Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Doen self deeglike huiswerk voordat jy belê
16 Augustus 2018
DIY image

'n Noulettendheidsondersoek word gedoen deur een onderneming wat ’n ander een wil koop. Basies beteken dit dat die koper ondersoek sal instel om te verseker dat die beloftes oor die onderneming wat hy koop, waar is.

Dis nie te sê dat die maatskappy wat gekoop word perfek hoef te wees nie; dit kan dalk selfs ’n maatskappy wees wat in die moeilikheid is. Die noulettendheidsondersoek sorg dat daar geen verrassings is wanneer die aankoop voltrek is nie.

Beleggers is gedurig besig met hul eie noulettendheidsondersoeke. Jy stel ondersoek in na die aandele wat jy koop, en kyk verder as slegs ’n dividendbetaling of prys-tot-verdienste-inkomste. Genoteerde maatskappye maak dit ietwat makliker omdat hulle die reëls moet volg om ’n maatskappy te wees, en die JSE se noteringsreëls moet volg. ’n Genoteerde maatskappy is dikwels in die media, terwyl die batebestuursbedryf ook die aandele sal fynkam.

Desondanks glip party probleme (soos Steinhoff) tog deur en ons eindig met ’n vrot eier. Maar ’n onlangse vlaag e-posse wat ek ontvang het, het my laat besef dat beleggers transaksies met groot bedrae geld aangaan, dikwels sonder ’n deeglike noulettendheidsondersoek.

Wanneer jy ’n kar koop, behoort jy nie net bekommerd te wees oor die prys, die afstand afgelê en die model nie – jy behoort ook sy ry-en dienskoste in ag te neem.

Terwyl ’n groot deel van dié ondersoek maklik genoeg is, word beleggers dikwels verblind deur die transaksie self en doen geen noulettendheidsondersoek nie. Wanneer jy ’n kar koop, behoort jy byvoorbeeld nie net bekommerd te wees oor die prys, die afstand afgelê en die model nie – jy behoort ook sy ry-en dienskoste in ag te neem.

As ’n mens ’n huis koop, is dit maklik om daarop verlief te raak en na te laat om al die snuffelwerk te doen; dit grens dalk aan ’n besige straat of het strukturele probleme ...

’n Klein bietjie moeite en kosteberekening kon die potensiële slaggate uitgewys het. Maar wat my regtig bekommer, is die onlangse e-posse oor “alternatiewe beleggings", of “beleggingsghoeroes” wat toe net skelms was. Beleggers word in sulke gevalle dikwels verblind deur óf beloftes van skitterende opbrengste, óf die uitsonderlikheid van die belegging.

’n Vraag wat onlangs gereeld opgeduik het, was oor beleggings in lewende hawe. Verskeie instellings bied aan beleggers die opsie om ’n koei te koop. Behalwe dat mense weining kennis oor beesboerdery het, is daar dikwels geen noulettendheidsondersoek oor die operateurs gedoen nie.

Met iets soos dié is daar geweldige risiko in die ander party, omdat daar geen toesighoudende liggaam of regulatoriese beurs is wat ’n mate van beskerming bied as die operateur bankrot speel, of selfs erger, met jou geld verdwyn nie.

In só ’n situasie is jou enigste kans om jou geld terug te kry gewoonlik deur die howe, wat ten beste ’n stadige en duur proses is. Ek het ook ’n paar gruwelverhale gehoor van mense wat hulle geld aan iemand toevertrou het wat dit vir hulle sou bestuur en boonop fantastiese opbrengste beloof het.

Gewoonlik is dié aan die meer eksotiese kant van beleggings, met ’n onlangse een op binêre olie-opsies uit Amerika. In dié geval het die belegger al sy geld verloor en presies geweet wie verantwoordelik is. Maar, weer eens, die enigste uitweg was deur die howe en die koste maak dit onmoontlik. In dié geval het die belegger, nadat hy reeds al sy geld verloor het, ’n Google-soektog gedoen en ontdek dat die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (GOFS) beleggers oor die betrokke individu gewaarsku het.

Die belegger het erken dat hy ’n wye draai om hom sou geloop het as hy die google-soektog sou gedoen het voordat hy sy geld oorhandig het. Meer onlangs is ’n nuwe plaaslike kriptomunt bekendgestel en dit het my slegs vyf minute se navorsing geneem om vas te stel dat hierdie munt ongeldig was.

Onthou gerus maar die ou spreukwoord: “As dit te goed klink om waar te wees, is dit klaarblyklik so”. Moet nooit toelaat dat jy verblind word deur moontlike opbrengs nie. Doen altyd jou eie deeglike noulettendheidsondersoek. ’n Google-soektog is dikwels die maklikste beginpunt. Onthou dit is jou geld, en niemand gee soveel daarvoor om as jy nie; jy moet dus die moeite doen om dit te beskerm.

* Stuur 'n e-pos aan terugvoer@finweek.co.za


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.