Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Bemarking wat mense se lewens raak
6 Desember 2018
Gareth Leck en Pepe Marais, medestigters van Joe Public, is al sakevennote en vriende vir langer as 20 jaar.

Joe Public United, die advertensieagentskap, het vanjaar agt goue Loeries verower, is bekroon as die agentskap van die jaar en is met die Medium Sake-entrepreneurs van die jaartoekenning bekroon.

Daar was 189 ander sake-inskrywings in die Entrepreneur of the Year®-kompetis wat deur Sanlam en Business Partners geborg word. Maar die pad boontoe was vol hindernisse. Pepe Marais, medestigter van die maatskappy, het met finweek gesels.

Wat het jy gedoen voordat julle Joe Public begin het?

As ’n arm kind (gemeet aan ou Suid-Afrika se wit standaarde) was my doelwit as ’n skoolseun om ’n siviele ingenieur te word, ’n werk wat ek vereenselwig het met baie geld en ’n beter lewe. Ek het van plan verander ná ’n toevallige ontmoeting met ’n grafiese ontwerper by ’n lugmagbasis in Rundu, terwyl ek op pad huis toe was nadat ek my twee jaar van verpligte militêre diensplig verrig het.

Tot dan toe, het ek nooit eers daaraan gedink dat dit moontlik is om ’n bestaan uit my kreatiwiteit te maak nie. Ek het toe ná die weermag ’n grafiese ontwerpkursus by die Ruth Prouse School of Arts gedoen waar ek elke jaar eerste in my klas was. Daarna het ek vir ’n reklame-agentskap begin werk.

Op die stel van die Nedbank-kleinhandeladvertensie wat mense aanmoedig om nie net vir geld te leef nie.

Wanneer het julle met julle eie agentskap begin?

Ek en Gareth Leck het Joe Public in 1998 begin om reklame deursigtiger en toeganklik vir Jan Alleman te maak. Ons het ’n reklamemodel ontwikkel wat mense in staat gestel het om halfrou-, medium- of goedgaar-idees van ’n spyskaart af te bestel, soos wat jy ’n biefstuk in ’n restaurant kan bestel. Mense sou in ons kantore in Loopstraat in Kaapstad, wat soos 'n eetplek gelyk het, instap, vir ons sê wat hulle wil hê en hulle werk ’n paar dae later kry.

Waar het julle jul finansiering gekry om mee te begin?

Joe Public se kantoor in Bryanston in Johannesburg.

Ons het ’n belegger probeer kry, maar hulle wou ’n belang van 80% in die maatskappy hê wat ons glad nie geval het nie. In plaas daarvan het ons by Hirt and Carter ’n rekenaar afgesmeek in ruil waarvoor ons al ons drukwerk deur hulle sou doen.

Dit was ’n skitterende skuif vir albei partye, omdat ons die jongste Apple Mac by hulle gekry het wat ons kliënte erg beïndruk het, terwyl Hirt and Carter baie werk by ons gekry het. Die res van die bedrywighede het ons self gefinansier, wat nie te moeilik was nie omdat ons in ons middel 20’s was. Ons bedryfskoste en lewenskoste was laag en ons vorige poste het nie baie goed betaal nie.

Ek het vir ’n paar maande van my vrou se salaris geleef om vir die tekort in inkomste te vergoed, terwyl Gareth enkellopend was en sowat R3 000 verdien het, toe hy bedank het. Die eerste jaar was regtig swaar; ons het omtrent alles self gedoen en moes baie daarvan leer om ’n besigheid te bedryf. Teen die tweede jaar het ons egter ’n netto wins van sowat R1,5 miljoen gemaak.

Jy en Gareth is al vir sowat 20 jaar sakevennote. Hoe het dit gebeur?

Ons is aan mekaar voorgestel as voornemende sakevennote in ’n kroeg in Kaapstad. Ná ’n paar minute se gesels oor ditjies en datjies, blyk dit toe dat Gareth ’n baie goeie branderplankryer is.

Dit was soort van ’n terugslag omdat ek ’n roeiskiër was en branderplankryers tradisioneel neersien op roeiskiërs. Toe ek vir Gareth gesê het dat ek ’n roeiskiër was, het hy my ’n staaltjie vertel van hoe hy ’n “idiotiese roeier” gered het wat homself “flenters’ gery het teen die hawemuur by Mouillepunt.

Hy het in groot besonderhede uitgewei oor hoe hy sy lewe op die spel geplaas het om dié man te red. Ek kon nie die storie glo nie – nie omdat dit nie waar was nie – maar omdat ék daardie man was en nooit die volle verhaal gehoor het nie, omdat ek eers in die hospitaal my bewussyn herwin het. Op daardie oomblik het ons besef dat ons bestem was om saam “die stormagtige oseaan van reklame te trotseer”.

Hoe het julle jul eerste kliënte gekry?

Die meeste van ons kliënte was deur mondelinge vertelling. Ons eerste werk was om ’n logo vir ’n meubelmaatskappy genaaamd Full House te skep, wat van ons gehoor het deur ’n vriend van ’n vriend. Ons het van vreugde rondgespring toe ons daardie eerste tjek van R850 gekry het.

Deesdae, sal ons nie enige korporatiewe identiteite verkoop vir minder as R500 000 nie. Een van ons groot deurbrake het gekom toe Kalahari.net ons 10 dae gegee het om ’n TV-advertensie te ontwikkel. Ons het met die konsep- idee vorendag gekom van hoe die Khoi San woordraaisels speel om beroemde fliekname te beskryf. Kalahari.net was gaande oor die idee en ons, met ons beperkte ervaring, het daarin geslaag om nogal ’n ordentlike televisieveldtog saam te slaan in ’n baie kort tyd.

Het alles van daar af glad verloop?

Nee, ons het ’n vreeslike fout gemaak toe ons Joe Public in 2001 aan ’n Amerikaanse maatskappy verkoop het. Die transaksie was vir my aanloklik, omdat hulle aangebied het om ons “wegneemete”-konsep oorsee te neem, met ’n kantoor in New York.

Maar die transaksie het van ons korporatiewe manne gemaak en dinge het suur geword nadat die ekonomie ná 2011 in duie gestort het. Terug in die Suid-Afrikaanse kantoor, het ons regtig gesukkel om ons koppe bo water te hou, en nog meer nadat ons met nog ’n sukkelende maatskappy in Johannesburg saamgesmelt het.

In dié tyd het die maatskappy ook ’n kliënt verloor wat verantwoordelik was vir 40% van ons inkomste (nadat een van ons direksielede afgedank is en vir die kliënt gaan werk het). Meer as die helfte van ons personeel moes besnoei word om vir die verlies aan inkomste te vergoed. Dit het ons drie jaar se onderhandelings geneem om die besigheid terug te koop en teen die tyd wat ons dit teruggekry het, was dit bankrot. Dit was vir my ’n aaklige tyd omdat alles uitmekaar geval het – van my besigheid tot my huwelik.

Joe Public gee 'n plaaslike geur aan Chicken Licken se Wilde Weste Rock My Soul 3 Straight-advertensie.

Wat het jou deur hierdie moeilike tye gedra?

Op ’n keer moes ek advertensies beoordeel in ’n kompetisie terwyl ek soos ’n totale mislukking gevoel het. Ek het een oggend wakker geword, na myself in die spieël gekyk en vir een of ander onbekende rede het ek positief met myself begin praat. Ek het hardop vir myself gesê dat ek piekfyn was. Ek het dit sedertdien aanhou doen.

Dit het regtig ’n groot verskil in my lewe gemaak. Ek het ook groot lewenstylaanpassings begin maak in ’n poging om ’n meer verantwoordelike wêreldburger en rolmodel te word. Ek het baie kursusse gedoen om myself te probeer verbeter en het ’n geheelonthouer en veganis geword.

Hoe het die maatskappy gegroei sedert julle dit teruggeneem het?

Toe ons die besigheid in 2009 teruggekoop het, was ons inkomste R11 miljoen, ons het ’n bedryfsverlies en 30 mense in diens gehad. Verlede jaar het ons ’n omset van R700 miljoen gehad, bruto wins van R218 miljoen en ons het 287 mense wat vir ons werk. Ons het meer as 20 kliënte wat ons waardes deel, wat wissel van AB InBev, Anglo American, De Beers, Mercedes-Benz en Shell tot Chicken Licken, Nedbank en Clover.

Hoe het julle sakestrategie oor die jare verander?

Ons het ’n Joe Public met vennote in Amsterdam rondom 2011 begin wat steeds ons oorspronklike “wegneem”- model gebruik, met konsep-idees wat verkoop teen €11 000 stuk. In Suid-Afrika het die model nie langer vir ons gewerk nie omdat ons en ons kliënte gegroei het. Waar ons met relatief klein kliënte begin het, het ons nou groter kliënte bedien, wat ’n nuwe model benodig het om strategies ons hoë gehalte werk te handhaaf.

Dié verandering het gelei tot ’n meer kliëntgefokusde benadering, met meer klem daarop om ’n kliënt se besigheid én hulle kliënte te verstaan, omdat die uiteindelike doel met reklame is om met ’n spesifieke handelsmerk te assosieer. Dit het daartoe gelei dat ek persoonlik, en ons as maatskappy, baie selfondersoek gedoen het.

Ons soort besigheid het my die geleentheid gegee om mettertyd in die raadsale van meer as 20 van die grootste maatskappye in die land te sit. Ek het geleer dat ’n mens of besigheid nodig het om vir iets meer as wins te staan. Ons by Joe Public het groei geïdentifiseer as die hoofaandrywer van ons werk – groei van ons mense, groei vir ons kliënte en werk wat tot ’n beter Suid-Afrika bydra.

Jy sal dus sien dat as jy na ons advertensies kyk dat hulle primêr daarop gerig is om positiewe emosies en herinnerings te skep. Die probleem met die wêreld vandag is dat mense besigheid onderstebo benader. Daar is ’n ongesonde obsessie met wins, wat lei tot ’n nog groter kloof tussen die wat het en die wat nie het nie.

Joe Public laat mense hul verhouding met geld in heroënskou neem in hul Money Maker-advertensie vir Nedbank.

Hoe het die maatskappystruktuur verander sedert die terugkoop in 2009?

Joe Public het ontwikkel van ’n enkele aanbod tot ’n voldiens-, geïntegreerde groepaanbod. Ons gedigitaliseerde media- reklame-agentskap bied aan kliënte geïntegreerde oplossings met ’n kragtige impak, terwyl Joe Public Connect diep digitaal gespesialiseerde oplossings bied.

Joe Public Engage fokus op openbare betrekkinge, terwyl Joe Public Shift meer gefokus is op strategiese handelsnaamontwikkeling en ontwerp. Joe Public Ignite is soos ’n kleiner weergawe van die maatskappy in die geheel, en fokus op media- advertensies en innovering. Vir Jet, het dié afdeling byvoorbeeld vir Moedersdag ’n nuwe produk geskep in die vorm van vroue- skoene met boodskappe binne-in.

Vertel ons van julle School of Growth wat vanjaar geopen is.

Behalwe vir ons betrokkenheid sedert 2007 by twee townshipskole met minder bevoorregte leerders en te min hulpbronne, het ons die School of Growth aan die begin van 2018 begin.

Die meeste onderrigprogramme fokus slegs daarop om IK-gegronde vaardighede en kennis oor te dra. Ons fokus is daarop om afgeronde individue te skep deur ’n meer holistiese leerbenadering. Kursusse het ’n sterk fokus op die bou van emosionele intelligensie, geestelike intelligensie en persoonlike weerbaarheid. Die skool is tans net toeganklik vir ons eie personeel, maar sal geleidelik uitgebrei word tot gegradueerdes, kliënte en ander individue in die bedryf.

Wat sien jy as die grootste uitdaging vir jou, en vir die bedryf?

Maatskappye het geweldig middelmatig geword en skep basies net idees om geld te maak, in plaas daarvan om na iets groter te streef. Al het ons onsself as die bedryfsleier gevestig, meen ek daar is nog heelwat ruimte om ons kreatiewe produk te verbeter. 

* Stuur 'n boodskap vaterugvoer@finweek.co.za

* Foto's: Verskaf

Meer oor:  Advertensies  |  Joe Public  |  Bemarking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.