is.

Jacob Zuma, oudpresident

Nuus dat investering ook vir die tweede kwartaal agtereenvolgens gekrimp het, plaas nou druk op die regering se poging om weer die sakesektor se guns terug te wen nadat vertroue tydens die Zuma-administrasie verbrokkel het. Die slegte nuus mag egter dalk net ’n wekroep wees vir die African National Congress (ANC). Dié party spring tans rond tussen botsende prioriteite om die sakesektor weer aanboord te kry met broodnodige strukturele ekonomiese hervorming én om populêre steun vir volgende jaar se verkiesing te wen.

“Ons is nog besig met die uitvloeisels van die Zuma-jare – dit is wat ons geërf het,” sê Standard Bank se hoofekonoom, Goolam Ballim. “SA se ekonomie is in ernstige moeilikheid, maar dit is nie op die randjie van die afgrond van strukturele ineenstorting nie. Die ironie is dat hierdie dalk die laagtepunt is.”

Dis moeilik om te sien hoe die regering vanjaar die geld gaan kry vir ’n groot oorskryding van sy loonrekening vir die openbare sektor, ’n nuwe reddingspakket vir ondernemings in staatsbesit en stappe om die ekonomie te stimuleer, veral omdat die onverwagte groeiverlangsaming tot minder belastinginkomste sal lei.

Planne om grondhervorming te versnel sal onvermydelik meer staatsfinansies dreineer, terwyl die gebrek aan duidelikheid oor hoe die sensitiewe proses van onteiening sonder vergoeding sal werk, die vooruitsig van ’n onmiddellike verbetering in investering in die private sektor knou.

Die paradoks is dat die baie openbare proses om korrupsie in staatsgeledere uit te roei en dié uit te skop wat daarvoor verantwoordelik is, die pessimisme in die land vererger het toe dit duidelik geword het dat daar nie ná die uitskop van oudpresident Jacob Zuma in Februarie ’n kitsoplossings vir die probleme sal wees nie.

President Cyril Ramaphosa

Die kommer neem toe dat sommige van president Cyril Ramaphosa se beloftes dalk onbekostigbaar sal wees met dié dat sowel plaaslike as buitelandse beleggers planne tot ná aanstaande jaar se verkiesing uitstel – wanneer dit duideliker behoort te wees of die beplande ekonomiese hervormings sakevriendelik sal bly. Dit is onvermydelik dat die tesourie sy begrotingsteikens en skuldvooruitskattings vir die jaar sal mis.

Maar ’n skuldafgradering deur Moody’s Investors Service bly nietemin onwaarskynlik. Dit is die enigste internasionale graderingsagentskap wat Suid-Afrikaanse skuld tans op beleggingsgraad het. Moody’s het middel Augustus in ’n aantekening gesê al sal “fiskale agteruitgang” waarskynlik vanjaar in Suid-Afrika voorkom, verwag hy steeds dat die mediumtermyn-teikens binne bereik sal bly vanweë die regering se prestasiegeskiedenis met die hantering van bestedingsperke.

Die toenemende krisis in ontluikende markte vererger die ekonomie se ellendes, met besmetting deur lande soos Turkye en Argentinië wat kapitaaluitvloei en randdepresiasie veroorsaak. Die rand het op 5 September tot R15,62 teenoor die dollar geval – sy laagste vlak in twee jaar.

Die geldeenheid behoort oor die korttermyn gedeeltelik te herstel, aangesien die onlangse afverkoop hoofsaaklik ’n aanduiding is van “vinnige geld” wat Suid-Afrikaanse bates afgeskud het. Baie hang egter af van gebeure in ander ontwikkelende lande, sê John Cairns, wisselkoersstrateeg by Rand Merchant Bank.

“Op die oomblik is dit ’n wrede siklus,” sê Isaah Mhlanga, hoofekonoom van Alexander Forbes. “Die sakesektor verwag swak groei en stel daarom investering uit – wat die ekonomie verder verswak. Die beleidsomgewing is tans baie onseker. “Buitelandse beleggers is nie bereid om Suid-Afrika se ekonomie aan die gang te kry nie; hulle wil daaraan deelneem. Dit hang van plaaslike beleggers af. Nie veel gaan voor die verkiesing gebeur nie.” Daar is nog nie ’n datum nie, maar dit sal in April wees.

“Die volgende twee kwartale sal baie moeilik wees, maar as ons eers deur die verkiesing is, kan die lewe beter lyk. ’n Sterk herstel is moontlik as Cyril ’n ware mandaat kry.”

Stop die gate toe

Khaya Gobodo, Besturende direkteur van Old Mutual Investment Group

“Ons kan daaroor debatteer, maar die werklikheid is dat sake sleg lyk,” sê Khaya Gobodo, besturende direkteur van Old Mutual Investment Group. “Die volgende twee kwartale sal baie moeilik wees, maar as ons eers deur die verkiesing is, kan die lewe beter lyk. ’n Sterk herstel is moontlik as Cyril ’n ware mandaat kry. Ek dink die sakesektor sal sy kant bring.”

Sakevertroue het in die tweede kwartaal skerp verswak ná die verbetering danksy euforie oor die verandering in die land se leierskorps. Drie vyfdes van die respondente wat vir die toonaangewende RMB-BEO-indeks uitgevra is, sê toestande is onbevredigend.

Die vervaardigingsektor is die kwaaiste getref. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se jongste kwartaalblad toon dat die tekort op die lopende rekening – sy wydste maatstaf van handel in goedere en dienste – in die eerste kwartaal van die jaar tot 4,8% van die bruto binnelandse produk (BBP) toegeneem het – die grootste tekort in amper vier jaar. Dit is hoofsaaklik omdat die handelsbalans vir die eerste keer in amper twee jaar ’n tekort getoon het.

In dieselfde tydperk het bruto vastekapitaalvorming – ’n aanwyser van regstreekse investering – met 3,2% teenoor die vorige kwartaal afgeneem. Die werkloosheidskoers het weer tot bo 27% gestyg, en as mismoedige werksoekers wat opgehou werk soek het in berekening gebring word, is die werkloosheidskoers 37,2%.

Die amptelike syfers toon ook dat meer as die helfte van mense tussen 15 en 24 nie werk het nie – ’n tikkende tydbom vir die samelewing. Kredietafgradering is beslis ’n moontlikheid in 2019, met dié dat die tesourie vanjaar waarskynlik ’n bykomende R8 miljard tot R10 miljard vir lone in die openbare sektor sal moet opdok, wat 35% van sy besteding absorbeer, asook ’n bykomende R59 miljard om sukkelende staatsondernemings te red – wat die grootste gevaar vir die land se ekonomie inhou. Die regering het ook ’n stimuleringspakket van R43 miljard belowe.

Daar word wel gesê dat dít verkry sal word deur bestaande bestedingsplanne rond te skuif eerder as om meer fondse uit die staatskas te haal. Die besluit om die mandjie items te vergroot wat van belasting op toegevoegde waarde (BTW) uitgesluit is om die armes te help, sal die inkomste wat vanjaar uit die verhoging van die BTW-koers verwag is, met sowat R4 miljard verminder. Ramaphosa se belofte om die planne vir nasionale gesondheidsversekering vol te hou, sal in die volgende paar jaar ’n bykomende las op die staatsfinansies plaas, al is dit onduidelik hoe groot dié uitgawe sal wees.

Betogers met plakkate tydens 'n protes oor onwettige grondbesetting in Lenasia, suidwes van Johannesburg.
Een van die min winsgewende ondernemings in staatsbesit en een van die grootste leners aan kommersiële boere, waarsku dat as grondhervorming nie behoorlik uitgevoer word nie, hy dalk nie sy skuld sal kan betaal nie en ’n staatsreddingspakket van R41 mjd. sal benodig.

Die grondkwessie

Die grootste onbekende faktor in dié stadium is hoe grondhervorming sal werk weens die moontlikheid en indruk dat eiendomsregte in gedrag is. Daar is algemene konsensus dat grondhervorming noodsaaklik is weens inkomste-ongelykheid en armoede, wat albei vererger het sedert apartheid meer as twee dekades gelede geëindig het.

Kommunikasie oor die kwessie veroorsaak senuweeagtigheid onder grondeienaars en beleggers. Ramaphosa het belowe dat grondhervorming nie toekomstige beleggings in die land sal ondermyn of landbouproduksie of voedselsekerheid sal knou nie. Dit is tans moeilik om te sien hoe onteiening sonder vergoeding kan plaasvind sonder dat dit – ten minste aanvanklik – ’n negatiewe uitwerking op die ekonomie sal hê.

Handelsbanke hou meer as R100 miljard se lenings wat met landbougrond gedek word, en as die waarde van dié bates ineenstort, kan dit die land se finansiële stelsel destabiliseer.

Die Land Bank, een van die min winsgewende ondernemings in staatsbesit en een van die grootste leners aan kommersiële boere, waarsku dat as grondhervorming nie behoorlik uitgevoer word nie, hy dalk nie sy skuld sal kan betaal nie en ’n staatsreddingspakket van R41 miljard sal benodig. As die proses egter goed gehanteer word, kan dit op langer termyn wel voordelig vir sowel maatskaplike stabiliteit as meer inklusiewe ekonomiese groei wees. Een punt wat sowel kritici as ondersteuners mis, is dat grondonteiening ook goed geleë stedelike grond vir laekoste-behuising sal teiken, wat dit vir meer mense moontlik sal maak om nader aan hul werk en werksgeleenthede te woon.

Internasionale onstuimigheid

George Glynos, Besturende direkteur van Econometrix Treasury Management

Gobodo is positief oor die land se langtermyn-vooruitsigte. Die grootste toekomstige gevaar is egter dat die internasionale ekonomie sal tuimel net sodra Suid-Afrika sy sake regkry – ’n siening wat ander ontleders deel. “Suid-Afrika kan binne twee jaar in ’n veel desperater posisie wees as ’n wêreldwye afswaai voorkom,” sê George Glynos, besturende direkteur van Econometrix Treasury Management.

“Die gebrek aan fiskale beweegruimte is ’n brandende kwessie – ons moet genoeg beskerming hê om die ekonomie teen ’n moontlike wêreldwye afswaai te beskerm.”

George Yeo Singapoer se voormalige minister van buitelandse sake en handel

George Yeo, voormalige minister van buitelandse sake en handel van Singapoer, het op 31 Augustus gewaarsku dat die toenemende handelsoorlog tussen Amerika en China tot ’n “internasionale ekonomiese krisis” kan lei.

President Donald Trump van Amerika het sanksies teen nog lande ingestel en gedreig om Amerika aan die Wêreldhandelsorganisasie te onttrek, wat internasionale handelsvloei sal ontwrig.

Adrian Saville, Stigter en uitvoerende hoof van Cannon Asset Managers

Sover bly die groei in die wêreld se grootste ekonomie sterk, maar ontleders sê voortgesette aansporings met belastingverligting deur Trump se regering kan dit laat oorverhit, wat die Federale Reserweraad sal dwing om rentekoerse skerp te verhoog. Dit sal verdere dollar-appresiasie veroorsaak, wat groter druk op ontluikende markte se geldeenhede en groter internasionale risiko-afkeer sal veroorsaak – wat tot verdere buitelandse verkope van Suid-Afrikaanse effekte en aandele sal lei.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

WENKE VIR ANGSTIGE BELEGGERS

Finansiële beplanners versoek angstige Suid-Afrikaners om te wag en nie paniekerig oor hul beleggings te raak nie. Dít, ondanks die geraas en bespiegeling oor hoe die regering se nuwe grondhervormingsbeleid sal verloop, die jongste skerp daling in die rand en kommer oor die ekonomie in ’n resessie is.

Daar was ’n taamlike vloei van geld uit die land sedert die ANC einde verlede jaar op sy verkiesingskonferensie besluit het om ’n beleid van grondonteiening sonder vergoeding na te streef.

Daar is selfs aanduidings dat mense dit oorweeg om hul eiendom te verkoop en die geld in die buiteland te belê. Beleggers moet – soos altyd – in onseker tye wag en by hul langtermyn-strategie bly – wat lang termyn resultate sal lewer, sê beplanners

“Hou op om op die negatiwiteit te fokus – negatiwiteit veroorsaak meer negatiwiteit. Staan terug en kry die geheelbeeld. Jy kan dit met ’n gebalanseerde portefeulje oorleef.

Dit gaan oor jou ingesteldheid,” sê Barrie van Zyl, senior bestuurder by Alexander Forbes. “Praat met professionele mense. Moenie probeer slim wees en besluite in ’n emosionele toestand neem nie.”

Beleggers kan groter gemoedsrus kry deur seker te maak dat hulle noodspaargeld het en belastingvrye spaarrekeninge benut terwyl hulle 30% tot 40% van hul geld in die buiteland hou. Hulle kan ook alternatiewe beleggings - soos kuns - oorweeg, sê hy.

Adrian Saville, stigter en uitvoerende hoof van Cannon Asset Managers, sê daar is ’n sterk argument vir beleggings in klein of middelslagmaatskappye wat ’n moeilike dekade deurstaan het. “Plaaslike beleggers is verlei deur die swak rand en maatskappye soos Naspers*, Richemont en SAB Miller [deur AB InBev],” sê hy.

“Dit mag voel soos die mees riskante plek, maar dit is ’n baie interessante plek om te bekyk.” Kleiner maatskappye wat ondanks trae ekonomiese groei en politieke onsekerheid floreer, het ’n “oortuigende veelvoud, sterk bestuur, goeie sakemodel en sterk balansstaat,” sê hy.

Hy noem verskeie maatskappye as goeie voorbeelde. Een is Sabvest, ’n beleggingsbeheergroep met R1,6 miljard in Suid-Afrikaanse bates, R900 miljoen in buitelandse bates en ’n saamgestelde jaarlikse groeikoers van meer as 20%.

Nog een is Combined Motor Holdings, nog ’n beleggingsbeheergroep wat hoofsaaklik by verspreiding en franchisesake, motorkleinhandelaars, motorhuur en die plaaslike skeepvaart- en ontspanningsektor betrokke is.

Saville beveel ook Hudaco Industries aan – ’n Suid-Afrikaanse groep wat in die invoer en verspreiding van handelsmerkverbruiksprodukte van hoë gehalte in die motor-, nywerheid- en elektriese sektor, veral in Suid-Afrika, spesialiseer. 

Meer oor:  Ekonomie  |  Finweek  |  Belegggings  |  Finansiële Beplanning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.