Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Belegging om kapitalisme vir almal te laat werk
25 Junie 2020
Johan Fourie is ’n medeprofessor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

Sedert die term “kapitalisme” in die 19de eeu geskep is, is dit verkeerd verstaan. Dit is oorspronklik gebruik as kritiek op die toenemende inkomstegaping tussen fabriekswerkers en fabriekseienaars. Maar tot in die vroeë 20ste eeu is dit selde gebruik; Karl Marx het die woord slegs ’n paar keer in sy latere geskrifte gebruik.

In 1908 het die ekonoom Thorsten Veblen verduidelik dit as ’n sosialistiese term gebruik vir ’n “grootskaalse nywerheidsregime” – nie presies soos ons dit vandag gebruik nie.

Verskillende betekenisse 

Die term het in die 20ste eeu ontwikkel om baie dinge vir baie mense te beteken. As ek my voorgraadse ekonomiesegeskiedenisklas moet vra vir ’n definisie, sal ek soveel antwoorde kry as wat daar studente is. Party sal dit omskryf soos die Franse sosialis Louis Blanc dit in 1850 gedoen het: Kapitalisme is die doodsvyand.

Maar die meeste sal dit hopelik soos Wikipedia omskryf: ’n ekonomiese stelsel gebaseer op privaatbesit en die winsmotief.

Maar is dit regtig wat dit is? Ons beskou nie Mali van die 14de eeu, China van die 11de eeu, Frankryk van die 9de eeu, die Maja-ryk van die 6de eeu of die Romeine in die eerste eeu van die Gregoriaanse kalender, of selfs die antieke Sumeriërs van 6 000 jaar gelede, as besonder kapitalisties nie. Tog is daar oortuigende nuwe bewyse dat privaateiendom en die winsmotief in amper al dié beskawings bestaan het.

Maar die meeste sal dit hopelik soos Wikipedia omskryf: ’n ekonomiese stelsel gebaseer op privaatbesit en die winsmotief.

Dink aan twee bekende stories: In Genesis (ongeveer 1500 v.C.) word Josef, die seun van Jakob, deur sy broers aan Mediërhandelaars verkoop; 1 500 jaar later het Jesus die handelaars en geldwisselaars uit die tempel verdryf. Hulle het sekerlik eiendomsreg op hul goedere gehad, en wou wins maak.

Was antieke Israel dan kapitalisties? Min mense sal daarmee saamstem.

Wat is kapitalisme dan? In The Information Nexus stel historikus Steven Marks voor dat kapitalisme gaan oor toegang tot inligting. Handelaars van antieke tye tot die hede is op soek na een ding: meer inligting om hulle te help om beter besluite te neem.

Hy verduidelik: “Dit is juis omdat die beskikbare inligting onvolmaak is, dat hulle daarna streef om soveel moontlik in te samel: hoe meer hulle daarvan het en hoe vinniger hulle dit bekom, hoe beter is hulle in staat om besluite te neem wat hulle help om wins te maak en hul mededingers te klop.

Die insameling van inligting beteken vir ’n maatskappy ’n vermindering van transaksiekoste, onsekerhede en risiko’s, en dus beter geleenthede.”

Foto: Shutterstock
Foto: Shutterstock

Ontstaan van kapitalisme

Kapitalisme soos ons vandag daaraan dink, het rondom die 17de eeu in Noordwes-Europa ontstaan. Nuwe wetenskaplike uitvindings soos die drukpers en later die telegraaf het die versameling en vinnige oordrag van inligting moontlik gemaak. Maar dit was nie genoeg om hierdie dinge net uit te vind nie; die Chinese het die drukpers veel vroeër uitgevind.

Europese samelewings het ook politieke regimes ingestel, miskien weens mededinging met sterker bure, wat ’n kultuur van oopheid bevorder het, en entrepreneurs het voordeel getrek uit die beskikbare inligting. Vernuwing in die snelheid van die insameling en oordrag van inligting het in die 20ste eeu voortgeduur.

Henry Ford se monteerbaan was die hoogtepunt van ’n lang reeks ontwikkelinge wat verband hou met die versameling van inligting in vervaardiging.

Die studie van bestuur, bemarking en verspreiding het in die 20ste eeu wetenskaplike vakke geword. Die opkoms van die korporatiewe reus was nie vanweë ’n groter begeerte vir wins nie – dít was nog altyd daar. Dit was weens dié besighede se sukses met die verkryging en ontleding van groot hoeveelhede inligting.

Henry Ford se monteerbaan was die hoogtepunt van ’n lang reeks ontwikkelinge wat verband hou met die versameling van inligting in vervaardiging.

Die rekenaar- en IKT-omwenteling het dit versterk.

Wat beteken dít vir die 21ste eeu – en veral Suid-Afrika?

As kapitalisme omskryf word as toegang tot vinnige en betroubare inligting, sien ek drie redes vir optimisme en drie aspekte om oor bekommerd te wees.

Eerstens het ons ’n vrye pers, op gelyke voet, volgens die wêreldpersvryheidsindeks, met gebiede soos Kanada en die Verenigde Koninkryk.

Tweedens het ons ’n betreklik deursigtige (hoewel opgeblase) staatsdiens; die Nasionale Tesourie was verlede jaar saam met Nieu-Seeland gesamentlik eerste in die Open Budget-indeks, wat deur die International Budget Partnership saamgestel word.

Derdens het ons uitstekende wetenskaplikes en universiteite relatief tot ons inkomstevlak. Hulle is die belangrikste bron van vernuwing in ’n era waarin data-wetenskap en die toepassing daarvan ’n belangrike uitwerking het op hoe ons sake doen. Maar ons kan beter doen. SA bly ’n ongelooflik ongelyke samelewing. Diegene van ons wat in stedelike gebiede met toegang tot optieseveselnetwerke woon en werk, het die wêreld byderhand. Ons kan etes en maskers aanlyn bestel. Maar dit is nie vir almal so nie.

In die voormalige tuislande is toegang tot mediese advies, werkgeleenthede, gehalte-onderwys, goedkoop finansiering en die vele ander dinge wat toegang tot inligting vereis, onbeskikbaar. Om dit reg te stel, vereis aansienlike beleggings in optiesevesel- of gelykwaardige tegnologieë, asook regulatoriese vordering met die opveiling van bykomende breëbandspektrum aan operateurs wat hierdie markte kan bedien.

Tweedens is die kommersiële model van die pers onder druk.

Tweedens is die kommersiële model van die pers onder druk.

In een opsig is dit goed: dit waarvoor ons gewoonlik moes betaal, is nou met die druk van ’n knoppie gratis. Maar die pers bied nie net inligting nie – dit lê ook korrupsie bloot, bied meningsverskille en dra by tot openbare debat, wat vir enige demokrasie noodsaaklik is. Daar is geen eenvoudige oplossing hier nie. Net soos met enige goedere of dienste, moet joernaliste teen die markkragte getoets word – maar ’n vrye pers bied ook aansienlike positiewe voordele, wat alternatiewe finansiering vereis.

Derdens moet ons nie die rewolusie in kunsmatige intelligensie (KI) wat reeds begin het, mis nie. In Mei het China ’n beleggingsplan van $2 000 miljard aangekondig in infrastruktuur wat fokus op 5G-infrastruktuur, KI-proefsones, grootdatasentrums, nywerheidsinternetplatforms, hoëspoedspoor en laai-infrastruktuur vir elektriese voertuie. As ons ’n ekonomie wil hê waar inligtingsverwerking, -ontleding en -voorspelling ons entrepreneurs ’n voorsprong gee, moet ons nou hierin belê.

  • Stuur 'n boodskap na terugvoer@finweek.co.za
  • Johan Fourie is ’n medeprofessor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.


Meer oor:  Finweek  |  Kapitalisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.