Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Beleid wat ekonomiese groei kan bring
7 November 2019
Bill Easterly, professor in ekonomie aan die Universiteit van New York

Bill Easterly, professor in ekonomie aan die Universiteit van New York en mede-direkteur van die Instituut vir Ontwikkelingsnavorsing, het baie oor die slaggate rakende ontwikkelingshulp geskryf.

Hy is ook mede-redakteur van Journal of Economic Growth, skrywer van The Elusive Quest for Growth en een van die wêreld se vooraanstaande kundiges oor ekonomiese groei en die faktore wat dit beïnvloed.

Easterly het al baie kritiek gelewer teenoor die Washington-konsensus, wat ’n pakket van markgerigte hervormings is wat in die 1980’s en 1990’s deur instellings soos die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die Wêreldbank voorgestel is. Die beleid word breedweg as “neoliberalisties” beskryf.

Dié beleid is veral streng toegepas op baie lande in Afrika wat in die 1980’s deur ’n krisis getref is, toe die IMF tussenbeide moes tree en “strukturele aanpassingsprogramme” moes voorskryf om te help om baie van dié ekonomieë tot solvensie terug te bring. Ernstige begrotingsbesnoeiings was dikwels deel van dié hervormingsvereistes.

Dit is waarom baie Afrikalande steeds nie net voel dat hierdie programme nie suksesvol was nie – groei het nie onmiddellik teruggekeer nie – maar dat die IMF en die Wêreldbank eenvoudig kwaaddoeners is.

Dit is nie net in Afrika dat hierdie beleid ’n slegte reputasie het nie. Akademiese ekonome, veral Dani Rodrik, ’n professor in internasionale politieke ekonomie aan Harvard se Kennedy-skool en ’n lid van Cyril Ramaphosa se ekonomiese adviesraad, is krities teenoor hierdie hervormings in Afrika en Latyns-Amerika.

In 2006 skryf hy: “Voorstanders en kritici is dit eens dat die beleid wat die Washington-konsensus opgestel het, nie die gewenste resultate gelewer het nie . . . dit is korrek om te sê dat niemand regtig meer in die Washington-konsensus glo nie. Die gesprek is nou nie oor of die Washington-konsensus dood of lewendig is nie, maar oor wat dit sal vervang.”

Vroeër vanjaar het Rodrik saam met twee jong ekonome, Suresh Naidu en Gabrial Zucman, ’n artikel geskryf waarin ’n “ekonomie ná neoliberalisme” bespreek word. Maar miskien moet die skynbare gebrek aan sukses van die neoliberale hervormings in die 1980’s en 1990’s nie so vinnig verwerp word nie.

Dít, kortliks, is Bill Easterly se argument in sy jongste werksdokument by die nasionale buro van ekonomiese navorsing (NBER). Hy sê dat “swak beleid”, soos swartmarkpremies bo 40% of inflasiekoerse bo 40%, in die 1980’s wêreldwyd algemeen was. As gevolg van neoliberale hervormings het die voorkoms van dié slegte beleid in die 1990’s aansienlik gedaal.

Die vreemde ding is dat hierdie “beleidsrevolusie” (sien grafiek) in die literatuur baie min aandag gekry het. Waarom was vorige kommentators dan juis so krities teenoor hierdie hervormings? Easterly sê: “As nuwe hervormings met soveel ophef as die Washington-konsensus aangekondig word, is daar druk om die hervormings so gou as moontlik te evalueer. Dit kan lei tot voortydige pessimisme oor hervorming voordat die hervormingsproses eers voltooi is en voordat genoeg post-hervormingsgroei beskikbaar is.

Latere resultate kan toon dat hierdie pessimisme verkeerd was, maar dan is daar baie minder belangstelling om hervormings op daardie punt te evalueer. Dít help om te verduidelik waarom dit so moeilik is om hervormings uit te voer en waarom regstellings aan buitengewone slegte beleidsuitkomste vertraag word.”

Met behulp van regressie-analise, wys Easterly dat die afname in slegte beleid sterk gekorreleer is met verbetering in ekonomiese groei. Toe die meeste kommentators in die middel van die 2000’s die impak van die beleidshervormings (of die gebrek daaraan) beskryf het, het hulle ’n Wêreldbank-datastel van 2001 gebruik wat nog nie die vinnige ekonomiese groei van baie lande sedert die 2000’s in ag geneem het nie.

Hoewel Easterly ook krities was teenoor die neoliberale hervormings – hy het byvoorbeeld in 2005 gesê dat “herhaalde (strukturele) leningsaanpassings geen positiewe uitwerking op beleid of groei toon nie” – is hy heeltemal bereid om sy mening op grond van nuwe bewyse aan te pas.

Die hervormings het blykbaar ’n diepgaande, maar vertraagde, impak gehad: Minder “swak beleid” het volgens hom ekonomiese groei veroorsaak, veral in gebiede soos Latyns-Amerika en Afrika, wat waarskynlik in die 1980’s en vroeër slegte beleid gehad het.

Johan Fourie is mede-professor in ekonomie aan Stellenbosch Universiteit.

Die les is voor die hand liggend: Die pakket van die Washington-konsensus se beleid – die verlaging van inflasie, die vermindering van regeringstekorte, die opheffing van staatsbeperkings op internasionale handel, die opheffing van subsidies en staatsbeheer – het daartoe bygedra om van swak beleid ontslae te raak.

Nadat die slegte beleid verwyder is, het ekonomieë begin groei, hoewel dit dikwels met ’n paar jaar vertraag is. Dít is veral relevant vir Suid-Afrika. Dit verg tyd voordat goeie beleidsrigtings slegte beleid vervang en voordat die goeie beleid ekonomiese groei begin bevorder. Laat ons nie in dieselfde strik van voortydige pessimisme val en die veranderinge sedert 2017 – al is dit stadig – ten gunste van goeie beleid van die hand wys nie.

Daar is geen kitsoplossings en geen alternatief nie: Soos die geskiedenis toon, is goeie beleid die enigste weg na die soort ekonomiese groei wat ons dringend nodig het.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Johan Fourie is mede-professor in ekonomie aan Stellenbosch Universiteit.

Meer oor:  Ekonomiese Groei  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.